Skooltoelatingsbeleid ʼn ‘slag vir Afrikaanse skole’

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Saterdag gesê die konstitusionele hof se uitspraak dat die finale besluit oor openbare skole se toelatingsbeleid by die staat berus, ʼn “slag vir vryheid van openbare skole” is en Afrikaans voor “een van sy grootste uitdagings nog” te staan bring.

Volgens dié uitspraak kan die Gautengse onderwyshoof, Edward Mosuwe, besluit wanneer ʼn skool in Gauteng finaal vol is, en berus dié besluit nie meer by die beheerliggaam van die skool nie.

Volgens dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), beteken dit byvoorbeeld dat, indien ʼn enkelmedium Afrikaanse skool plek het, kan die onderwyshoof besluit om dié oop plek te gebruik. Die onderwyshoof gaan spreek dan die beheerliggaam van die skool en hulle moet tot ʼn vergelyk probeer kom. As hulle nie tot ʼn vergelyk kan kom nie, het die onderwyshoof die finale sê.

Solidariteit meen die dat die uitspraak op ’n verbreking van die historiese 1994-skikking neerkom en dit bring Afrikaans voor een van sy grootste uitdagings tot nog toe te staan.

“Die uitspraak is ’n oorwinning vir die groeiende staatsmag wat oor die samelewing uitgeoefen word en is ’n slag vir die vryheid van openbare skole, taal- en kultuurgemeenskappe en vir moedertaalonderwys,” lui die verklaring wat Solidariteit uitgereik het. “In praktyk kan die paar oorblywende topskole in die land nou uitgelewer word aan ’n departement wat daarvoor verantwoordelik is dat die oorgrote meerderheid skole nou al jare lank disfunksioneel is.”

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, was die twee kante van die munt wat in die 1994-skikking bereik is dat meerderheidsregering in ruil vir minderheidsbeskerming bewerkstellig is. Daarvolgens sou die meerderheid Suid-Afrikaners volle regte verwerf sonder dat minderhede hul fundamentele regte sou verloor.

Moedertaalonderrig en -onderwys word wêreldwyd as deel van taal- en kultuurgemeenskappe se fundamentele regte beskou. Staatsbesluite oor so ’n fundamentele saak is ’n groot stap weg van meerderheidsregering af op pad na meerderheidsoorheersing. “Dit laat die grondwetlike ruimtes vir Afrikaanse onderrig, taal- en kultuurgemeenskappe, skoolbeheerliggame en die reg op moedertaalonderrig sonder betekenisvolle inhoud. Hierdie uitspraak bevestig ons siening dat demokrasie sonder vryheid net vryheid vir die meerderheid is,” sê Buys.

Buys meen dat meer magte oor onderwys vir die staat die voortgesette verswakking van die staat gaan versnel, terwyl dit die regering se mag verder versterk. Terselfdertyd verteenwoordig dit ʼn verdere verskraling van die demokratiese ruimtes vir taal- en kultuurgemeenskappe. “Ons verwerp ook die siening dat beheerliggame se toelatingsbeleid wat byvoorbeeld ten opsigte van taal geld op indirekte diskriminasie kan neerkom omdat Afrikaans grondwetlike beskerming behoort te geniet,” sê Buys.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, ontneem die uitspraak gemeenskappe hulle van die reg om self te besluit oor kwessies wat hulle ten diepste raak en word net nog meer mag toegeken aan ’n staat wat al hoe meer verswak. “Wat die uitspraak nog gevaarliker maak, is dat dié mag aan ’n politieke boelie, die LUR vir onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi, toevertrou word wat bekend is vir sy heethoofdige uitsprake wat die menswaardigheid, gelykheid en vryheid van taal- en kultuurgemeenskappe aantas. Hy behoort eerder die 80% sukkelende skole in die land reg te ruk in plaas daarvan om die aandag van sy departement se mislukkings te probeer aflei deur top- presterende Afrikaanse skole te teiken om sy rasse-agenda te dien. “Ons kinders se toekoms is net té belangrik om dit aan Lesufi oor te laat,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann gaan die konstitusionele hof van die aanname uit dat ’n verantwoordelike politieke amptenaar met grondwetlike regte omgaan. “Lesufi is egter ’n politieke aktivis wat nie oor die vermoë beskik om grondwetlike balans te handhaaf nie,” het Hermann gesê.

Lesufi sê prontuit dat skole nie op grond van taal mag diskrimineer nie. “Die uiteindelike uitkoms van ’n stelsel van voedingsareas vir skole beteken die einde van Afrikaanse skole met hul unieke etos en kultuur. As ’n bepaalde voedingsarea aan ’n skool toegeken word en as kinders boonop deur ’n sentrale stelsel in skole geplaas word, sal geen skool oor die lang termyn nog Afrikaans kan wees nie. Volgens Hermann is daar geen plek in Lesufi se ideologie vir leerders se reg op onderrig in die taal van hul keuse of vir die grondwetlike regte van taal- en kultuurgemeenskappe nie. “Lesufi is ’n ideoloog met ’n uitgesproke weersin in Afrikaanse skole.” Hermann het ook daarop gewys dat Lesufi sy siening dat hy geïrriteerd is daarmee dat Afrikaanse skole steeds in 2016 bestaan, ook al op die sosiale netwerk Twitter uitgespreek het.

“Lesufi glo dat elke skool Suid-Afrika se demografie moet weerspieël. Dit beteken dus uniformiteit met geen voorsiening wat gevolglik vir diversiteit gemaak word nie,” het Hermann gesê. Hermann meen dat die konstitusionele hof se besluit tot gevolg het dat ouers van hul reg ontneem word om besluite te neem oor dít wat hulle die naaste aan die hart lê, naamlik hul kinders. “’n Sentrale mag kan nie besluit waar jou kinders mag skoolgaan nie,” het Hermann verduidelik.

Volgens Hermann het die uitspraak van die konstitusionele hof een element van hierdie kwessie hanteer. “’n Lang pad lê egter nog voor. Die krag van die gemeenskap, veral dié van ouers, gaan getoets word. Die Afrikaanse gemeenskap sal ’n groot ‘nee’ teen hierdie uitspraak moet uitbring,” het Hermann bevestig.

Die vakbond het gesê hy sal die uitspraak in samewerking met ander rolspelers in die onderwyssektor nog in meer diepte bestudeer om met ’n amptelike strategie na vore te kom. “Die kern van hierdie strategie sal gerig word op die uitbouing van ons internasionale reg op moedertaalonderwys, asook demokratiese ouerinspraak by skole deur middel van skoolbeheerliggame,” het Buys en Hermann in reaksie op die uitspraak gesê.

Lees alle vorige berigte oor die skooltoelatingsbeleid op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

54 Kommentare

jongste oudste gewildste
Irah

So hoe gaan ons dit teenstaan? Ek vir een gaan beslis nie agteroorsit en kyk hoe my kinders se toekoms in die land nog verder opgedinges word deur ń klomp Afrikaans-haatende rassiste nie.

Flippie

Ek het ‘n voorstel. Plaas in elke swartskool twintig afrikaanse kinders in elke standerd. En laat hulle aandring op gehalte onderwys in hulle moefertaal.

Dink net daaraan tenminste 10 tot 12 Afrikaanse onderwysers in die swart skole met net 20 kinders in elke klas. Geen skoolgelde nie. Gratis staatsvervoer. Na-skoolse aktiwiteite kan buite skoolverbsnd gereël word.

Op skool sal ons natuurlil weier on die taal van die ondetdrukker te praat. Dis ons reg – ons hoef nie Engels te praat nie. Hoofde en vskadviseurs sal dan ook vlot in Afrikaans wees.

Lesufi moet sy eie medisyne inkry.

Justa

Hierdie Lesufi se rassistiese onderrok kan nie verder uithang nie dan trip hy homself.

Lance

Ek stem nie saam met die hof nie dink ek gaan nou maar my eie kind se skool loop brand vanaand ….eeuuuuww

Karin

Ons sal defnitief al die skole, in elke gemeenskap wat negatief hierdeur geraak word, se samewerking nodig he. Alle ouers en gemeenskapslede sal petisies moet teken en wat okal Solidariteit nog kan beplan, 100% moet ondersteun. Solidariteit kan dan al die gemeenskappe se petisies in ontvangs neem en daarmee doen waarmee hulle so goed is nl. opstaan vir ons toekoms! Dankie Solidariteit – sonder julle het ons lankal niks meer gehad nie…