Skooltragedie: ‘Hy was ʼn pragtige seun’ sê pa

Roydon Olckers. Foto: Facebook

Roydon Olckers (17), een van die drie leerders wat Vrydag by die Hoërskool Driehoek dood is, se pa sê sy seun se dood was nie tevergeefs nie.

Donovan Olckers het in ʼn onderhoud by die skool aan eNCA gesê hy kon nie vir ʼn beter seun gevra het nie en was baie trots op Roydon. “Hy was ʼn Christen. Hy was baie behulpsaam en dit is net ʼn groot verlies. Hy was ʼn voorbeeld, selfs vir my.”

Olckers het gesê sy enigste vertroosting is dat hy weet Roydon is by die Here. “Ek het myself en my seun belowe sy dood sal nie tevergeefs wees nie. Ek het belowe ek sal vir almal sê om elke dag hul Bybel te lees, te bid en uit te gaan en ʼn verskil te maak.

Jandré Steyn. Foto: Facebook

“Wees lief vir mekaar. Hou op met die haat, die gekibbel en al die nare dinge. Gaan uit en maak ʼn verskil. Dit is wat sy nalatenskap gaan wees.”

Die ander twee leerders wat in Vrydag se ramp dood is, is intussen geïdentifiseer as Jandré Steyn en Marli Currie, albei 13 jaar oud en in gr. 8.

Die Gautengse varswater-oewerhengelvereniging het hulde gebring aan Jandré en gesê hy het met leedwese en groot hartseer van sy dood kennis geneem. “Ons innige simpatie aan sy ouers, Jan en Anzél Steyn, en sy twee ouer sussies.”

Marli Currie. Foto: Facebook

Marli is intussen beskryf as ʼn meisie met ʼn sagte hart en mooi persoonlikheid. Die UTEG Taekwondo-gevegskunsskool het gesê Marli was ʼn student by hulle. “Ons innige meegevoel aan haar ouers, boetie, familie en vriende. ʼn Swartbelt met ʼn sagte hart, en mooi persoonlikheid. Ons gaan jou mis, meisiekind, ons weet dat jy by Jesus se voete nou kan rus, tot ons jou weer sien. Jou plekkie gaan nou leeg wees, maar ons sal jou nooit vergeet nie.”

Honderde mense het Vrydagaand by die Hoërskool Driehoek bymekaargekom om te rou en eer  te betoon aan die slagoffers. Mense het blomme, kaartjies en sagte speelgoed by die skool neergesit om medelye te betoon. Ouers, onderwysers, leerders en lede van die gemeenskap het mekaar getroos en gebid.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het die skool met onmiddellike effek gesluit. Lesufi het sy dank aan die gemeenskap en ouers uitgespreek wat ingespring en gehelp het na die tragedie. Hy het versoek dat al die leerders mediese behandeling ontvang al het hulle nie ʼn mediese fonds nie. Lesufi het ook onderneem om die beseerde leerders in die onderskeie hospitale te besoek.

Foto: Verskaf

Vyf leerders het kritieke beserings opgedoen en drie van die leerders is met helikopters na nabygeleë hospitale vervoer vir dringende mediese behandeling, volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911. Meer as 20 leerders is beseer en hul beserings wissel van gering na matig.

Intussen sal inspeksies by die skool gedoen word om seker te maak al die strukture is veilig voor die skool sal heropen.

Die loopvlak van een skoolgebou na ʼn ander het kort na 08:00 ineengestort. Leerders het glo oor die loopvlak geloop waarna dit ineengestort en op leerders wat onder die loopvlak was, geval het. Die struktuur word intussen met tydelike staalpale gestut om te keer dat dit nie verder ineenstort nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Linda

Mense sover as New Zealand het gister van hierdie tragedie te hore gekom, hul stuur hul innige simpatie aan elke ouer wat n kind verloor het en wens sterkte toe vir al die beseerders. Dit was n skok dat so iets in ons skole kon gebeur het !!!

Madeleine

Ek kan nie myself indink hoe die ouers moet voel nie. Jy laai jou kind by die skool af sonder om te weet vandag is die laaste keer. Ek weet nie wat ek sal doen as dit ooit met my moet gebeur nie. Dit laat my so dink aan die volgende: As ek geweet het dis die laaste keer dat ek jou aan die slaap sou sien raak, sou ek meer moeite gedoen het om jou warm toe te maak. As ek geweet het dis die laaste keer wat ek jou by die deur sien uitloop, sou ek jou gedruk… Lees meer »

Werner

Ek as ouer en voorsitter van 2 skole se Beheerliggame en baie betrokke by albei skole vir die afgelope 11 jaar is baie hartseer na gister se ramp. Ek wil n beroep doen op almal in Suid Afrika om te bid vir hierdie ouers, familie, vriende en al die personeel en leerders wat betrokke is by hierdie tragedie. Ek vra ook dat al die skole asb maandagoggend tydens hul opening n minuut van stilte sal reel.

Gesiggie

My hart gaan uit na elke ouer van die 3 prag kinders wat moes sterf… en ruk aan n mens om die mooi woorde te lees van Donovan – n mens kan in al 3 die kinder se gesiggies sien dat hul voorwaar Engel kinders was. Ons kan soveel keer as wat moet vra? hoekom hoekom hoekom, maar ons sal nooit die antwoord vind. Dit is tragies dat so iets moes gebeur en dit nog by hul skool, wie sou ooit verwag dat jy nog vanoggend jou kind veilig skool toe gevat het, gegroet het…. en n paar ure later… Lees meer »

Mia

Alle simpatie aan die kinders se familie. Ons dink aan julle.