‘Skoolplasings buite ouers se beheer’ – SOS

(Argieffoto ter illustrasie: pixabay)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) meen toelatings is veel meer doeltreffend in provinsies waar skole aansoeke self hanteer, aangesien dié skole vroeg al vir ouers ʼn aanduiding kan gee of daar plek is en hoe lank die waglys is.

Dít volg ná die departement van onderwys in Gauteng (GDO) se aankondiging dat 1 465 aansoekers nog op plek wag, terwyl sowat 17 000 aansoeke onsuksesvol is aangesien dié aansoekers nie voldoende inligting en dokumentasie by die departement ingedien het nie. Daar is ook nog 866 appèlle hangend van aansoekers wat nie by hul verlangde skool geplaas kon word nie en beswaar daarteen aangeteken het.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS, sê boonop sal tussen 5 000 en 7 000 leerders ook vanjaar by skole opdaag sonder dat hulle ooit aansoek gedoen het.

“Die toelatingsproses in Gauteng het veels te laat begin. Die meeste leerders in dié provinsie het eers in Desember gehoor waar hulle geplaas is.

“Baie leerders is in skole geplaas wat geensins hul keuse was nie, maar skole was reeds gesluit en ouers kan nou eers probeer om iets daaromtrent te doen.”

Sy meen die GDO se gesentraliseerde aanlyn aansoeke is bloot ʼn manier om toelatings te manipuleer. Boonop verswaar dit die administratiewe las vir skole geweldig.

“Volgens die GDO is dit ouers se verantwoordelikheid om te sorg dat hul kinders by ʼn skool geplaas is voor die aanvang van die skooljaar. Dit blyk egter ʼn redelik onmoontlike taak te wees aangesien die aanlyn plasingstelsel nie voorsiening maak vir enige weiering van aanbiedinge nie en leerders plaas ‘waar daar plek is’ sonder om ouers se goedkeuring te verkry.

“Ouers wat reeds vroeg in die aansoekproses hul kinders op die aanlyn stelsel geregistreer het, kla nou dat hulle lukraak by skole ver van hul huise, of skole wat hulle glad nie verkies nie, plek toegewys word. Sommige leerders is geplaas by ander skole as waar hulle graad R voltooi het of by skole wat verskil van dié waar hul sibbe reeds skoolgaan.”

Buys sê voorts dat distrikskantore ouers ook nie help wanneer hulle navraag doen oor probleme nie.

“Die woordvoerder van die departement van basiese onderwys (DBO), Elijah Mhlanga, sê die kwessie van ongeplaaste leerders is ʼn jaarlikse probleem in alle provinsies. Dit gebeur glo weens mense wat van een plek na ʼn ander verhuis het. Hy verwys na nagenoeg 20 000 tot 30 000 leerders landwyd wat aan die begin van die jaar eers aansoek doen vir plasings landwyd en dan geplaas moet word by reeds oorvol skole.

“Dit is egter nie die kernprobleem in Gauteng nie. Aansoeke het laat in 2021 geopen en finale plasings was teen 15 Desember steeds nie afgehandel nie. Talle ouers in die provinsie het gevra dat die aanlyn toelatingstelsel vir graad 1 en graad 8 geskrap word en dat die departement dit moet oorweeg om weer die ou toelatingsproses te gebruik.”

Volgens Buys is dit nie noodwendig ʼn oplossing om terug te keer na die ou proses nie, hoewel die huidige aanlyn stelsel beslis dringend aandag moet geniet.

“Die stelsel is nou só gesentraliseerd en verwikkeld dat ouers geen beheer het oor waar leerders geplaas word nie. Dit is uiters frustrerend vir ouers wat nie net ekstra voorsiening moet maak vir vervoer en ander noodsaaklikhede nie, maar ook voel dat hul kinders se toekoms erg benadeel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Die ou stelsel was baie meer effektief en georganiseerd. Nou is daar net chaos en niemand weet wat hy doen nie.

Lynette ·

As hulle intyd aansoek gedoen het . Moet hulle verseker n plekkie kry . In my jare was ons in n skool wat in ons omgewing was . Geen probleem .

VaalDonkie ·

Toe ek nog skoolgegasn het in 1999 het ons verhuis na ‘n ander stad en ek het die dag voor die nuwe skooljaar begin het eers gaan inskryf by die nuwe skool. Maar ek sal daai nie in 2022 probeer met my kind nie.

Deon ·

Elke liewe jaar is skool plasings n probleem, elke jaar selfde “issues” net nog n anc gemors spul.

Erik ·

Ek was nog altyd dankbaar ek bly nie in Gauteng nie. Kan glad nie verstaan waarom soveel mense daar bly nie. Meer geld, minder tyd, minder tyd om die lewe te geniet…

Tanniepetoors ·

Party van ons bly regtig nie hier in Gauteng omdat dit ons eerste keuse van verblyf is nie. Jy het nie altyd ‘n keuse oor waarheen jy verplaas word nie. Dan maak jy “huis” waar jy kom en leef jou lewe voluit na die beste van jou vermoë, al trek jou hart party dae met ‘n punt Boland toe.

Erik ·

Dis seker waar. En ek besef sekere beroepsgeleenthede is net nie beskikbaar op ander plekke nie. Dis jammer, dis eintlik ‘n bose kringloop waaruit mense nie kan kom nie.

VaalDonkie ·

Ek sal maar ‘n ou kar ry en my kind liefs by Curro of iets inskryf.

Onnie ·

Die hele sisteem is polities gedrewe. Afguns is n lelike ding. Wys net hoeveel vertroue hulle in hul eie onderwysers en skole het. Ek sal maar nou hier stop, voor ek iets lelik sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.