Skoolskietery: Verdagtes nog voortvlugtig

Die skietery het by die Mawelewele Primary School op Klaarwater gebeur. (Foto: Verskaf)

Twee van die verdagtes, wat Vrydag skote afgevuur het by ʼn laerskool op Klaarwater in KwaZulu-Natal, is nog voortvlugtig.

Kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het in ʼn wegkomvoertuig van die toneel gevlug. “Die omstandighede rondom die skietery word nog ondersoek.”

Hy het bevestig drie verdagtes het die skoolperseel betree en die skoolhoof en ander personeel met vuurwapens aangehou.

“Terwyl die verdagtes die personeel van skootrekenaars en ander waardevolle besittings beroof het, is skote afgevuur en ʼn 21-jarige verdagte het ʼn skietwond opgedoen. ʼn Personeellid is ook beseer en is na ʼn hospitaal geneem.

Maroela Media het vroeër berig paramedici van ALS Paramedics is net ná 11:30 na die skool ontbied.

Dit is met die verdagtes se vlugtog dat onderwysers, veiligheidswagte en die verdagtes skote op mekaar afgevuur het.

Teen middagete was die gewonde onderwyser na ’n private hospitaal vir mediese behandeling geneem, terwyl paramedici die gewonde verdagte nog op die toneel behandel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.