Skoolhoofposte glo ‘verkoop’

Argieffoto

Argieffoto

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê sy het met vakbonde vergader na berigte dat poste vir skoolhoofde ‘verkoop’ word.

“Al die vakbonde het ooreengekom om hul samewerking te gee met die ondersoek om die beweerde praktyk uit te roei en sterk op te tree teen diegene wat betrokke is,” het Motshekga in ‘n verklaring gesê.

Dit volg na onlangse berigte dat lede van die onderwysvakbond Sadtu glo poste vir skoolhoofde en adjunkhoofde vir tot R30 000 verkoop. City Press het Sondag berig dat ‘n onderwyseres van Johannesburg beweer dat ‘n vakbondsekretaris haar vir seks gevra het in ruil vir ‘n skoolhoofpos.

Die koerant het ook vroeër die maand berig dat twee skoolhoofde, een van Durban en die ander een van Mpumalanga, ontvoer is en met die dood gedreig is indien hulle na hul poste sou terugkeer. Volgens die skoolhoofde is daar aan hulle gesê dat die poste geoormerk is vir aanstellings deur Sadtu. Die vakbond het intussen ontken dat hy hierby betrokke is.

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van Sadtu, sê die slenter word bedryf deur mense wat die vakbond se naam misbruik. “Ons is nie in die posisie om iets te verkoop wat nie aan ons behoort nie. Die vakbond het nog nooit ‘n sent ontvang van die opbrengste van die slenter nie.”

Motshekga sal intussen volgende week met skoolbeheerliggame vergader om die moontlikheid te bespreek om ‘n interministeriële taakspan op die been te bring om die bewerings te ondersoek. Die staatdienskommissie, departemente van justisie en basiese onderwys en ander kenners sal betrokke wees by die totstandkoming van die taakspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.