Skoolhoof sterf in M4-ongeluk

Roshni Moonsamy (Foto: Facebook)

Northlands Girls’ High School in die noorde van Durban is in rou gedompel nadat hulle skoolhoof Woensdagaand doodgebrand het toe haar motor teen ʼn pilaar van ʼn brug op die M4 in KwaZulu-Natal gebots het.

Roshni Moonsamy is intussen geïdentifiseer as die vrou wat in dié voorval omgekom het.

“Dit is met diepe hartseer dat Northlands Girls’ High School die tragiese verlies van ons geliefde skoolhoof bekend maak. Sy was gisteraand in ʼn motorongeluk,” het die skool Donderdag in ʼn verklaring op sosiale media geskryf.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het om 23:00 op die M4-snelweg net verby die M41-afrit tussen La Lucia en Umhlanga Rocks plaasgevind.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê nooddienste is na die toneel ontbied waar die motoris vermoedelik beheer oor haar voertuig verloor en teen die pilaar gebots het.

Die uitgebrande motor. (Foto: ANA)

Met paramedici se aankoms op die toneel was dié voertuig in vlamme gehul.

Die plaaslike brandweer is ontbied om die vlamme te blus waarna die liggaam van die vrou in die motor gevind is. Sy kon aanvanklik nie geïdentifiseer word weens die aard van haar beserings nie, het Herbst gesê.

Volgens lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, is die 49-jarige bestuurder van die motor op slag dood.

Luidens die verklaring sal berading beskikbaar wees aan personeel en leerders ná Moonsamy se dood. Die skool was egter nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag, het Zwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nicks ·

Dit is verskriklik erg. Jammer, maar hoop dit was gou en dat sy nie baie pyn gehad het nie. Sterkte aan haar familie

Asjas ·

Wil nie ongevoellig wees nie maar die berig lees dubbelsinnig. Eers het sy doodgebrand dan is sy op slag dood.
Ek hoop saam met jou dat sy wel op slag dood is en NIE doodgebrand het nie. Dit moet vreeslik wees.

Blue Butterfly ·

Innige meegevoel met haar familie, kollegas en skoolkinders. Baie tragies.

Kennis ·

Heelmoontlik geen rook of vlam skade in die longe nie. asook die moontlikheid dat min tot geen bloed teenwoordig was, dit beteken die hart het nie meer gewerk nie.

Rus in vrede dame. Ons hou jou naasbestaandes in ons gebede.

Leandra ·

My innige meegevoel aan die familie en vriende, mag Jesus julle styf vashou in hierdie tyd.

Sue ·

“Doodbrand” klink so wreed maar ek wonder baie keer hoe kan dit al in n nuus berig bepaal word want daar kan menigte ander redes wees vir enige persoon se dood voor of tydens die impak van n botsing. As dit my familielid of vriend/in was, sou dit my virewig gepla het om te dink my geliefde het “doodgebrand”

Elke geval, dis vreeslik hartseer en tragies en my innige meegevoel met almal wat hierdie persoon Lief gehad het. Mag jul met Liefde en Vrede vervul word.

Kennis ·

Die afwesigheid van rook of vlam skade in longe selfsook as daar min bloedverlies teenwoordig is dui dit die hart het ophou pomp. Dus op-slag oorlede.

RIV.

Nie so slim nie ·

En hoe weet die polisie al hierdie goed binne n dag? ‘n Lykskouing moet gedoen word om sulke goed te bepaal en dit vat ‘n paar dae en baie maande se gewag op die PM verslag. So dit het niks daarmee te doen nie. Ek dink hulle bedoel by wyse v spreke sy was dood voor enige iemand op die toneel aangekom het en het nie noodbehandling ontvang nie. Glo mey ek het honderde PM verslae gesien v oorledenes in ongelukke en staatspatoloë kyk nie vir rook/ roet in longe ens nie. Dis ook nie werklik nodig in so ‘n geval nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.