Skors Wes-Kaapse regter-president nóú

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, moet geskors word hangende die ondersoek na beweerde growwe wangedrag teen hom, het die DA Maandag gesê.

Die DA se woordvoerder oor justisie, Glynnis Breytenbach, het gesê gegewe Hlophe se lang geskiedenis van beweerde wangedrag behoort hy nie by die werk te wees tot ná die ondersoek afgehandel is nie.

“ʼn Behoorlike ondersoek na die bewerings kan net gedoen word as hy tydelik afwesig is,” het sy gesê.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het verlede week aanbeveel dat ʼn tribunaal aangestel word om die ernstige bewerings teen Hlophe te ondersoek. Die bewerings sluit in dat hy ʼn kollega, regter Mushtak Parker, in sy kantoor aangerand het.

Die besluit volg ook sowat ses maande nadat adjunk-regter-president Patricia Goliath vir Hlophe in ʼn verklaring onder meer daarvan beskuldig het dat hy sy mag misbruik én haar mondelings aangeval het.

Die klag wat Hlophe op sy beurt teen Goliath aanhangig gemaak het, is geskrap.

Breytenbach het die besluit om ʼn tribunaal aan te stel, verwelkom. Indien die bewerings gehandhaaf word, kan Hlophe in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

“Dit is ʼn belangrike en nodige stap om te verseker die regbank word nie aangetas deur enigiemand se beweerde magsmisbruik nie en dat die howe die voogde van die Grondwet en regspleging bly,” het Breytenbach gesê.

“Ons kan nie ʼn situasie toelaat waar die onafhanklikheid van die regbank bevraagteken word nie. Ons vertrou dat die tribunaal wat die ondersoek na regter Hlophe doen, die geloofwaardigheid en onafhanklikheid van die regbank sal bevestig en openbare vertroue in die howe herstel.”

Breytenbach het gesê sy hoop die tribunaal word die nodige ruimte gegun om sy werk behoorlik te doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RB ·

Indien Mogoeng Mogoeng die mag het wat hy veronderstel is om te hê èn indien die regsbank niè onder die ANC se duim is, sal hier nou blitsig aksie kom . . . Hoewel ek nie met positiewe afwagting sò iets verwag.

Remlut ·

En in 2011 het die regter al R10 miljoen van belasting geld gemors

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.