Skoolhoof sterf toe hy diewe agternasit

Sampie Marais (Foto: Facebook)

Die polisie in die Oos-Kaap doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat die hoof van ’n skool in Uitenhage Donderdag omstreeks 15:30 in mekaar gesak het toe hy selfoondiewe agternagesit het.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het Vrydag die afsterwe van Sampie Marais, skoolhoof en self oudleerder van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar, bevestig. Marais was 60 jaar oud.

Volgens Swart het twee leerders aan die skool gistermiddag in Daniel Pienaarstraat gestap toe hulle deur twee onbekende mans oorval is. Die mans het die leerders met ʼn mes gedreig, op hul selfone aangedring en toe laat spaander.

Die twee leerders het na die skoolkoshuis gehardloop en die voorval by Marais aangemeld waarna hy, die leerders en nog ʼn onderwyser in ʼn voertuig na die twee mans gaan soek het.

Een van die leerders het een van die verdagtes in Channerstraat gewaar. Die man het in dié stadium die voertuig opgemerk en in Buxtonlaan ingehardloop waar hy met behulp van ʼn lid van die publiek aangekeer is.

Swart vertel dat Marais langs die verdagte gestaan het toe hy skielik inmekaargesak het. Paramedici is na die toneel ontbied en Marais is op die toneel dood verklaar.

Daar word wyd berig dat Marais waarskynlik aan ʼn hartaanval dood is. Swart kon dit egter nie bevestig nie en het gesê die oorsaak van sy dood is in dié stadium nog onbekend.

Medelye stroom sedertdien in. Hoërskool Brandwag in Uitenhage het sy medelye met sy buurskool en Marais se naasbestaandes op sosiale media betuig.

“Rus in vrede Sampie. Jy los ’n groot leemte in onderwyskringe – akademies en op sportvlak,” skryf ’n sosialemediagebruiker.

“Mnr. Marais was ’n goeie man en skoolhoof,” skryf ’n ander. Die skool kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens Swart is die vermeende selfoondief, ʼn 17-jarige seun, in aanhouding in Port Elizabeth en die polisie is op die spoor van sy makker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zettie

En ons almal weet hoe dié storie gaan eindig………… RIV Mnr. Marais. Sterkte aan die familie, vriende, mede-onderwysers en skoolleerlinge.

Arno Scheepers

As jy diewe jaag, jaag hulle met loodpille.

Jan Nel

Dit moet lees vermeende selfoonrower, nie dief nie.

Ek is regtig jammer vir almal na aan die hoof. Hy het werklikwaar gesterf in diens van sy leerlinge.

Hartseer

Rus in Vrede.

Al

My innige simpatie. Sterkte aan sy familie.