Skoolkamp eindig in tragedie

Aiodhon van Zyl tydens sy 7de verjaarsdagpartytjie (Foto: Facebook)

ʼn Negejarige seun aan die Laerskool Vastrap in Rustenburg in Noordwes het die afgelope naweek in ʼn fratsongeluk buite Warmbad (Bela Bela) in Limpopo gesterf.

Volgens ʼn verklaring wat aan ouers uitgestuur is, was Aiodhon van Zyl ʼn gr. 4-leerder aan die skool.

Die Vastrap-koor was glo op ʼn naweekkamp toe die voorval, wat die skool as tragies bestempel, plaasgevind het.

Luidens die verklaring het die seun uit ʼn bewegende voertuig geval. “Die voorval het op die kampterrein [waar die leerders tuisgegaan het] plaasgevind. Die deur van die skoolbussie het skielik oopgegaan en die seun het uitgeval en sy kop teen die grondpad gestamp. Die presiese gebeure wat daartoe aanleiding gegee het dat hy uit die bussie geval het, word tans ondersoek. Alle veiligheidsvoorsorgmaatreëls is vooraf getref en die bussie het nie teen ʼn hoë spoed gery nie,” lui die verklaring.

Volgens die skool was die ongeluk nie die gevolg van nalatigheid nie. “Die bussie is bestuur deur ʼn onderwyser met al die nodige magtiging en lisensies. Op grond van hierdie voorlopige inligting tot ons beskikking word geen growwe nalatigheid of aanspreeklikheid deur die skoolbestuur óf die beheerliggaam vermoed nie.”

Die skool het gesê ʼn berader het intussen ná die voorval met die kinders en personeel gepraat. “Ons het ongelooflike ondersteuning van ouers, koorouers, beheerliggaamslede en lede van ons gemeenskap ontvang. Almal het ʼn rol gespeel om die naweek se gebeure op die bes moontlike wyse te hanteer – daar is nie ʼn handleiding nie.”

Volgens die skool het die groep seuns en hul ouers byeengekom waartydens die groep berading en ondersteuning ontvang het. “Die seuns het tydens hierdie geleentheid ook kans gehad om hul weergawe van gebeure te vertel. Hulle worstel almal met die verlies van Aiodhon. Ons sal vir die volgende paar dae personeel gereed hê om ondersteuning en berading te verleen.”

Die laerskool het bevestig hy gee sy samewerking vir ʼn polisieondersoek wat steeds voortduur.

Die polisie kon teen Dinsdagmiddag steeds nie die voorval bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.