Skoolseuns gemaan om ‘stilswye te verbreek’

Parktown Boys High School (Foto: Google Maps Street View)

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, het Dinsdag Parktown Boys High School in Johannesburg besoek om terugvoer te gee oor ʼn ondersoek na beweerde viktimisasie by die skool.

Die LUR het skoliere gemaan om hul stilswye te verbreek en enige oortreding aan te meld sonder vrees om geviktimiseer te word. Lesufi het ook die skoolbeheerliggaam opdrag gegee om die skool se gedragskode te verander sodat daar duidelike riglyne kan wees hoe voorvalle van mishandeling en ander sake aangemeld kan word.

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur oor die volgende klagtes van sommige ouers dat skoliere deur sommige onderwysers geviktimiseer is. Die volgende klagtes is onder meer ondersoek:

– Vier onderwysers wat geïmpliseer word in bewerings van rassisme. Twee van die onderwysers is in diens geneem deur die departement en twee deur die skoolbeheerliggaam. Die betrokke onderwysers sal voorlopig voor die einde van hierdie week geskors word en ʼn tugverhoor sal later plaasvind.

– Daar was ʼn bewering dat Deep Heat aan skoliere se privaat dele gesmeer is. Geen bewyse is hiervoor gevind nie, maar Lesufi het gesê dit hou waarskynlik verband met ʼn kultuur waar almal swyg.

– Daar was bewerings dat skoliere gedwing is om dieselfde lemmetjie te gebruik om mee te skeer. “ʼn Nuwe proses moet met onmiddellike effek ingestel word om sulke onhigiëniese praktyke te vermy.”

– Daar was ʼn bewering dat ontkleedanseresse na die skool toe gebring is vir koshuispartytjies, maar geen bewyse is hiervoor gevind nie. “ʼn Kultuur van stilbly belemmer die proses om bewyse in te samel,” het Lesufi gesê.

Hy het ook die verkope van alkohol in die skoolomgewing ten sterkste veroordeel en het aangeraai dat die dranklisensie wat vir die kroeg uitgereik is, onmiddellik herroep moet word. Die kroeg is op die skool se perseel geleë.

“Daar moet ʼn duidelike aanduiding wees van die rolle en verantwoordelikhede van die departement, die skoolbeheerliggaam, die skoolbestuurspan en die Stigting. Dit sal seker maak dat daar nie enige onduidelikheid ontstaan tussen die Stigting en die skoolbeheerliggaam nie,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê die proses om ʼn nuwe skoolhoof aan te stel is ook afgehandel en die nuwe persoon sal op 1 Junie 2018 begin. “Ons is besig om staatsonderrig te beskerm. Enigiemand wat die beeld van die skool wil skade berokken, sal dienooreenkomstig hanteer word. Leerders moet beskerm word, onderwysers moet skoolhou en nie leerders mishandel nie. Alle skoliere moet dieselfde behandel word en hul menswaardigheid moet beskerm word. Enige vorm van diskriminasie of mishandeling sal nie geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Piet Snot ·

Solank Lesufi ongetoetste bewerings as die waarheid aanvaar, het hy nie my simpatie nie.

Alida ·

In die ou dae was skool net skool en skoon. Wat n gemors het ons nou!

Reg ·

Jy is reg Alida maar ook was ons van dieselfde kultuur en agterente het gebrand wanneer jy aanjaag. Ongehoord was ‘n drankkroeg op ‘n skoolterrein!!

ROOSMARYN ·

Ek stem volkome saam! Laat al die kinders asb “1 on 1” vergaderings kry met onderwysers en vertel wat aangaan, hoe hulle voel, wat by hulle ouerhuise en by familie byeenkomste gebeur!!! Dan sal hulle ‘n gelukkige en volkome grootmens wereld kan instap!!! Sterkte aan julle almal!!! Liefdegroete
“Katryntjie”

Arme ons ·

Dit is ALTYD die onderwysers! Kinders is altyd onskuldig en hul menswaardigheid moet beskerm word. En die onderwysers? Hul kan nie “wen” nie.

Harry ·

Dit gaan te lekker jollie-patrollie by hierdie rooinekke se skool!

Koos ·

Lag maar, dinge gaan soms maar lekker by Afrikaanse skole ook. Hoeveel van “ons” skole dink jy het kroeë wat as “klubhuise” bekend staan en waar onderwysers en sekere ouers flink fles vat?

Pik ·

Roosmaryn ja n 1 on 1 met n lat op sy agter ent dis al hoe die kinders gaan leer dink ons MP moet ook 1 van die bestes kry praat en praat erens raak n mens keelvol altyd a ras kaart trek

jaco ·

Hoe beland ‘n kroeg op die terrein van ‘n staatskool en hoe kry so ‘n kroeg ook nogal ‘n drank lisensie???

Kraaines ·

Die agbare LUR kan doen met bietjie stilbly-kultuur. Sal hom net goed doen.

Oom Kalahari ·

@Kraaines, pragtig gestel en beter sou ek nie kon nie. Die outjie loop net en geraas maak as dit hom en sy afdwingbare reels pas. Sy tyd is ook al lankal verstreke. Hy het ‘n kultuur probleem.

Anoniem ·

“Stilbly kultuur” maar daar is ‘n KROEG op die skoolgronde? So skoolkinders sit en suip en hou partytjie maar swyg daaroor en gaan te kere oor dinge wat nie bewys kan word nie? Klink eerder vir my soos ‘n “suip en soek skoor” kultuur waarmee ons hier te doen het! ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.