Skoolhoof, onnie vas oor seksaanklagte

Argieffoto

Die departement van onderwys in Mpumalanga ondersoek twee sake van seksuele teistering waarby onderskeidelik ʼn skoolhoof en ʼn onderwyser glo betrokke is.

Jasper Zwane, woordvoerder vir die departement, het gesê die skoolhoof is van Berbice Laerskool in Mkhondo en die onderwyser van Rorobbani Secondary School in Thembisile.

“Die hoof van die Berbice Laerskool het glo verskillende skoolmeisies by verskeie geleenthede seksueel geteister. Ouers het dit by die polisie aangemeld en hy is in hegtenis geneem,” het Zwane gesê. Die verdagte het Maandag in die hof verskyn en is nie borgtog toegestaan nie.

Volgens Zwane het die departement ʼn skorsingsbrief aan hom beteken en is in die proses om slagoffers te identifiseer en aan hulle die nodige ondersteuning, waaronder berading, te bied.

Daar word ook beweer dat een van die onderwysers by die Rorobbani Secondary School ʼn meisie (leerder) seksueel aangerand het. “Die departement ondersoek die saak en het ook ʼn skorsingsbrief aan die onderwyser beteken,” het Zwane gesê.

Die beweerde slagoffer ontvang volgens hom reeds berading.

Zwane het gesê die departement doen alles in sy vermoë om seker te maak dat die gereg sy gang gaan. Hy het bygevoeg die departement beskou dié aantygings in ʼn baie ernstige lig.

Die departement het ook ouers aangemoedig om steeds voorvalle waar leerders se regte geskend word, aan te meld.

Reginah Mhaule, LUR vir onderwys in dié provinsie, het gesê skole moet te alle tye ʼn veilige hawe vir kinders wees en dat die departement, onderwysunies en die gemeenskap moet saamwerk om skole van sulke dade te bevry en ʼn gunstige omgewing vir leerders te skep waaruit hulle akademiese voordeel kan trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christo Pienaar ·

Ek hoop hierdie onderwysers, indien skuldig bevind, se name op ‘n lys van seksuele aanranding geplaas word deur die Dept van Onderwys EN dat beheerliggame toegang het tot so ‘n lys. Sulke misdadigers moet nooit weer toegelaat word om enigeiets met kinders te doen te hê nie.

Andre ·

Is die EFF, ANC Vroue liga en Youth League daar om te betoog en eis dat hulle tronk straf kry ens..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.