Skoolhoofde: ‘Hartzenberg se verslag dra geen gewig’

Skoolhoofde wat lid van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) is, voel in die steek gelaat deur hul unie en is nie deur die bevindinge van regter Hartzenberg se ondersoek, wat op 6 November openbaar gemaak is, gerus gestel nie.

ʼn Groep van meer as 300 besorgde lede van die SAOU, wat hulself FBSAOU noem, het vandag ʼn mediaverklaring uitgereik waarin hulle verklaar dat die aanstelling van afgetrede regter Hartzenberg om die sake van die SAOU te ondersoek, só ver tekort skiet dat enige verslag wat deur Hartzenberg uitgereik word, ongeag die bevindinge daarvan, geen gewig dra nie.

“Ná die vlugtige deurlees van die verslag self is dit glashelder dat die verslag in geen terme beskryf kan word as ʼn voldoende, onafhanklike ondersoek na die sake van die SAOU nie. Op grond hiervan het ons geen voorneme om betrokke te raak by enige gesprek oor die ‘bevindinge’ van afgetrede regter Hartzenberg nie, maar sal ons steeds aandring op ʼn volle, onafhanklike, forensiese oudit oor al die sake wat ons aanhangig gemaak het,” lui die verklaring.

FBSAOU verstaan dat amptelike staatsondersoeke na die sake van die SAOU voortduur en sal steeds samewerking aan die owerhede gee in hierdie verband.

Gerhard Burger, koördineerder van ʼn SAOU-groepering op die hoëveld wat uit 54 hoofde bestaan, sê dat daar beslis rooi ligte flits, van so vroeg as 2016 af en selfs nou nog, na Hartzenberg se verslag.

“Ons het aanvanklik agterdogtig geraak as gevolg van goed soos uitspattige verpligte vakansies en verliese wat afgeskryf is – ʼn mens kan tog nie verlies wat met trustgeld gely is, afskryf nie.”

Ons het gedink die hoofdesimposium is die ideale platform vir die gesprek, maar ook hier is ons in ons spore gestuit toe ʼn interdik teen ons bekom is.

Hy vertel verder dat hoofde aanvanklik Michael Pashut se aantygings afgemaak het en die unie genader het om dit op goeie voet op te klaar. “Maar met elke poging tot gesprekvoering oor die kwessie is ons met redelike aggressie ontvang. Ons het gedink die hoofdesimposium is die ideale platform vir die gesprek, maar ook hier is ons in ons spore gestuit toe ʼn interdik teen ons bekom is. Daar was nooit deursigtigheid of openlike gesprekvoering nie.”

Die groep het Hartzenberg se verslag na ʼn onafhanklike ouditeur gestuur om te interpreteer en hulle van raad te bedien. Hulle voel dat die verslag nie noodwendig objektief en geloofwaardig is nie omdat die beskuldigdes vir regter Hartzenberg aangestel het. “Ons dink nie die verslag is skoon, rein en onbetas nie. Die SAOU verkondig nou dat die regter hulle kwytgeskeld het, maar dit is nie waar nie.”

ʼn Skoolhoof van Gauteng, wat op regsadvies anoniem bly, vertel dat sy in Februarie vanjaar agterdogtig oor die SAOU se geldsake geraak het nadat sy in die finansiële state gesien het dat miljoene rande se lenings toegestaan is sonder afbetalingstermyne, dat daar onregmatige winsdeling was en dat salarisse buitengewoon hoog was.

Wanneer ʼn mens navraag daaroor doen, word daar gesê SAEF is ʼn private maatskappy en ons as SAOU-lede het nie ʼn sê in hul geldsake nie. Dit is uiters verdag.

Sy voel dat regter Hartzenberg se mandaat met sy ondersoek skeef was en dat hy kritieke vrae omseil het. “Die bates en geld wat die SAOU en SAEF verskans kom van die ou Transvaalse Onderwysunie (TO) af. Wanneer ʼn mens navraag daaroor doen, word daar gesê SAEF is ʼn private maatskappy en ons as SAOU-lede het nie ʼn sê in hul geldsake nie. Dit is uiters verdag.”

In sy verslag bevind regter Hartzenberg dat lede van die SAOU geen regmatige aanspraak op insae in die sake en beleid van SAEF het nie omdat die SAEF los staan van die SAOU. Lede vind hierdie feit kommerwekkend, aangesien geld vanaf die SAOU aan SAEF betaal word en hierdie betalings administreer word deur dieselfde persone wat op beide SAOU en die SAEF se uitvoerende rade dien. Die gevoel is dat daar dus geen objektiewe party is wat die belange en geld van lede tydens transaksies tussen die SAOU en SAEF verteenwoordig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

1+1 ·

Hoop nie hierdie saak het iets met “geld wat stom is, maak reg wat krom is” of erfgoed is swerfgoed te doen nie. Ek kan nie glo dat die SAOU met ‘n integriteitskrisis sit nie.

Elize ·

Die afgetrede se pensioengeld is seker besig om op te raak en nou moet daar op ander maniere geld gemaak word

Morele regverdiging word geKlop? ·

Politieke ‘leiers’ leer vinnig by die ons ‘leiers’. En as dit een keer gebeur het is dit waarskynlik nie die eerste keer nie. Ondersoek ook vorige transaksies waar die regering (!) moes halt roep.

Disselboom ·

Dis so bietjie ongemaklike gevoel as ‘n verslag wat op die oog af gewig dra, bevraagteken word. Maar uit’n vorige berig is dit darem ook duidelik dat as mnr Chris Klopper so drie tot vier miljoen rand per jaar maak as bestuurder van die SAOU en verwante besighede (of is dit nou “instellings”) hoekom van die skoolhoofde steeds skepties is of alles so regverdig en billik is by die SAOU?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.