Lang herstelpad vir skoolhoof ná ongeluk

Phillip du Plessis sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

Phillip du Plessis (55), die skoolhoof van die Sandringham High School in Johannesburg wat in die hospitaal behandel word nadat hy deur ʼn voertuig raakgery is, het nie net bloeding op sy brein opgedoen nie, maar het ook ‘n fraktuur in sy rug.

Anrie Saunders (30), Du Plessis se susterskind, het Woensdag aan Maroela Media gesê dokters het vermoed dat daar ʼn breuk in Du Plessis se rug is, maar kon dit nie met sekerheid vasstel nie aangesien baie vog om die breuk dit moeilik gemaak het om dit op die skanderings te identifiseer.

“Die breuk is gelukkig nie van so ʼn aard dat dit sy senuwees aantas of tot verlamming lei nie. Die dokters wil juis die rug nou kans gee om self te genees omdat hulle nie wil opereer indien dit nie regtig nodig is nie. Dit beteken egter dat hy nog ʼn hele ruk in die hospitaal sal moet wees totdat sy rug dermate herstel het dat hy na ʼn rehabilitasiehospitaal geskuif kan word,” sê Saunders.

Sy voeg by dat Du Plessis intussen begin het om sy regterarm en -been, wat hulle vroeër gevrees het dalk verlam kan wees, te beweeg. Du Plessis het ook sy linkerbeen gebreek en sy nek beseer. Die ergste breinbloeding het intussen al opgeklaar, hoewel daar nog ʼn dun lagie bloed op sy brein is.

Du Plessis het egter genoegsaam herstel dat hy nou uit die waakeenheid na die neurologiese saal van die Life The Glynnwood-hospitaal oorgeplaas is.

“Hy is nou heeltemal wakker, maar soms nog baie deurmekaar. Dit word maar veroorsaak deur ʼn kombinasie van die bietjie bloeding op sy brein en die noodgedwonge sterk pynmedikasie,” sê Saunders.

“Hy is in konstante pyn. Dit beïnvloed soms sy gemoed. Dit is vir hom baie moeilik en frustrerend om heeltyd soveel pyn te verduur. Hy raak ook nou moeg vir die hospitaal en wil graag huis toe gaan. Dit is nie altyd lekker om hom so te sien nie, maar oor die algemeen is hy positief. Daar is so baie mense wat vir hom kom kuier, wat boodskappe stuur en hom ondersteun – hy kan nie anders as om positief te wees nie!”

Saunders loof ook die skoolgemeenskap wat Du Plessis en sy familie nog deurentyd ondersteun. Volgens haar neem die adjunkhoof tans as skoolhoof waar totdat Du Plessis in staat is om sy pligte by die skool te hervat.

“Sy het ook al vir hom in die hospitaal kom kuier en hom verseker dat alles by die skool in beheer is en dat alles weer presies gaan wees soos dit was sodra hy terug is. Vanmiddag kom ʼn rugbyspan van die skool hom besoek. Die ondersteuning wat ons kry, is net ongelooflik.”

Phillip du Plessis. Foto: Facebook

Sy skerts dat dit vir haar oom ʼn groot stryd is om so lank sonder ʼn soetdingetjie klaar te kom. “Hy is ʼn diabeet, maar het ook ʼn vreeslike soettand. Hy vra my soms of ek nie tog net vir hom ʼn sjokoladetjie kan insmokkel nie, dan is dit vir my so sleg om te moet nee sê! Sy dieet word baie streng beheer omdat sy herstel reeds langer gaan vat aangesien hy ʼn diabeet is.”

Saunders is versigtig om ʼn voorspelling oor Du Plessis se herstel vorentoe te waag en sê hulle weet net dat daar nog ʼn lang pad is om te stap. “Daar is nog nie sprake van hom uit die hospitaal ontslaan nie en wanneer dit wel gebeur, sal hy eers na ʼn rehabilitasiehospitaal moet gaan. Daar sal hy intensiewe terapie ontvang om weer te leer loop en sy motoriese vaardighede te herstel. Daar sal ook na sy emosionele herstel gekyk word. Ons weet daar lê nog ʼn lang pad voor.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is op 17 Julie na Du Plessis van stapel gestuur nadat hy nie vir die nuwe kwartaal by die skool opgedaag het nie. Die personeel het ook opgemerk dat een van die skool se voertuie nie daar is nie. Dié bakkie is kort daarna by Carnival City deur middel van ʼn opsporingtoestel gevind.

Kringtelevisiebeeldmateriaal het gewys hoe Du Plessis op 4 Julie omstreeks 18:40 in die skool se bakkie daar opgedaag het. Daar is daarna vasgestel dat Du Plessis omstreeks 22:00 dieselfde aand verward by Carnival City uitgestap het.

Sy familie het hom uiteindelik op 20 Julie in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal aangetref waar hy opgeneem is nadat hy deur ʼn voertuig raakgery is. Hy was onder verdowing en het geen vorm van identifikasie by hom gehad wat hospitaalpersoneel na naasbestaandes kon verwys nie.

Hy is later na die Life The Glynnwood-hospitaal oorgeplaas.

Lees alle vorige berigte oor Phillip du Plessis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marlise ·

Kan iemand my dalk se hoe dit nou met sy oorblywende troeteldiere gaan?

Anrie Saunders ·

Hi
Sy honde kind is saam my Tannie en ons gaan elke tweede dag om sy kat kinders liefde en kossies te gee.

Nettie ·

Daarom is dit so, so belangrik dat diabete hul suikervlakke moet dophou en gereeld eet (elke 3 ure). Ek is al vir 10 jaar ‘n diabeet, dus het ek eerstehandse kennis.

Dit is ook baie belangrik dat diabete ‘n “Medic Alert” of die een of ander soort mediese bandjie om hul enkel/arm dra, sodat – sóú hulle in hipo-glisemie gaan – mense sal weet wat om te doen (nl. om die pasiënt te laat lê en onmiddellik iets soets gee om te eet (of lemoensap, om te drink).

As mens in ‘n hipo-glisemie gaan, klink en lyk jy soos ‘n baie dronk mens. Jy is self nie bewus van jou omgewing nie of is net semi-bewustelik, jou hartklop verhoog, jy is lam en jy praat sleeptong.

Marinda ·

Sterkte vir julle almal. Eem van die dae is hy weer tuis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.