Skoor pak voormalige Prasa-lede

(Argieffoto: Untu)

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het Woensdag onderneem om die nasionale vergadering te versoek dat voormalige raadslede van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) as misdadiger-direkteurs te verklaar sodat hulle nie in die toekoms weer op die raad kan dien nie.

Dit is ook van toepassing op die voormalige tussentydse raad van Prasa, het Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, gesê.

“Prasa het die komitee ingelig dat die voormalige raad die bestuur verhoed het om op volle kapasiteit te werk, veral wat betref risikobestuur en finansiële bestuur,” het hy bygevoeg.

Hlengwa het gesê Skoor sal ʼn volledige parlementêre ondersoek van stapel stuur om te bepaal wanneer die probleme begin het, aangesien die komitee van mening is dat die probleme begin het nog voor die tussentydse raad aangestel is. “Die komitee glo dit is nodig om so ver as nodig terug te gaan.”

Hy het gesê vorige raadslede moet ook aanspreeklik gehou word.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het in Desember die tussentydse raad ontbind en Bongisizwe Mpondo aangestel as die enigste administrateur vir ʼn periode van 12 maande. Mpondo het Woensdag die komitee toegespreek oor maatreëls om Prasa te stabiliseer en Skoor het dit goedgekeur.

ʼn Verbruikersregtegroep, United Behind, het Dinsdag ʼn aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien teen Mbalula se besluit om Mpondo aan te stel. Die groep voer aan ʼn enkele administrateur sal Mpondo die geleentheid bied om op te tree sonder wettige en doeltreffende oorsig.

Prasa word beskou as een van die talle staatsentiteite wat deur korrupsie lamgelê is. Mbalula het dit as ʼn “gebroke organisasie” beskryf wat “sukkel om ʼn doeltreffende treinstelsel te verskaf aan miljoene behoeftige pendelaars”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zirk ·

Nou ontpop Mbalula ewe vroom as die redder van elke staatsdepartement waaroor hy aangestel word. Min wetende dat daar mense is wat weet waaroor daar baie opgewonde en grootpraterig gesels en feesgevier was op sy 40 jarige partytjie in ‘n luukse restourant in Bloemfontein. Van vroegaand deurnag tot die vroeë oggendure. Na R110,000 se duur whiskey en vonkelwyn het kaders met mekaar gejil oor wie watter tenders gaan losslaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.