Skoolhoof vas oor moordkomplot

Argieffoto

Die polisie in Hlanganani buite Giyani in Limpopo het ʼn 49-jarige man in hegtenis geneem op aanklag dat hy saamgesweer het om sy 43-jarige vrou te vermoor.

Die man, ʼn skoolhoof by een van die hoërskole in Tanana Pulani in Bungeni, het glo ʼn plaaslike man op 16 Julie 2020 genader om sy vrou te vermoor, in ruil vir ʼn groot bedrag geld.

“Die vrou het inligting ontvang oor haar man se planne,” het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie is in kennis gestel en ʼn ondersoek is van stapel gestuur. Die man is gevolglik in hegtenis geneem.”

Die man sal na verwagting binnekort in die Hlanganani-landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg. Die polisie se ondersoek duur voort.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het voortgesette geslagsgebaseerde geweld in die provinsie ten sterkste veroordeel. Hy versoek persone met huweliksprobleme of enige ander maatskaplike probleme om professionele ingryping te bekom in plaas daarvan om mekaar leed aan te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae