Skoolplasings: Aansoeke open in Junie

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, het die aanlyn aansoekproses Sondag bekend gestel. (Foto: GDE)

Die aanlyn 2024-aansoekproses vir plasing van gr. 1- en gr. 8-leerders skop op 15 Junie in Gauteng af en aansoeke sluit reeds om middernag op 14 Julie.

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in die provinsie, het Sondag die aanlyn aansoek- en plasingsproses vir volgende jaar uitgestippel.

Aansoeke vir albei grade word gelyktydig ingedien.

Volgens die LUR is verbeteringe aan die aanlyn stelsel aangebring en sal dit veel beter werk as voorheen.

Ouers moet aanlyn intekenbesonderhede (ʼn gebruikersnaam en wagwoord) op die departement se portaal skep en hulle sal hierdie besonderhede gebruik om later weer toegang tot die stelsel te kry. Chiloane het mense ook gemaan om elke stap in die proses noukeurig te volg.

Ouers sal deur ʼn SMS terugvoer oor vordering met die aansoek ontvang.

Die eerste plasings sal op 4 September gedoen word en ouers is versoek om aanbiedinge so gou moontlik te aanvaar sodat ruimte vir ander in die stelsel geskep kan word. Die plasingstydperk sal voortduur tot elke leerder ʼn plek in ʼn skool het, sê die LUR.

“Om die kanse op plasing nader aan ʼn ouer se huisadres te verbeter, moet ouers skole kies met voedingsones wat dié adres dek. Ouers word aangemoedig om vir elke leerder by ʼn minimum van drie skole en ʼn maksimum van vyf aansoek te doen,” sê Chiloane.

Meer as een aansoek by dieselfde skool word nie toegelaat nie.

Plasings sal op grond van plasingskriteria en die beskikbare plekke in skole gedoen word.

Die LUR het ouers ook gevra om seker te maak dat die inligting op die dokumente wat hulle tydens die plasingsproses indien, strook met die inligting op die aanlyn stelsel. Dokumente moet sewe dae ná ʼn aansoek ingedien word. Dokumente wat ingedien moet word, sluit in ʼn bewys van adres, ʼn ouer en kind se identiteitsdokument of paspoort, ʼn geboortesertifikaat en bewys van werksadres.

Aansoeke wat nie van ʼn bewys van adres vergesel word nie, sal as onvolledig beskou word.

“Die bewys van huisadres is die belangrikste dokument wanneer ʼn aansoek ingedien word. Plasing word bevestig op grond daarvan of die skool die besonderhede op die bewys van huisadres kon nagaan.”

Chiloane het gemaan teen die indien van bedrieglike dokumente.

Die LUR sê ook gr. R-leerders word nie vanselfsprekend in gr. 1 geplaas in die skool waar hulle tans vir gr. R ingeskryf is nie. “Dit beteken alle leerders wat nou vyf is en teen 30 Junie volgende jaar ses word en tans in gr. R in ʼn skool of sentrum vir vroeë kinderontwikkeling is, moet op die stelsel aansoek doen om plasing.”

Ouers kan op die aanlyn stelsel uit die lys van 11 amptelike tale ʼn voorkeurtaal aandui. Die stelsel sal leerders dan groepeer vir plasing by skole wat dié voorkeurtaal aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Hiérdie is nie reg nie ,Rietfontein ‘n laerskool in Pretoria het geen plek vir kinders wat in Rietfontein bly nie want die skool word oorlaai deur kinders wat met staats gesubsidieerde taxi’s vervoer word van Soshanguve en Mamelodi. Dit in ag geneem is daar skole in Soshanguve en Mamelodi wat leeg staan en verweer.

annie ·

Groot gedoente met die plasing daarna moet ouers maar hul kinders leer lees en die betekenis van die woorde verduidelik….indien hulself kan, anders word dit ‘n Babelse verwarring soos dit nou wel blyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.