Skoolhoof ‘onbillik’ afgedank ná leerder verdrink

Malcolm Williams. (Foto: Facebook)

Parktown Boys’ High se skoolhoof, Malcolm Williams, moet dadelik in sy pos heraangestel word nadat hy in Desember verlede jaar afgedank is. Sy afdanking spruit uit die dood van Enoch Mpianzi, ʼn gr. 8-leerder by die skool wat tydens ʼn oriënteringskamp verdrink het.

Die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (ELRC) het Dinsdag beslis Williams moet weer op 1 Julie by die skool aanmeld. Sy aanstelling is terugwerkend vanaf 8 Desember verlede jaar. Die raad het die hoof as “begaafd” en “verantwoordelik” bestempel en die Gautengse LUR vir onderwys gekap oor die hantering van die saak. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het dié uitspraak verwelkom.

Die Gautengse departement van onderwys het Williams afgedank nadat hy skuldig bevind is op twee aanklagte van wangedrag. Die departement het ná die seun se dood ʼn ondersoek na die verloop van gebeure van stapel gestuur en Williams is op twee van die drie klagte teen hom skuldig bevind. Hy het daarteen geappelleer.

Williams het in sy appèl onder meer aangevoer dat sy afdanking prosedureel onbillik was omdat die LUR vir onderwys in die provinsie, Panyaza Lesufi, ná Enoch se dood nou betrokke by die saak was.

Lesufi het onder meer verklarings daaroor in die media gemaak wat volgens Williams die LUR se vermoë om sy appèl teen die beslissing onpartydig te beoordeel, in die gedrang gebring het.

Volgens die departement was Williams skuldig aan die aanklagte teen hom omdat hy as skoolhoof die finale rekenpligte amptenaar van die skool is.

Die raad se uitspraak lui egter dat die skuld – dat die toestemmingsaansoek om die uitstappie te onderneem nooit oorweeg is nie – by die departement berus.

“Die respondent [Gautengse departement van onderwys] het ʼn intern van ʼn heeltemal ander staatsdepartement getaak met die verantwoordelikheid om die aansoek te ontvang en na die kantoor van die distriksdirekteur te stuur.

“Daar kan rederlikerwys selfs van ʼn onervare intern verwag word om die basiese navrae te doen oor waarheen die aansoek moet gaan. Dit is moontlik dat hy/sy nie billik opgetree het nie deur Parktown Boys’ High se uitstappieaansoek in ʼn lessenaarlaai te plaas,” lui die bevinding.

Williams het getuig dat die departement ʼn geskiedenis het dat hy aansoeke eers oorweeg nadat die uitstappies reeds plaasgevind het.

Die raad het bevind geen tugstappe sou waarskynlik teen Williams gedoen word, sou dit nie was vir Enoch se tragiese dood nie. Volgens die ELRC moes die departement lyk of hy iets aan die saak doen omdat daar groot druk was om iemand vir die voorval aanspreeklik te hou.

“Die ooglopende persoon was die skoolhoof.”

Die raad het voorts bevind die Gautengse onderwysdepartement mag nie toegelaat word om Williams deur “onverwante agterdeure” – wat hom uitmaak as ʼn onverantwoordelike skoolhoof – aanspreeklik te probeer hou nie. Dít terwyl die departement die aandag van sy eie tekortkominge probeer aflei.

Volgens die raad was dit ook “verrassend” dat Lesufi hom nie uit sy eie aan Williams se appèlsaak onttrek het nie.

Daar is bevind dat Williams se afdanking prosedureel beslis onbillik was.

“Selfs in hierdie ongelukkige situasie vind ek dat die applikant sy uitsonderlike leierskap- en bestuursvaardighede gebruik het om die Parktown Boys’ High-gemeenskap te genees en te verenig.

“Die respondent benodig in hierdie moeilike en uitdagende tye dringend begaafde en verantwoordelike opvoeders soos die applikant. Ek vertrou dat die respondent verby trots en vooroordeel sal kyk en werk om die applikant weer in die openbare onderwysruimte te integreer,” lui die ELRC se bevinding.

Breër uitwerking

Williams is ingevolge die Wet op die Indiensneming van Opvoeders aan ʼn tugproses onderwerp nadat die aanklagte teen hom aanhangig gemaak is. Die proses bepaal dat indien ʼn betrokke persoon teen ʼn skuldigbevinding wil appelleer, dié appèl deur die LUR hanteer word. Indien daar steeds ontevredenheid is, word die saak na die Kommissie Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), of in hierdie geval na ʼn bedingingsraad soos die ELRC verwys.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê Lesufi het hom etlike kere in die media uitgelaat as dat hy sal sorg dat Williams afgedank word. Die LUR moes daarna Williams se appelaansoek hanteer.

“Ons is baie dankbaar dat mnr. Williams heraangestel is. Ons dink dat ʼn onreg hom aangedoen is,” sê Klopper.

Hy sê dit is uiters betreurenswaardig dat ʼn kind dood is, maar dat dit moeilik is om vas te stel presies waar blaam in enige só ʼn geval lê.

Klopper sê dit is belangrik om daarop te let dat die onderwysdepartement nie sy plig nagekom het deur die aansoek vir die uitstappie tydig te verwerk nie. Hy sê hoofde en skole doen aansoek vir uitstappies, terwyl die departement eenvoudig nie daarop reageer nie.

“Dit is die departement se eie administrasie wat hiertoe gelei het.

“Ek verwag dat die onderwysdepartement sy administrasieprosesse in plek sal stel om te verseker dat toestemming vooraf verleen word.”

Hy waarsku egter ook dat skole self moet seker maak dat die nodige administrasieprosesse gevolg is. Dieselfde geld in die breë vir die byhou van presensielyste, die gebruik van geakkrediteerde kampe en voldoening aan veiligheidsmaatreëls.

“Ons aanbeveling aan skole is dat hulle voortaan baie seker van alle prosesse sal maak voor hulle op enige uitstappie gaan.”

Volgens Klopper kan die LUR die ELRC se uitspraak nou na die arbeidshof of die arbeidsappelhof verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Dit is hoogtyd dat Lesufi uit sy pos verwyder word.

Swerwer

Wonderlike nuus dat Malcolm Williams weer aangestel is en terugwerkend van Desember af. Gelukkig vir mense soos hy wat hart en siel in sy beroep staan wat nog iets vir die Onderwys beteken. Dit is belaglik om hom verantwoordelik te gehou het vir die kind se verdrinking. Maar nou ja dit is nou tipies nuwe SA. Die ander rede tot kommer, “terugwerkend vanaf Desember” met ander woorde die arme man het nooit salaris ontvang vir die tydperk nie, maar …………………………………………….. word op spesiale verlof geplaas met volle vergoeding. Dit is uiters laag en gemeen van ons sogenaamde Regering. Hierdie tweestryd… Lees meer »

Eiervrug

Vat so Lesufi…. bietjie hierdie rondte verloor. Kry vir jou ‘n hard hat en dan gaan bou jy ‘n skool, of sorteer jou sirkus se admin uit. Dis waarvoor jy betaal word…

Willem

Hoop die hoof dagvaar Lêsoentoe

Baardman

Dagvaar die wit waks uit Lesufi uit