Skooltragedie: Pa vertel seun red glo ander voor hy sterf

Roydon Olckers (Foto: Facebook)

Die 17-jarige Roydon Olckers, ʼn matriekleerling aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, is een van vier leerlinge wat Vrydag oorlede is ná ʼn strukturele ineenstorting by die skool.

Donovan Olckers, Roydon se pa, het Maroela Media Maandagoggend vertel van die dag toe sy wêreld as ouer kort ná 08:00 “uitmekaar gespat het”.

Olckers vertel dat hy Vrydagoggend sowat 08:20 ʼn oproep van sy vrou, Sharlene, ontvang het. Sy het hom vertel dat ʼn loopbrug by die skool ineengestort het en hom gemaan om dadelik na die skool te haas om hul kinders, Roydon, in matriek, en Vincent, in gr. 8, te gaan soek.

“Toe ek daar kom, was Vincent in ʼn toestand en ek het besluit dat die beste plek vir hom weg van die skool, by sy ma, sou wees. Ek het hom by die huis gaan aflaai. Ek het nie eers uitgeklim nie en is toe terug skool toe om Roydon te gaan soek.”

Hy vertel dat hy met sy aankoms na Roydon geroep het en ʼn leerder het hom ingelig dat Roydon onder die betonblok vasgepen is, maar dat hy steeds ʼn hartklop en polsslag het. “Ek het gedink hy is oukei. Ek het gedink hulle gaan seker die betonblok oplig en hy gaan ʼn paar gebreekte bene hê. Dis al.

“My vrou het my weer gebel en gesê dat ek ʼn polisieman wat ons goed ken, moet gaan soek. Hy is op soek na my.” Die polisieman het aan Olckers bevestig dat Roydon onder die betonblok vasgepen was en gevolglik gesterf het.

“Toe spat my hele wêreld uitmekaar. Ek het net geskree ‘nee’.” Olckers vertel hy was in ongeloof oor wat met sy kind gebeur het. Roydon se liggaam was reeds toegegooi toe hy hom vir die eerste keer sien. Net sy bene het uitgesteek.

“Hy het altyd ʼn manier gehad om sy kouse hoog op te trek. Dit was sy styl. Ek het net sy kouse en tekkies gesien, toe weet ek.”

Volgens Olckers is dit steeds onduidelik of Roydon op die boonste vlak of onder was toe die loopbrug inmekaargestort het. Hy het agterna met twee van Roydon se maats gesels. Hul weergawe verskil egter van mekaar weens die chaos en trauma op die dag.

Albei het dit egter eens dat Roydon ʼn skoolmaat, moontlik twee, se lewe gered het toe hy hul vorentoe gestamp het tot op die stoep toe die brug begin meegee het. Dié stoep is aan die brug verbind en het nié saam met die struktuur ingetuimel nie.

Olckers bevestig dat Roydon nié in sy laaste oomblikke gepraat het soos elders berig word nie, maar bloot sy hand op die klasmaat by hom se been gesit het voordat hy dood is.

“Hy was ʼn absolute wonderlike kind. ʼn Kind van God. Hy was ook vriende met almal. Hy was met kinders bevriend wat ook verkeerde dinge gedoen het om hulle reg te help en ʼn verskil in hul lewens te maak.

“Oral waar hy gegaan het, het hy liefde en grappies gedeel. By die skool, by die atletiek, by sy dans en ook tussen sy vriende. Oral het hy net blydskap versprei.”

Olckers glo daar is ʼn groter doel met sy seun se dood. “God het my op Esegiël 3:10 gewys. Dít is waaraan ek vir nou vashou ongeag wat gebeur. Ons is nie kwaad vir God nie.”

Hy vertel sy vrou en Roydon se jonger boeties, Vincent en Justin, is getraumatiseer en hartseer, maar hanteer dinge onder die omstandighede goed. “Dit is ’n proses. Ons gaan hier deurkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

toy ·

Dit is bitterlik hartseer wat gebeur het, mag die Here julle styf vashou in die tyd.

Leser ·

Jis, my hart breek vir julle….geen ouer behoort dit deur te maak nie.

honourable member ·

Hierdie tragedie gaan nog lank in ons almal se gedagtes wees. Ek dink elke dag daaraan. Baie sterkte vir almal.

Hazeldean ·

O hemel my hart….!!
Wat ‘n wonderlike troos het sy ouers dat hul seun aan Jesus behoort en dat hulle hom wéér gaan sien!
Baie sterkte ?

LD ·

Ek huil nog steeds so hartseer. God sal saam met julle deur hierdie hartseer tyd stap.

JdV ·

As ‘n ouer breek my hart vir julle. Ek bid dat die Vader julle sal seën met berusting. Waaraan anders kan mens te midde van sulke tragedies vashou?

Lottie ·

Rus sag mooi kind ?sterkte aan res van gesin.So seer ,mag die Here met julle wees ..

Nicolette van Schalkwyk ·

Donovon sterkte vir jou en jou gesin…. Jou kind is veilig by God…. Ons ken jou deur sake te doen en jy is n wonderlike ouer… Jou kind het uitgedra wat vir hom geleer is…. Mag God julle diepste seer draaglik maak……. Ons innige meegevoel vir jou en jou gesin

Genieve ·

Ek weet nie wat ek as n ouer sou gemaak het nie yoh dis n tragedie wat n vir die skool en sy gemeenskap baie sterkte vir julle almal.

Nicolette van Schalkwyk 1 ·

Donovon sterkte vir jou en jou gesin…. Jou kind is veilig by God…. Ons ken jou deur sake te doen en jy is n wonderlike ouer… Jou kind het uitgedra wat vir hom geleer is…. Mag God julle diepste seer draaglik maak……. Ons innige meegevoel vir jou en jou gesin

Leon pit ·

Hartseer op hartseer ja dit breek n mens om in die omstandighede staande te bly. Ons moet net opkyk en vra waar sal ons hulp vandaan kom Here net U alleen weer.
Ons bid vir julle Drie hoek.

Elsabie ·

Ek lees dit als deur die trane, kan nie in woorde beskryf hoe dit voel nie. Ek is so jammer dat dit gebeur het. My hart gaan uit na jul hele gesin. Baie sterkte en ek vir julle vir vertroosting.

Tina du Toit ·

My hart en gebede gaan uit na al die ouers. Pappa Olckers, baie sterkte aan jou en jou gesin en elkeeen wat deur hierdie seer geraak word. Mag God vertroosting bring. Baie sterkte vir wat voorlê

Kediksie ·

SJOE!!! Dit is nou geloof. Elke haartjie op my lyf het regop gestaan terwyl ek lees wat hy sê. Leer hy my darem nou n les, terwyl ek saam met die res van die wêreld verwyte slinger oor redes vir die brug se ineenstorting. Baie, baie dankie vir jou woorde. Sterkte vir julle familie.

Ronell ·

Dit was ‘n verskriklike ding wat hier gebeur het, Ek en my gesin was die hele naweek saam met julle almal hartseer. Dis net soos ons Dominee sondag in die kerk gese het: Dit is ‘n vreeslike hartseer storie en dit voel so asof dit hier by ons gebeur het en of dit ons mense is wat geraak word. Ek dink hierdie is ‘n tragedie wat lank onthou sal word deur baie mense. Ons kan net bid dat God almal sal vashou en vertroos in hierdie moeilike tyd. Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie aan elke ouer dink en myself so bevoorreg ag om my kinders veilig te he nie. Ek glo ook om elke dag my kinders te koester, want ons weet nooit wat le voor nie. Sterkte aan almal.

CK ·

Ek ken die kinders ouers of skool glad nie, maar julle is almal in my gebede. Sterkte

Ronel du Plessis ·

Baie sterkte aan al die ouers in hierdie tyd en die wat nog voorle. Mag God julle versterk en vashou in Sy hand.

LS ·

Ai dit is vreeslik hartseer, ek kry oor en oor hoendervleis as ek van hierdie berigte lees oor die groot tragedie. Sterkte aan al die ouers wat deur hierdie ding moet gaan, ek bid vir julle. STERKTE !!!

MERAAI ·

JY IS ONS GROOTSTE HELD – My hart gaan uit na die familie en vriende.

Petro ·

Wat ‘n amazing familie is julle nie. ‘n voorbeeld vir ons almal. Baie sterkte deur hierdie moeilike tyd wat nog voorlê ?

Mel ·

My geloof het my al ‘n paar keer in twyfel gelaat, na hierdie berig is my vrae beantwoord. Mag God jul troos in hierdie hartseer tyd! RIV seun en so ook vir sy mede leerders ? dink aan almal wat hierdeur gaan

Francoinette van Zyl ·

Die Here sal jul entuit dra. Hy is volkome in beheer en werk heen na die goeie..Meer mense sal van Hom hoor en hul bekeer en ewig lewe , waar jul getuig oor Sy almag en goedheid en krag wat jul elke dag opnuut deurdra en Manna uit die hemele wat jul voed.

Hierdie DVD het vir ons inhoud gegee uit die WOORD, om te verklaar wat ons beleef oor God in hierdie menslik onmoontlike situasie, wat nie vir God so deurmekaar is as vir ons nie.
HOPE, WHEN LIFE HURTS MOST
https://www.youtube.com/watch?v=xlXEryBRu6Q

Anita ·

Ek het eers 2 j na my al kind se dood werklim die realiteit besef sy kom nie terug nie. Daarna het ek erg aan depressie begin ly. Maar toe ek nie meer kon aangaan met die lewe nie en nie meer n plan b gehad het nie, het ek as kind van God ,God werlklik as my Vader ontdek. Waar Hy my vrede gegee het. Waar ek nou in n verhouding met die Allerhoogste staan, die besef Hy is my Vader, die Ek is… Vir almal wat deur dood van kinders gaan, weet Hy is die Heilige Ek is. Bly by Hom. Sterkte

22 Jaarlange kliënt ·

Dit is inderdaad ‘n swart tydperk vir ons hier in die Vaaldriehoek. Ek ken Donovan en Sharlene baie jare al en is ‘n kliënt van Sharlene sedert 1997. Sy is ‘n haarkapster en sien haar dus gereeld. Roydon, Vincent en Justin het voor my grootgeword en ken ook die 3 seuns goed. Roydon veral is inderdaad soos Donovan tereg noem ‘n lieflike seun van binne en buite gewees.
Dit is nog altyd vir my so mooi wanneer ek in die salon is/was wanneer die drie boeties so mooi met hulle ma gepraat het. Sedert ek Vrydag van ‘n kollega (wat ook ‘n kind in Driehoek Hoërskool het) dat Roydon een van die oorledenes was kon ek nie ophou huil nie. Ek bly sy gesig voor my sien wanneer sy ma my hare blaas en hulle terug is vanaf die skool en hy langs haar staan en opgewonde vertel “Mamma dit of dat het gebeur of so en so het dit gesê.” Roydon Tannie gaan jou gesiggie baie langs Mamma mis wanneer ek oor 2 weke 1 uur moet ingaan salon toe. Rus sag liewe seun.
Donovan, Sharlene, Vincent en Justin God vou julle stewig toe in die palm van Sy hande.

Mamma ·

At times like this, words seem so inadequate…. Please know that we are praying for you & your family. ?

Wishing you peace to bring comfort, courage to face the days ahead and loving memories to for ever hold in your heart !!!

Tish ·

Sterkte aan julle as gesin, sowel as almal wat deur die tragedie geraak word . N Hartseer gebeurtenis, waar ons net op Hom kan vertrou om krag te kry. Julle is elke dag in my gedagtes!!!
Glo, vertrou en bid!!!

Hanlie Ebersohn ·

As Mamma huil my hart vir julle. Die pyn moet ondenkbaar wees. Ek bid dat die Here julle hierdeur sal dra.

Dirk van der Merwe ·

Ek kan niks meer aanheg as wat reeds hier geplaas is nie, Die stuk het my totaal en al emosioneel. Maak asb. seker dat die ouers op een of ander manier al hierdie pragtige boodskappe & gevoelens uitinge kry . Dit sal troos op ‘n manier. R.I.V. jongleeu.

Anita ·

Ons land is siek, elke dag gebeur daar die diepseer dinge. Hierdie seun sou iemand groot eendag kon wees want hy was onselfsugtig. Hoe kan ek my simpatie aan sy ouers betoon, ek wens ek kon die kinders met ‘n towerwoord lewend maak, dit kan ek nie!, maar elke ouer se pyn is ook ons pyn, en glo my ons het ook trane gestort want dit het ons oopgekloof tot in ons diepste wese.

Ronelle ·

Bje sterkte aan elke leerling en ouer,ons dra jle op in ons gebede

Lenie ·

Dis n pragtige getuienis, skoon in trane.
Ek weet julle seun is nie meer hier nie maar dans nou voor die troon van God.
God is baie trots op hom

Mag God julle harte genees en dankie dat julle die getuienis gedeel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.