Skoonseun bieg oor moord op skoonma: ‘Ek was kwaad’

Stefan Visser Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser (29) het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig gepleit vir die moord op sy skoonma, past. Elsabe van Niekerk (55), die vrou wat hy met ʼn mes doodgesteek het.

Adv. Philip van Staden, Visser se regsverteenwoordiger, het Visser se pleitverduideliking aan regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen voorgelees.

“Ek Stefanus Johannes Visser erken hiermee dat ek ʼn beskuldigde is in die saak. Ek verstaan dat ek aangekla word van moord en dat die staat aanvoer dat ek op 11 April 2016 in Gezina, Pretoria, vir Elizabeth Elaine van Niekerk onregmatig en opsetlik gedood het deur haar herhaaldelik met ʼn mes te steek,” lui Visser se pleit.

“Ons het oor en weer op mekaar begin skreeu en die oorledene het my met haar handsak geslaan en ook teen die bors geslaan met haar vuis. Ek het haar toe uit woede met die mes begin steek,” voer Visser aan.

Hy het die agtergrond wat tot die misdryf gelei het in sy pleit verduidelik. Volgens Visser is hy en sy vervreemde vrou, Leandri Visser (30), in 2008 getroud en het hulle mekaar geken vandat hulle 16 jaar oud was. Hy het van 17-jarige ouderdom by die oorledene en haar man gewoon tot September 2015, toe hy en sy vrou vervreemd geraak het.

Volgens Visser het finansiële probleme daartoe gelei dat hy en sy vrou weg van mekaar beweeg het en uiteindelik in ʼn egskeidingsgeding betrokke geraak het. Visser het gesê hy het daarna gesukkel om toegang tot hul twee jong kinders te kry.

“Op Saterdag 9 April het ek ʼn rugbywedstryd van my seun by Laerskool Wonderboom bygewoon. Toe ek daar aankom, het ek my vervreemde vrou gegroet. My skoonpa het later daar aangekom. Ek en hy het woorde gehad, omrede hy van mening was dat ek hom nie gegroet het nie, maar ek het wel aan hom verduidelik dat ek hom nie gesien aankom het nie.

“Die kinders het Sondag 10 April by my gekuier en ons het by my ouers se huis gebraai. Ek en my pa het die kinders later die middag teruggeneem na die oorledene se woonplek in Roseville.” Hy het verduidelik sy ouers se huis en die huis waar hy saam met sy skoonouers gewoon het, is sowat 500 m van mekaar.

Visser het gesê hy is die dag van die moord met sy vriendin, Chantelle Mulder, se motorfiets na die werkswinkel in Gezina, wat aan die oorledene en haar man, Dirk van Niekerk, behoort. Hy het glo een van die werktuigkundiges daar geken en saam met hom ʼn paar biere gedrink.

“Ek het gedink as ek die oorledene daar aantref, dat ek haar om verskoning wil vra oor die voorval tussen my en my skoonpa die Saterdag by die rugbywedstryd.” Van Niekerk was egter nie in daardie stadium by die werkswinkel nie.

Visser het in ʼn stadium vir die werktuigkundige gesê hy gaan badkamer toe en terwyl hy in die badkamer was, het hy Van Niekerk daar hoor aankom. “Ek het uit die toilet geloop en op pad na die werkswinkel het ek die oorledene ontmoet toe sy op pad was na die kantoor. Ek en die oorledene het met mekaar begin gesels en die geselskap het gegaan oor my en haar dogter se egskeiding en die kinders.

Volgens Visser is dit toe dat Van Niekerk hom met die handsak bygedam het. Visser beweer hy het nie beplan om Van Niekerk te vermoor toe hy na die werkswinkel gery het nie, “maar nadat ons begin argumenteer het, het ek met opset haar met die mes begin steek”.

Hy het verduidelik dat hy kwaad vir sy skoonouers was oor wat die Saterdag by die rugbyveld gebeur het en hy weer kwaad geword het toe Van Niekerk hom met haar handsak geslaan het.

“Ek het voordat ek haar begin steek het, sowel as terwyl ek haar met die mes gesteek het, geweet en besef dat die steekwonde haar dood kan veroorsaak. Ten spyte van dié besef, het ek oorgegaan met my onregmatige handel. Ek erken dat hoewel ek kwaad was, ek nie die reg gehad het om die oorledene met ʼn mes te steek nie.”

Hy het erken dat sy eie lewe nie tydens die voorval in gedrang was nie. Hy het ook nie bedreig gevoel of dat hy homself moes verdedig nie.

Maroela Media het vroeër berig Visser het met ʼn rofgeskeerde baard, geklee in ʼn noupassende T-hemp en denim in die beskuldigdebank gestaan. Hy het aansienlik maerder geword as ʼn jaar gelede toe sy borgtogaansoek van die hand gewys is.

Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het Visser skuldig bevind aan moord en die saak tot Donderdag uitgestel vir vonnisverrigtinge om te begin. Visser sal na verwagting self getuig ter strafversagting.

Lees alle vorige berigte oor die Moot-moord op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wow ·

Wow dit is nie hoe jy val, maar hoe jy opstaan. Ek weet in my hart jy gaan jou straf vat soos ‘n man en wie weet eendag as dit verby is, is jou kindertjies groot en kan julle om ‘n tafel sit. Jy het werklik die beste regshulp wat ek nog van gelees het, regte leiding al is dit jou eie voorstel, want dit kan ek beslis aflei dat jy werklik al ‘n nuwe lewe begin het, mag dit werklik net beter met jou gaan en jou lewe en getuienis vir ander jong mans in dieselfde situasie van nie behoorlik groot geword / groot fout maak (altans dit verhoed dalk)/ die foute regmaak op die regte manier. Ek moet eerlik sê toe ek jou mooi gesiggie sien, kon ek raai, altyd met alles weggekom en jy betaal die prys daarvan, maar jong man daar is hoop vir jou. Sterkte met jou straf en gryp elke rehabilitasie geleentheid aan, kry ‘n behoorlike opleiding dat jy eendag weer vir jou kindertjies kan sorg.

Cherokee ·

As dit ‘n plaasmoordenaar was wat iemand met ‘n mes vermoor het sou julle ‘n ander deuntjie gesing het. Plaasmoordenaars het dalk ook kinders. Is dit omdat dit ‘n wit moordenaar is dat jul wysie verander het? Of wens julle plaasmoordenaars ook die beste toe? Opsigtelik vergeet julle dat ‘n jong vrou van haar lewe op aarde ontneem is en dit omdat sy die beste vir haar dogter en kleinkinders wou gehad het. Julle sal moet een of ander kundige gaan spreek.

PJ ·

Skuld erkening is die eerste stap na genesing. En onthou die Here tap so n pad saam jou, doen alles in jou vermoe en soek hom eerste in alles wat jy doen en hy sal vir jou sorg. Sterkte aan almal betrokke.

Fritz mulder ·

Woede laat mens nie dink nie. Jy het net n fout begaan. Ek sien jou nie as n moordenaar nie. Sterke en hoop alles beste vir jou

Harambe ·

Egskeidings is lelike goed. Veral as derdepartye begin “in-chip” en aspris raak. Regverdig dit moord? Nee, glad nie. Maar kan dit jou tot moord ryf? Blykbaar.

Geskok ·

Fritz ek verstaan nie hoe sien jy nie die persoon as n moordenaar nie. Moordenaar is hy in elke opsig van die definisie. Dat hy erken het dat hy skuldig getuig daarvan dat daar moontlik hoop is vir hom. Woede laat n mens nie dink nie… se almal as versagtende omstandighede tot n misdryf en hoeveel mense se lewens is nie al deur goed soos padwoede ens vernietig nie. Om net te se ek was kwaad en dan te dink jy kan letterlik met moord weg kom is darem werklik verskriklik. Ek was al self menige kere woedend , my nog nie gedryf om iemand te vermoor nie. Daar is mense wat hul ma en ouma verloor het , maar dis ok want woede laat n mens nie dink nie…

E.K. - ek sê net! ·

Baie sleg dat dit gebeur het en kan nie help om jammer te voel vir die man nie. Moord is nie die antwoord maar as mens geprovokeer word en daar is kinders en egskeiding betrokke dan dink ek mens tree soms redeloos op. Die oorledene se gedrag laat mens ook maar kop skud – al wat ek kan sê

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.