Skors ANC-woordvoerder ná seksklag, vra DA

Pule Mabe, ANC-woordvoerder. Foto: Facebook

Die ANC-woordvoerder, Pule Mabe, se aanbod om verlof te neem nadat ʼn klag van seksuele teistering teen hom ingedien is, is nie genoeg nie gegewe die erns van die aantygings teen hom, sê die DA.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, sê die amptelike opposisie doen ʼn beroep op die ANC om Mabe te skors tot alle ondersoeke in die saak afgehandel is. “Die aantyging wys die seks-vir-werk-plaag is endemies in ANC-strukture en dat dit tot op die hoogste vlak in Luthuli-huis strek.”

Hill-Lewis sê Mabe is nie die eerste ANC-amptenaar wat van seksuele wangedrag beskuldig word nie. “Die voormalige Wes-Kaapse ANC-voorsitter Marius Fransman het na bewering in Januarie 2016 onvanpas aan sy assistent gevat. Ons verwelkom die nasionale vervolgingsgesag se besluit om Fransman te vervolg.”

Byna 10 miljoen mense in Suid-Afrika is werkloos, sê Hill-Lewis, maar pleks dat die ANC dié probleem help oplos, dra die party by tot die probleem deur nie op te tree teen amptenare wat aandring op seksuele gunsies in ruil vir werk nie.

ʼn Griewepaneel in die ANC is tans met ʼn ondersoek besig nadat Mabe se persoonlike assistent hom van seksuele teistering beskuldig het.

“Die ANC het [Mabe se] versoek aanvaar en bedank hom dat hy eerder die integriteit en beeld van die ANC voor sy eie stel,” het die ANC Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Zizi Kodwa en Dakota Legoete, lede van die party se nasionale werkskomitee, sal voorlopig – tot die uitkoms van die saak – as woordvoerders optree.

Die ANC het Maandag aangekondig die party het ʼn klagprosedure teen Mabe ingestel nadat ʼn klag van seksuele teistering teen hom ingedien is. Die party wou egter nie nadere kommentaar op die bewerings lewer nie en het dit as ʼn “interne proses” bestempel.

Dit volg nadat die media onthul het dat Mabe se 26-jarige persoonlike assistent die klagte teen hom ingedien het. EWN berig die vrou het ʼn brief van 14 bladsye aan Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, geskryf waarin sy om ingryping pleit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karolis ·

Die vorige leier het mos ‘n voorbeeld gestel en sodoende vir sy volgelinge gewys dat die oortreding sowel as die nagevolge nie so erg is nie.

Snowball ·

“Nearly all men can stand adversity, but if you want to test a man’s real character, give him power.” – Abraham Lincoln.
Hierdie is net weer ‘n bewys van die vesel waarvan die ANC aanmekaar gesit is; die misbruik van mag, die minagting vir vroue en die afwesigheid van ‘n morele kompas, want hulle gee hom ‘n agterdeur om uit te glip, deur “verlof” toe te staan. Skorsing sou gepas wees, en geen “interne” ondersoek nie, maar ‘n onafhanklike, onpartydige ondersoek sou deursigtigheid en regverdigheid waarborg. cANCer weer aan die toesmeer soos gewoonlik. En van watter “beeld van die ANC” praat hulle? Die een wat krioel van korrupsie?

Hans ·

As dit so gaan in die top ANC strukture, dat jy lekker vet pakket kry as jy droog gemaak het en dan “aanbied om te bedank” spreek boekdele!
Hoekom nie ook in hierdie geval nie? Hy smile van or tot oor…leeekkeerr

Peet ·

Hy het aangebied om verlof te neem, nie te bedank nie.
Lees asb. berigte AANDAGTIG.
Ja, ek verpes die ANC net soveel soos julle.

MANIE ·

Baie vreemd dat die anc vrouliga nie so opruk in massas as dit n swart man is veral van die anc .Hulle het nog die mentaliteit van die man is baas en kan maak wat hy wil. Die weke van kamtige protes teen vroue is net skeinheiligheid en bekpraatjies van veral vrouegroepe binne anc en eff . Hulle is gewoond die mans kan seks op aanvraag kry en hulle moet maar stilbly

JG ·

Die cANCer Vroue-liga is ook maar net n front wat voorgehou word en raas en blaas soos wat dit hulle pas met daai korrupte Dhlamini vrou aan die voortou. Jy is heeltemal reg Manie…hulle skitter in hul afwesigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.