Skoor sal Kusile- en Medupi-kragstasies besoek

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Skoor, die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, sal vandeesweek besoek aflê aan die Kusile- en Medupi-kragstasies. Die komitee sal ook met die raad en uitvoerende bestuur van Eskom vergader ná die oorsigtelike besoeke.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, het gesê die komitee sal Medupi-kragstasie Dinsdag besoek en Woensdag besoek aflê aan Kusile-kragstasie. Die vergadering met Eskom is vir Donderdag geskeduleer.

Natasha Mazzone, DA-LP, het gesê die party het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Khaya Magaxa, skriftelik versoek om seker te maak dat Eskom ʼn gedetailleerde verslag by die parlement indien oor sy omkeerstrategie. Berigte dui daarop dat ʼn interne voorlegging deur Eskom se uitvoerende hoof, Jabu Mabuza, oor die kragvoorsiener se omkeerstrategie, aan die media uitgelek het.

“Dit is prysenswaardig dat Eskom begin om na oplossings te soek vir sy ontelbare probleme, maar die kragvoorsiener kan dit nie doen sonder om die parlement as ʼn oorsigtelike liggaam in te sluit in die proses nie. Die DA het dus versoek dat die kragvoorsiener sy strategie aan die parlement voorhou,” het Mazzone bygevoeg.

Die dokument, wat uitgelek het, sit na bewering ʼn aantal strategieë uiteen om Eskom weer op sy voete te kry. “Skuldherstrukturering van R130 miljard oor die volgende drie jaar deur die regering, tesame met langtermyn skuldherstrukturering, is spesifiek kommerwekkend. Asook die beweerde inkomstebestuur, wat ʼn verwagting stel dat die nasionale regering bo-inflasie tariefverhogings sal goedkeur,” het Mazzone gesê.

“Alhoewel ons die behoefte ondersteun dat Eskom moet herstruktureer, is dit kommerwekkend dat hulle blykbaar ʼn eensydige besluit gemaak het om strategieë te implementeer wat ʼn ernstige impak sal hê op Suid-Afrikaanse belastingbetalers en ondernemings. Die voorgestelde herstrukturering van Eskom se skuld aan die regering en bo-inflasie tariefverhogings kan dalk Eskom se las verlig, maar dit sal beslis nie die las op Suid-Afrika se verbruikers verlig nie.”

Sy het gesê dit is ondenkbaar dat die Suid-Afrikaanse publiek verder moet betaal vir die korrupte wanbestuur van Eskom. “Die entiteit moet seker maak dat hy heeltemal deursigtig is met sy omkeerstrategie, aangesien Suid-Afrikaners verdien om te weet hoe hulle deur die veranderinge geraak gaan word.”

Die DA het ʼn alternatiewe plan om Eskom te red en te stabiliseer deur sy “Goedkoper Energie-wetsontwerp”, wat Eskom in twee afsonderlike entiteite wil verdeel – ʼn eenheid wat op kragopwekking sal fokus en geprivatiseer word; en ʼn eenheid wat fokus op verspreiding en oordrag. “Dit sal die koste van elektrisiteit verlaag, noodsaaklike mededinging aanmoedig en seker maak dat Suid-Afrika nie gedwing word om te betaal vir die korrupsie en wanbestuur by Eskom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jimmy ·

Privatiseer eerder die sektor en laat meer deelnemers toe. Eskom word dan bloot ‘n deelnemer.

Al ·

Eskom en sy kragstasies is al jare in groot finansiële gemors en daarvoor neem ek die ANC kwalik dat hul dit so ver laat gaan het.
Ek hoop SKOOR gee hul behoorlik opdraand, ons belastingbetalers is vuisvoos gekaap deur die regering se onbevoegde besluite.

Johan Pretorius ·

Heeltemal te laat . Dit moes al jare gelede gedoen gewees het.

Pieter ·

Stem johan dit is tyd vir belastingboikot dan gaan hulle ore dalk oop praat help net mooi niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.