Skoolhoof se vrou, seuns ‘was sy hart se punt’

Eddie Labuschagne. Foto: Hoërskool Caledon

Die polisie in die Wes-Kaap het ʼn geregtelike doodsondersoek begin na die dood van die hoof van die Hoërskool Overberg in Caledon.

Eddie Labuschagne het na bewering Dinsdag sy eie lewe geneem. Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die dood van ʼn 49-jarige man word ondersoek nadat hy homself glo omstreeks 10:25 by ʼn huis in Caledon geskiet het.

Maroela Media het vroeër berig die skool het gesê hy het met leedwese van Labuschagne se dood verneem en sy innige meegevoel betuig aan Labuschagne se vrou, Mariëtte, hul twee seuns en ander familielede.

Boodskappe van medelye hou intussen aan instroom op sosiale media vir Labuschagne met talle wat hom beskryf as ʼn rolmodel en een van die beste onderwysers ooit.

Labuschagne is in Nigel gebore en het aan die Hoërskool Goudveld matriek behaal voor hy by die destydse Potchefstroomse Universiteit gaan studeer het. Hy was eers adjunkhoof by Hoërskool Hottentots-Holland, voordat hy as skoolhoof by Hoërskool Overberg aangestel is.

Volgens die skool was Labuschagne baie lief vir sport en ʼn kranige gholfspeler. Sy twee seuns en sy vrou was sy hart se punt, aldus die skool. “Hierdie meneer het altyd van die ‘sagte blou’ gepraat wanneer hy na ons skool se leerders gekyk het. Dit is duidelik dat hy ʼn liefde vir die onderwys en kinders gehad het.”

Die skool het ook gesê hy het op aanbeveling van die Wes-Kaapse departement van onderwys besluit dat die eksamen voortgaan soos geskeduleer.

Jessica Shelver, woordvoerder van die departement, het gesê Labuschagne was die afgelope sewe jaar die hoof by Hoërskool Overberg en het tot dusver al amper 30 jaar lank vir die departement gewerk.

Shelver het gesê die departement is baie hartseer oor Labuschagne se dood. “Ons gedagtes en gebede is by die familie, vriende en die skoolgemeenskap.”

Volgens Shelver is daar berading vir die onderwysers en leerders by die skool gereël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tania Heyns ·

Dagsê Ek

Dankie vir jou kommentaar. Indien jy angstig of depressief voel en graag met iemand wil gesels, is jy welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat jou deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Baie sterkte!

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

Penelope ·

Liewe Ek, ek hoop regtig jy voel al beter. Niemand sal weet hoekom jy so voel nie, maar asb dink aan die mense wat agterbly. Die Here is ons enigste toevlug, vra Hom om daardie gedagtes weg te vat. Asb? My pa het selfmoord gepleeg en 42jr later huil ons nog oor hom en mis hom by elke verjaarsdag en elke kersfees en wens hy kon sy kleinkinders sien. Dink asb aan die mense wat vir jou lief is en soek hulp. Ek bid vir jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.