Skoolhoofde ontvoer, gedreig

Argieffoto

Argieffoto

Twee skoolhoofde van Mpumalanga en KwaZulu-Natal is ontvoer en met die dood gedreig indien hulle sou terugkeer werk toe, het die City Press Sondag berig.

Dit is glo ʼn poging deur die onderwysvakbond Sadtu om die aanstelling van skoolhoofde teen ʼn finansiële gewin te beïnvloed.

Kaise Ngcobo, waarnemende skoolhoof van Laerskool Waterloo in Verulam in Durban, is Vrydagoggend deur drie mans by die skoolhek ontvoer. Die skool se beheerliggaam het in ʼn verklaring gesê sy is gewaarsku om nie na haar pos terug te keer nie. Sy het drie weke gelede as skoolhoof begin waarneem.

Bajabulile Mtshali, ʼn waarnemende skoolhoof by WCCM Primêre Skool in Ogies, Mpumalanga, het aan die koerant gesê sy is verlede jaar ontvoer. Sy sou glo die volgende dag ʼn onderhoud bywoon vir die skoolhoofpos.

Mtshali sê die ontvoerder het haar met ʼn trui vasgebind, bedwelm en in ʼn woud gelos. “Hy het gesê hy is betaal om my dood te maak sodat ek nie die skoolhoof kan word nie,” het sy gesê. Sadtu-beamptes het die man glo R10 000 betaal.

“Ek het nie geld gehad nie, so hy het my bankkaart en pinkode en my selfoon geëis,” het sy aan die koerant gesê.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn persoon in verband met die saak in hegtenis geneem is en ʼn saak oopgemaak is. “Die dossier het in ʼn stadium verdwyn, maar dit is weer by die streekshof in Witbank ingedien,” het Mohlala gesê.

Die City Press het verlede week berig dat pres. Jacob Zuma die aanstelling van ʼn Kommissie van Ondersoek goedgekeur het om bewerings van knoeiery deur Sadtu-lede in verband met posaanstellings te ondersoek. Vakbondlede het glo skoolhoof- en adjunkskoolhoofposte teen meer as R30 000 elk verkoop.

Mugwena Maluleke, uitvoerende hoof van Sadtu, het aan die koerant gesê mense doen dit uit hul eie en misbruik die vakbond se naam. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Man dit gaan “lekker” in die land. Waar in jou lewe sal jy elders so n geval teekom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.