Skoolvakansie in die weegskaal: Dept. vra ‘steun’ vir ingrypings

Die vertraging met die aanvang van die huidige skooljaar en die verlengde afwesigheid van leerders uit die skool gaan ʼn blywende negatiewe uitwerking hê. (Argieffoto)

Die sluiting van skole en ontwrigting aan onderrig en leer weens die Covid-19-pandemie het die vooruitgang wat die afgelope 20 jaar in die onderwys gemaak is, ongedaan gemaak.

Dít volgens die departement van onderwys wat sê hy is bekommerd oor die leerverliese.

Die departement sê internasionale ondervinding oor dié soort leerverliese weens ontwrigting deur byvoorbeeld natuurrampe, dui daarop dat kinders wat daardeur geraak word, later laer algehele onderwysuitkomste behaal en in hul loopbane selfs minder geld verdien.

“Ons het begin om die Covid-19-verwante leerverliese in Suid-Afrika te meet deur dít wat kinders verlede jaar geleer het, te vergelyk met wat hulle vantevore in ʼn normale skooljaar geleer het. Dit dui daarop dat tussen 50% en 75% van ʼn gewone jaar se onderrig verlede jaar verlore gegaan het,” sê dr. Stephen Taylor, direkteur vir navorsing by die departement van basiese onderwys.

Die vertraging met die aanvang van die huidige skooljaar en die verlengde afwesigheid van leerders uit die skool gaan ʼn blywende negatiewe uitwerking op die samelewing hê – en nie net op die onderwyssektor nie, waarsku die departement.

Hoewel inligting net vir sekere grade en leergebiede soos lees bekend is, gaan dit waarskynlik ʼn uitwerking op alle grade en vakke hê, sê Taylor.

Leerders het ʼn week se skooltyd tydens die verlengde wintervakansie verloor, wat beteken dat die getal skooldae, soos aanvanklik aangedui op die skoolkalender, verminder is.

Maroela Media het vroeër berig die Oktober-skoolvakansie sal moontlik geskrap word om dié verlore skooldae in te haal.

Die departement se voorstel is dat die derde en vierde skoolkwartaal deur ʼn langnaweek geskei word deur 23 September as ʼn skoolvakansiedag te verklaar, maar dit is ʼn voorstel wat nie die steun van een van die vyf erkende onderwysvakbonde geniet nie.

Die departement sê die uitwerking van leerverliese sou waarskynlik groter in armer gemeenskappe gewees het waar kinders minder toegang tot doeltreffende afstandonderriggeleenthede en steun by die huis het.

Bywoningsyfers by sentrums vir vroeër kinderontwikkeling het ook sedert die aanvang van die pandemie aansienlik gedaal en die uitwerking op hierdie sentrums sou volgens die departement ingrypend gewees het.

Studies wys dat selfs minder kinders as tevore skool bywoon, maar dit is onduidelik of dit ʼn tydelike verskynsel is en of meer kinders as gewoonlik permanent uit die stelsel val.

Die departement sê as aangeneem word dat die skoolstelsel nie suksesvol die vlakke van voor die pandemie kan bereik nie, die voorspelde gr. 12-uitkomste mettertyd laer gaan wees. Dit kan oor die lang termyn lei tot ʼn verhoogde uitvalkoers vir leerders in gr. 10, gr. 11 en matriek. “Dit is op hierdie punt dat leerders met ʼn swak leergrondslag in groot getalle begin uitval. Dit skep ʼn dringende behoefte om verlore onderrigtyd in te haal.”

Die departement doen dus ʼn beroep op alle belanghebbendes in die bedryf om pogings te steun wat daarop gemik is om te verseker dat onderwys sonder enige verdere vertraging of ontwrigting voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
isabelle

ek persoonlik dink dit is beter dat die kinders opvang
daar was my seun gereeld af en 1dag skool een dag af tussen in
Ek dink dis nodig dat daai tyd ingehaal word…kinders het maar slap gele alhoewel hul huiswerk gekry het om tuis te doen …net nie dieselfde nie

Adriaan

Net soos daar skole is wat minder gedoen het om leerverliese in te haal, is daar skole wat uit eie motiveering baie gedoen het om dit in te haal. Bv, my niggies het gedurende die Julie vakansie huiswerk gekry vir 2 van die 3 weke en het op Vrouedag (9 Aug) skool gehad van 08:30 tot 15:30. Hoekom word skole wat hard gewerk het se pogings nie erken nie en word daar gepoog om almal se Oktober vakansie te kanselleer?

Cobus

Die vooruitgang wat die afgelope 20 jaar gemaak is!
Regtig?
In staats onderwys?
Ag Regtig?
HA, ha, ha, ha!
Is dit nou ‘n grappie of Regtig?

Janine

Vooruitgang die laaste 20 jaar? Is dit ‘n grap? Ek ondersteun die besluit ten volle, want ons kinders het meer vakansie as skool gehad die laaste 18 maande plus! Maar moet asb nie voorgee julle het die laaste 20 jaar ‘vordering’ gemaak nie. Inteendeel! Julle het als afgegradeer!!!

annie

Wat hulle nie sê nie is dat duisende leerders sedert die begin van die pandemie wegbly van hul skole en ‘n groot agterstand ontwikkel. Dit is ‘n grootse taak om hulle weer op te spoor en aan te spoor vandaar dat hul die bokkies op kraal probeer hou. Om in graad vier nog nie jou naam te kan skryf nie gaan later tot gevolg hê dat matrikulante ook nog nie hul van sal kan spel nie. In ‘n Kanadese staat is besluit om migrante vry te stel van onderrig in lees, skryf en somme maak… Die droom van die jakkals… Lees meer »