Skors Wes-Kaapse regterpresident nóú, eis DA

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Suid-Afrika het gesien watter skade staatskaping aan staatsinstellings aangerig het en dit is van sleutelbelang dat die regbank nie dieselfde pad loop nie.

Só het die DA Woensdag gewaarsku ná die jongste rits klagtes teen die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, op die lappe gekom het.

Maroela Media het vroeër berig daar is huismoles in dié afdeling van die hooggeregshof nadat regter Patricia Goliath, ʼn hoogs aangeskrewe regsgeleerde, ʼn omvattende en ernstige klagstaat oor beweerde growwe wangedrag by die regterlike dienskommissie (RDK) teen Hlophe ingedien het.

Die DA-leier John Steenhuisen het vandag gevra dat Hlophe dadelik geskors word en sê die bewerings teen die regterpresident is ʼn bedreiging vir die geloofwaardigheid en onafhanklikheid van die regbank. Hy sê die party glo daar is genoeg prima facie-bewyse om ʼn skorsing te regverdig.

“Die jongste klagte teen Hlophe deur sy adjunk skets ʼn donker prentjie van ʼn verdeelde hof wat net-net nie deur Hlophe en sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, gekaap is nie.”

Goliath se klagtes sluit bewerings van nepotisme en voorkeurbehandeling vir Salie-Hlophe in; dat daar ʼn klimaat van vrees en intimidasie heers en dat Hlophe sy kollegas fisiek en verbaal bedreig; dat Hlophe eensydig hofreëls verander; dat hy eensydig besluit het om die posisie van adjunk- regter-president af te skaf, asook dat hy inmeng in die aanstelling van waarnemende regters.

Hlophe meng glo ook in wanneer sake aan regters toegewys word in ʼn poging om die uitkoms daarvan te bewimpel. Hy het na bewering sy vrou, ʼn junior regter, aangewys om die hoëprofiel-moordverhoor van Jason Rohde te behartig en het glo probeer inmeng by die aanstelling van regters in die 2015-interregering-kernkragsaak. Hy het dit glo gedoen om die uitkoms ten gunste van die Jacob Zuma-geleide administrasie te bewerkstellig.

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

Steenhuisen sê Hlophe het ʼn lang geskiedenis van beweerde wangedrag. Verskeie regters van die Konstitusionele Hof het hom in 2008 van growwe wangedrag beskuldig nadat hy glo verskeie regters genader het in ʼn poging om die hof te beïnvloed om tot ʼn beslissing te kom wat gunstig sou wees vir oudpres. Zuma.

“Twaalf jaar later is Hlophe nog nie verantwoordelik gehou nie en steeds aan die stuur van die Wes-Kaapse hooggeregshof waar hy sy gesag vir politieke gewin afdwing,” sê Steenhuisen.

Die DA voer lankal reeds aan dat Hlophe se invloed tydens die aanstelling van regters vir sensitiewe politieke sake in die Wes-Kaapse hooggeregshof geen toeval is nie. Die DA sê daar is doelbewuste inmenging om sake te beïnvloed.

“Daar was al verskeie gevalle waar die Wes-Kaapse regering aan die ontvangkant was van uitsprake wat op regsgronde bevraagteken word – uitsprake wat later op appèl na ʼn hoër hof omgekeer is,” sê Steenhuisen.

Hy sê die howe bly die voogde van die Grondwet en regspleging en is ʼn buffer teen magsmisbruik.

“ʼn Bekwame demokratiese staat berus op ʼn onafhanklike regbank en wanneer ʼn hof se onafhanklikheid in twyfel getrek word, moet daar vinnig en beslissend opgetree word.

“Ons het gesien watter skade staatskaping op staatsinstellings gehad het. Dit is belangrik dat ons keer dat dieselfde met die regbank gebeur. Ons kan net ʼn vooruitstrewende land bou as alle bene van die regering versterk word en hul werk sonder vrees of vooroordeel doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Neil ·

Dit is so’ n pragtige Jannie Raath foto . Play us a song , you’re the piano man

Thinus Erasmus ·

ANC hou hom daar as teenwig vir DA beheerde provinsiale regering.

Hans ·

Nee, moenie hom skors nie, kla aan en verhoor die onderwerp – finnish en klaar!!!

Tog ·

Wat reg is, is reg en verkeerd is verkeerd, maar dat sy vrou ‘n uistekende regter is, dit is soooo!. Sy het die Jason Rhode saak uistekend hanteer en sy is reg, hoop nie sy is by iets verkeerd betrokke, sy sal geweld teen vroue en kinders kan help uitwis.

Capie ·

Hy moet nie geskors word nie. Hy is net more weer terug en dan met mening. Hy moet aangekla word en gestraf word en geheel en al verbied word om enige regs praktyk werk of politieke amp te beklee. Ek wonder hoekom hy so vir korrupte Zuma opgekom het, is hy daarvoor betaal, of het hy gehoop om ook voordeel uit die korrupsie te kry

Maljan ·

Waar kom hulle opleiding vandaan? As hy oortree het moet hy aangekla wors.

Gert J ·

Skop hom uit. Hy is veronderstel om n voorbeeld vir die jeug te wees.

jakes ·

As die optredes van Hlope nie die regbank se geloofwaardigheid onder verdenking plaas nie dan weet ek nie? Dis tyd dat die regterlike dienskommissie sterk standpunt in neem en daadwerklik optree teen verskeie persone in sy diens. Dit is miskien ook hoogtyd dat die vereistes vir aanstellings in die regbank hersien word.

Naas ·

Hlophe is ‘n Zuma lakei wat net skade aanrig. Kla hom aan en dank hom af.

JohanR ·

Miskien is DIT die ou om Eskom reg te ruk! Hy weet seker hoe om ‘n lig aan en af te skakel, maar veel meer van krag weet hy seker min. Maar dan het enigeiemand wat sedert 1995 as hoof by Eskom aangestel is, ietsie geweet van krag?

A Mac ·

Kan dit wees dat hierdie man ‘n greep op heelwat mense het na aanleiding van binne inligting wat hy het oor sekere persone? Vra maar net wat lyk my die ou het heelwat vere in die hand van die geplukte hoender.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.