Skoolmeisie vas ná video van boeliery versprei

‘n Skermgreep van die video oor een leerder wat ‘n ander klap by ‘n skool in Limpopo. (Video: Twitter)

Die 15-jarige skoolmeisie van Mbilwe Sekondêre Skool in Thohoyandou, Limpopo, wat Maandag glo ’n medeleerder aangerand het, is in hegtenis geneem. Dit het intussen aan die lig gekom dat die gr. 10-leerder wat aangerand is, glo ná die voorval haar eie lewe geneem het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn video is Dinsdagoggend onder die departement van onderwys se aandag gebring wat wys hoe die slagoffer deur die verdagte rondgeklap word. In die video kan gesien word hoe twee meisies in skoolklere in ʼn woordewisseling betrokke is. Dan kom ʼn ander skoolmeisie, blykbaar ook in gr. 10, en begin een van die meisies in die gesig klap. Die verdagte klap die slagoffer 15 keer hard in die gesig terwyl sommige van hul klasmaats hardop lag, voor ander leerders ingryp en die twee uiteentrek.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, bevestig dat die slagoffer die middag na die voorval huis toe gegaan en haarself glo in haar kamer toegesluit het. Sy het toe na bewering ’n oordosis pille gesluk.

“Haar ma het haar bewusteloos aangetref en na die Siloam-hospitaal gehaas waar sy met haar aankoms dood verklaar is,” sê Mojapelo.

“’n Geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur en die verdagte is in ooreenstemming met die Wet op Kindergeregtigheid in hegtenis geneem.”

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) in Limpopo het intussen onderneem om vandag (Woensdag) ’n feitebesoek by die skool af te lê. Volgens Victor Mavhidula, kantoorbestuurder van die SAMRK in Limpopo, is dié besoek daarop gemik om meer inligting in te samel oor die voorval, en om meer bewustheid te skep oor die belangrikheid van kinderregte.

“Volgens die Kinderwet word boeliegedrag as ’n vorm van kindermishandeling bestempel,” sê Mavhidula. “Die kommissie beklemtoon weereens die belangrikheid van artikel 28 van die Grondwet wat bepaal dat daar na die beste belange van kinders omgesien moet word,” sê Mavhidula.

Private speurder Mike Bolhuis, wat soms skole met dié kwessie bystaan, sê boeliegdrag is ’n groter wordende probleem by skole en kan gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat ouers en onderwysers nie genoeg op leerders ag slaan nie.

“Ouers en onderwysers moet betrokke genoeg wees om te weet wanneer leerders se gedrag en fisieke voorkoms verander. Indien hulle skielik hulself isoleer, minder of meer eet en hul skoolpunte sonder rede begin daal, kan dit beteken dat hulle ’n slagoffer van boeliegedrag is,” sê Bolhuis

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Daardie meisie moet ‘n ordentlike les geleer word,sommer skors en tronk.

Boerkind

Ek kry die slagoffer innig jammer. RIV. Waar is ons land heen op pad? ‘n Goddelose wese is aan die opstaan…

Wielspore

Dit is die gevolg van die geweld kultuur in SA.
Slaan en breek alles tot ek my sin kry!

Johann

geen kind verdien om geboelie te word nie ek hoop die reg gaan sy gang en die meisie kind kry wat haar toe kom

Misky

Dis absoluut skokkend!!!! Vieslike gedrag en haar ouers seker baie trots op haar, want erens moes sy die tipe gedrag sien