Skooltragedie: Dit is hoe Driehoek-leerders aansterk

Foto: Verskaf

Suid-Afrikaners het sedert verlede week se tragedie by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark hulle agter die skoolgemeenskap geskaar en ondersteuning stroom in uit alle oorde.

Maroela Media het aanvanklik berig vyf leerders het kritieke beserings opgedoen nadat ʼn loopbrug Vrydagoggend by die skool ineengestort het.

Drie leerders is per helikopter na nabygeleë hospitale vervoer vir dringende mediese behandeling en nog 20 leerders het beserings opgedoen wat wissel van gering tot matig.

Die Facebook-blad “Gebedsgroep vir Driehoek-kindersis begin om inligting oor die leerders en die skoolgemeenskap se versoeke en behoeftes ná die tragedie oor te dra.

Volgens dié Facebook-groep gaan dit onder omstandighede goed met Shamone Steynvaart. Dit word wyd berig dat Steynvaart verlam van onder haar arms gelaat is ná die tragedie. Sy ervaar glo pyn in haar rug en hand, maar sal na verwagting Dinsdag uit die waakeenheid ontslaan word en na ʼn algemene saal oorgeplaas word. Hiér sal sy verder aansterk waarna sy na ʼn rehabilitasiesentrum sal gaan vir verdere behandeling. Volgens haar ouers lê daar egter “maar nog ʼn baie seer en emosionele pad voor”.

Nog ʼn leerder, Tasha Opperman, sal Woensdag na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word waar sy volgende Maandag ʼn operasie sal ondergaan om haar gebreekte bekkenbeen te heg. Haar pelvis is ook tydens die ineenstorting op twee plekke gebreek, maar vir dié frakture kan egter nié geopereer word nie. “Dis swaar,” skryf ʼn famiellid op die Facebook-blad.

Dit gaan ook onder omstandighede goed met Cheverne Duvenage. Sy is aan ʼn asemhalingsapparaat gekoppel, maar kan reageer as haar geliefdes met haar praat. “Toe ek haar vra of sy weet dat sy in die hospitaal is, toe skud sy nee. So ons het ’n lang proses wat wag,” skryf ʼn familielid.

Jacques Fourie sou glo ontslaan word, maar het intussen ʼn infeksie opgedoen. Die dokters probeer vasstel wat die infeksie veroorsaak.

Nog ʼn leerling, Chantelle, moet ʼn operasie ondergaan sodat ʼn gebreekte rib met ʼn plaatjie geheg kan word. Volgens ʼn familielid herleef sy die trauma gereeld en sukkel sy om te slaap.

Nicole Nel ontvang reeds fisioterapie en kan met hulp uit die bed tot in ʼn stoel gehelp word. Volgens ʼn familielid is sy maar “styf en seer, maar dis ’n stappie verder as gister”. Indien Nicole met die hulp van fisioterapie binnekort kan staan, sal ʼn operasie nie nodig wees nie.

Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel het in die voorval gesterf.

Begrafnisreëlings vir Olckers is reeds getref en hy sal Vrydag ter ruste gelê word. Die begrafnisdiens is om 15:00 in die Derde Kruis Gemeente in Vanderbijlpark.

Medelye stroom steeds in vir die slagoffers van die tragedie. Talle lede van die gemeenskap plaas sedert Vrydag blomme, kerse en foto’s by die skoolhek van Hoërskool Driehoek om hul meelewing te toon terwyl ander skole ondersteuning bied deur gebedsgroepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan ·

Irma, ek kan net nie dink hoe hartseer die gebeure vir almal verbonde aan daai skool moet wees nie.

‘n mens voel geskeur en stukkend oor die hele voorval.

Korintiers 4:14
“Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek”

Mag God almal wat seer en stukkend is optel en versterk deur die genade van die Allerhoogste.

Leser ·

Hou aan baklei julle! Ons bid vir julle spoedige beterskap – fisies en emosioneel.
Klou vas aan GOD se krag en vertrou op HOM. Niks is vir HOM onmoontlik nie, onthou dit!!

Gert J ·

SA ween saam met julle. Alleen God kan julle deurdra. Steun op Hom.

H3leen ·

Het die skool nie n faktotum nie? Die roes is duidelik te sien!

nannie ·

@H3leen as die roes jou so pla hoekom gaan maak jy dit nie reg nie!
Miskien moet jy @Anni se antwoord mooi lees.

Anni ·

Dit is nie die skool en/of faktotum se werk om die strukture te onderhou of na the Gaan nie, dit is die plig van die dept van openbare werke en onderwys. Skole het die die kundigheid of finansies om strukture, wat jare terug gebou is en veronderstel was om nog jare te Hou, te moet nagaan nie, onderwys dept moet maar hulle spandeer eerder hulle geld op rasseherries opjaag en nuwe “super” skole te bou wat nou nie eers tablets of handboeke het nie, of op rekenaar inskrywingssisteme wat nie effektief week nie en nie aan huidge geboue onderhou nie. Wanneer laas het jy in ñ ou skool rondgeloop en gesien hoe geroes die dakke is en hoe gekraak dit oral is nie? En die dept Trek net skouers op en gee skole nie die toestemming on dit reg te maak nie. Die rede hoekom die land in so ñ toestand is. As jy deur ñ slaggat ry en jou wiel bars, is dit Dan die person wat die wiel laaste versien het se skuld??

Will Oosthuizen ·

Innige meegevoel met die vier leerlinge wat oorlede is se ouers, familie en vriende. Mag julle besondere krag en kalmte ervaar wanneer die verskeie begrafnisdienste plaasvind. Ons is dankbaar vir elke brokkie goeie nuus en bid onophoudelik vir al die beseerdes om spoedig volkome te herstel. Sterk wees, ons voel saam met julle en daar word regoor die wereld vir julle gebid!

wonder maar net ·

Baie dankie vir die terugvoer. Hier word net 4 kinders se vordering beskryf. Wat van die ander?

Tienie Loubser ·

Dit is só hartseer om hierdie berig te lees en tragies dat 4 jong kinder hul lewens verloor het op aarde. Ek troos myself daaraan dat hul ewige lewe saam met Jesus begin het en dat hul geen meer seer ervaar en geen liggame meer geskend is nie. My hart gaan uit aan elke ouer van daardie skool. Staan sterk en bly Glo!

B.B. ·

Innige medelye…met elkeen..en sterkte aan elke ouer, leerlinge en die Vaal 3 hoek gemeenskap.
My beskeie mening..
Elke skool met n Brug wat gestut word met n staal pilaar, MOET vervang word met n geboude steen pilaar, wat versterk word deur staal aan die binnekant..
Die brug by Vaal 3 moet met n ander roete gebou word…ter wille van die kinders, wat elke dag daardie roete moet loop.
Die skool moet n Monument oprig by die skool, ter nagedagtenis aan hierdie 4 leerlinge,
maar ook die name op n plaat aanbring van elke leerling wat fisies betrokke was by hierdie Rampspoedige Vrydag..!

Sarie Swanepoel ·

Ons dink aan elkeen wat deur hierdie hartseer gaan in ons gebede. Mag Onse Hemelse Vader elkeen vertroos en versterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.