Skors OB nóú, vra DA

Openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die DA het die Nasionale Vergadering se besluit dat die geskiktheid van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, om haar pos te beklee ondersoek word, verwelkom – en gevra dat sy dadelik geskors moet word.

Die besluit is met ’n meerderheid van 275 stemme teen 40 goedgekeur. Een LP het buite stemming gebly.

“Die stem is ʼn aanduiding van hoe parlementariërs in die beste belang van Suid-Afrikaners kan saamwerk,” het Natasha Mazzone, hoofsweep van die DA, gesê.

“Die DA doen nou ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om Mkhwebane te skors hangende die ad hoc-komitee se ondersoek na haar geskiktheid vir die amp.”

Die paneel wat aangestel is om te besluit of daar meriete is in die pogings om Mkhwebane van haar amp te onthef, het bestaan uit regter Bess Nkabinde, adv. Dumisa Ntsebeza SC en adv. Johan de Waal SC. Hulle het bevind daar is wel prima facie-bewyse dat Mkhwebane onbevoeg vir die pos is.

“Ons is vol vertroue dat die verslag, wat besonderhede bevat van meer as 10 000 bladsye se hofbeslissings en voorleggings deur die OB, akkuraat en regverdig is.

“Ons kan nie verdere en voortgesette blootstelling aan haar onbevoegdheid toelaat nie en sy mag nie toegelaat word om ná haar sabbatsverlof – hangende die uitslag van die ad hoc-komitee se ondersoek – na haar kantoor terug te keer nie,” sê Mazzone.

Mkhwebane is sedert 15 Januarie met sabbatsverlof wat tot die einde van die maand duur.

Die VF Plus het die besluit ook verwelkom en sê die kantoor van die OB beklee ʼn kritieke rol in Suid-Afrika omdat dit die hoogste waghond oor die regering is.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, sê Suid-Afrika se Grondwet maak dit duidelik dat daar drie grondliggende redes is om van die hoof van ’n hoofstuk 9-instelling ontslae te raak en die voorskrifte oor hoe om dit te doen, is net so duidelik. “In die geval van Mkhwebane is aan al hierdie voorskrifte voldoen en ’n onafhanklike paneel se verslag hieroor laat geen twyfel oor sy bevinding nie.”

Mulder sê daar kan nie nou vir meer bewyse gevra word oor die geskiktheid van Mkhwebane as OB nie.

“Die paneel se bevinding is kristalhelder en volgens die VF Plus het dit die parlement met geen ander keuse gelaat nie as om ingevolge die voorgeskrewe reëls nou ’n parlementêre proses te volg vir die ontslag van Mkhwebane aangesien dit in belang is van die mense van Suid-Afrika,” sê Mulder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jzjz05 ·

Dit moes al lankal gebeur het.Nou hoeveel hofsake gaan nou nog kom voordat dit werklik gebeur .?

JM ·

Ramaphosa moet nou ruggraat kry en sorg dat die OB vir eens en vir altyd geskors word. Waarvoor word nog gewag?

Persheks Adri ·

Hou op skors met volle salaris en laat sy tekkie! Al die bewyse is reeds daar regtig hoe moeilik kan dit nou wees? Gggmmmfff “cover” weer vir mekaar en besluitloos! Bekotsingswaardig almal in die parlement pffft

Piet ·

Was dit nodig om deur 10,000 bladsye te werk om uit te vind sy is onbevoeg.
Ander manier van werk skepping.

JohanR ·

Moenie vergeet dat die een is gekies deur die geleerdes in parlement. Daai tyd is dit net die DA wat bedenke gehad het, maar die meerderheid het ja gestem, soe die DA moes maar die ossewa ry.

Magda ·

Sonder Salaris asb, en as sy onskuldig bewys word, kan sy terug betalings ontvang,. ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.