‘Skors McBride onmiddellik’

Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (September 2016) Foto: ANA

Die VF Plus het die onmiddellike skorsing van Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), geëis. Dit kom ná bewerings dat hy sy dogter aangerand het.

“Fikile Mbalula, die minister van polisie, moet dadelik optree en McBride skors hangende die afhandeling van die saak waarin beweer word hy het sy dogter aangerand,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus gesê.

Groenewald meen die feit dat die hof borgtog van R10 000 aan McBride toegestaan het, is ʼn aanduiding dat dit ʼn baie ernstige saak is aangesien die bedrag hoog is vir ʼn aanrandingsaak.

“McBride is in ʼn posisie waar verskillende bronne tot sy beskikking is en ondersoekbeamptes in sy saak kan maklik geïntimideer en onbehoorlik beïnvloed word. Hy moet daarom onverwyld geskors word totdat die saak afgehandel is,” het Groenewald gesê.

Groenewald meen McBride was vinnig om te vra dat die vorige waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, geskors moet word totdat die ondersoek teen hom afgehandel is. “Dubbele standaarde kan nie toegelaat word nie en die minister moet McBride daarom onmiddellik skors,” het Groenewald gesê.

Maroela Media het vroeër berig Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het in ʼn verklaring bevestig dat McBride in die Pretoria-landdroshof verskyn het. “[McBride] is op R10 000 borgtog met voorwaardes vrygelaat. Hy moet op 2 Oktober weer in die hof verskyn,” het Dlamini gesê.

Die aanklag teen McBride volg nadat sy tienerdogter beweer het haar pa het haar aangerand en probeer wurg. EWN berig die dogter het aan die nuusagentskap gesê die beweerde aanranding was nie ʼn geïsoleerde voorval nie. “Dit gebeur heeltyd. Vandat ek by hom begin bly het, amper elke aand of elke tweede aand. Wanneer hy ook al ʼn kans kry om met my te baklei, sal hy my slaan,” het die dogter aan EWN gesê.

McBride het die bewerings ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Adrian ·

Nou ja nou kom die man se ware kleure uit in sy familie onthou die ou het vroue met n bom opgeblaas in n dameskroeg toe hy agterna gevra is of hy nie spyt is oor wat hy gedoen het nie was sy kommentaar hy sal dit weer doen. Geen simpatie met die ou nie … so suffer boet

Jan ·

As jy kon bomme plant glo ek jy is ook in staat om jou dogter te slaan. Wolf in skaapklere. Geen simpatie vir hom nie.

Koos1 ·

Jinne, hy is meer in die hof as op kantoor. Is dit dalk weer ‘n komplot? Gebruik die VF+ dit as politieke punte? Elke saak tans, glo ek, het ‘n politieke onderrok wat uithang. En nee ek is nie ‘n Macbride ondersteuner nie!

Chris Ws ·

Koos1 ,Weet jy dat McBride onskuldige mense met bomme opgeblaas het?Ek vra maar net.En waar kom die VF+ in die storie in?Ek vra maar net.

Zena ·

Wonder net waarom hy van sy werk geskors moet word. Word almal van hul werke geskors as hul een of ander aanranding saak teen hul het. Deesdae noem almal alles aanranding….as jy jou kind probeer tug of reghelp…ai. en ek bedoel niks daarby nie. Ek bedoel dit is maar oor die algemeen so.

C ·

As jou kind merke het soos op News24 gewys is? Toe die nuus breek het hy self gese ‘hoe kan ek haar wurg as sy agter my gesit het?’ Dit moet ‘n interessante klagstaat wees.
Een van sy ander kommentare toe die nuus breek was dat hy nie geweldadig is nie, hy is nie ‘n moordenaar nie. Wat noem jy die persoon wat verantwoordelik was vir die dood van ons weermag lede 20 Mei 1983.

vrikie ·

Mc Bride blyk onaantasbaar te wees na gelang van al die hofsake en skandale waarin hy betrokke was, het selfs die galg ontduik

lorayne ·

Ek is verseker nie ‘n McBride fan nie, was nooit en sal beslis nooit wees nie . . . Maar vandag se ongedissiplineerde tiener tefies, KAN mens tot geweld dryf! Ons lewe in die tyd van streng kinders en gehoorsame ouers . . .

Veritas ·

Dit is die rede hoekom ek nie vir die VF+ sal stem nie. Dié ouens dink met hulle harte en nie hul verstande nie. Die druk wat die polisie, Ipid en anderstaatsinstansies nou skielik ervaar het sy oorsprong in die presidensie. Zuma probeer alles in sy vermoë om uit sy penarie te kom en probeer sy vyande teen mekaar opmaak. Hoekom moet ons dit probeer keer? Hoe groter die kloof tussen die onderskeie faksies van die ANC, hoe beter vir die land. Benoude katte maak benoude spronge en die hele spul sit met geraamtes in die kas wat hulle eerder daar wil hou. Dié skeuring in die ANC is die geleentheid waarop ons almal wag en nou wil Pieter Groenewald dit probeer keer. Waar kom die VF+ aan hierdie ‘leiers’?

Org ·

Wat soek hy nog op vrye voet, hy is glad nie amnestie gegee vir sy bomplantings nie, maar hy sit saam met die groot honde en kraai.

snoefie ·

n hond wat kan kraai org? geen wonder die land is in sy maai nie.

Hennie ·

Mc Bride is ‘n konstante bron van ongeregtigheid, en klim elke keer na ‘n verhoogde pos nadat hy aangekla is. Hierdie karakter is ‘n uiterste manupuleerder wat weet hoe om Zuma om sy pinkie te draai. Binnekort gaan die skaal draai en hy sal moet instaan vir sy dade, laat ons geduldig wees want dit gaan lekker wees om dit te aanskou.

Steenkool ·

Man hyt niks oorgekom toe hy bomme geplant het nie. Hyt niks oorgekom toe hy dronk in n motor ongeluk was nie. Vir wat sal hy nou iets oorkom. Julle mors julle tyd.

Toppie ·

En hulle weier borg aan die KFC manne en hulle word aangekla vir poging tot MOORD , nou wat nou van Mr Mcbride wat noem ons regstelsel dit !!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.