Skorsing van boelies ‘nie enigste uitweg’

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

In ’n tyd waar dit al hoe moeiliker word om dissipline in skole af te dwing, sê kenners kreatiewe maniere moet gevind word om leerders wat hulle aan oortredings of wangedrag skuldig maak, op die regte manier te begelei.

En dit is nie noodwendig om leerders te skors nie.

In ’n onlangse voorval wat by die HTS Nic Diederichs in Krugersdorp, Gauteng, plaasgevind het, is ʼn gr. 10-seun tydelik geskors nadat hy ’n gr. 10-meisie aangerand het. Die voorval is op video vasgevang en op sosiale media versprei. Die skool se beheerliggaam moet nou besluit of die seun permanent geskors – uit die skool gesit – moet word.

‘n Skermskoot uit die video

Kenners waarsku egter dit is nie die logiese uitweg om leerders uit die sosiale konteks van die skool te verwyder om hul oortredings en wangedrag te hanteer nie.

“’n Leerder moet in die stelsel bly en die faktore wat tot die oortredings en wangedrag bydra, moet binne die skoolkonteks hanteer word,” verduidelik Yolandi Singleton, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum in Pretoria-Noord.

“Die ideaal sal wees as skole professionele persone aanstel wat die leerders binne die skoolkonteks kan begelei.”

Na afloop van ʼn dissiplinêre verhoor die afgelope week, het die tugkomitee aanbeveel dat die seun permanent geskors word en die skool se beheerliggaam moet nou formeel hieroor besluit.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas), verduidelik daar is ’n verskil tussen tydelike skorsing en uitsetting.

“Met skorsing word die leerder vir ’n maksimum van sewe dae uit die skool geskors en indien die leerder uitgesit word, keer die leerder glad nie terug skool toe nie,” sê Deacon.

“Die onderwyshoof het eindelik die finale sê oor of die leerder geskors of uitgesit moet word. Dié besluit moet binne 14 dae ná die verhoor geneem word.”

Die leerder of beheerliggaam kan appèl by die LUR vir onderwys aanteken indien hulle nie tevrede is met die onderwyshoof se besluit nie. Die Skolewet maak nie voorsiening daarvoor dat die skool teen die besluit kan appelleer nie.

Wat staan die onderwysers en skool te doen?

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Met verwysing na die aanranding by HTS Nic Diederichs, meen Singleton daar moet eers vasgestel word waarom die betrokke leerder tot sulke drastiese optrede oorgegaan het en professionele hulp moet vir die leerder voorsien word.

“Op hierdie manier kan die wortel van die probleem geïdentifiseer en werklik uitgeroei word,” sê sy.

“’n Kind is nie ’n eiland nie en word deur die stelsel beïnvloed. Alles waaraan hy of sy blootgestel word, het ’n direkte invloed op die leerder.”

In ernstige gevalle waar leerders met psigiatriese probleme sit en skade aan medeleerders en selfs onderwysers kan aanrig, is dit wel beter om die leerder uit die skoolstelsel te verwyder, sê Singleton.

Deacon stem saam met Singleton, maar sê onderwysers het nie noodwendig die kapasiteit om diepliggende probleme te hanteer nie. Onderwysers is ook nie altyd opgelei om traumaverwante situasies te hanteer nie en daarom moet skole professionele persone hiervoor betrek.

“Hoewel daar onderwysers is wat graag die ekstra myl vir leerders wil stap, is hulle oorlaai met administratiewe werk en hul batterye word pap getrek deur die stelsel,” sê Deacon.

Singleton meen ook onderwysers moet nie te betrokke raak om leerders te help om ’n probleem op te los nie.

“Dit is dán wanneer ongesonde verhoudings kan ontstaan. Die leerder begin ’n spesiale band met die onderwyser vorm.”

Volgens Singleton kan leerders se wangedrag in die meeste gevalle aan hul ouers se invloed toegeskryf word. “Die ouers se gedrag stel die voorbeeld vir die kinders. Indien leerders om hierdie rede wangedrag toon, moet ouers verantwoordelikheid aanvaar.”

Singleton verduidelik dat pa’s telkemale hul seuns aanmoedig om iemand “terug te slaan wat jou slaan” omdat dit ’n “natuurlike reaksie vir ’n man is”.

“Dit is egter nie die regte raad om vir jou kind te gee nie. Om jou hand teenoor enigiemand te lig, man of vrou, is onaanvaarbaar en teen die wet, maak nie saak wat tot die voorval gelei het nie.”

Sy sê in ander gevalle ervaar die leerder dalk onafgehandelde trauma, wat omskakel na aggressie. Dan het selfs die ouer nie altyd beheer daaroor nie.

“In gevalle waar kinders ’n verbindingsfiguur aan die dood afstaan en nie die trauma kan hanteer nie, manifesteer die trauma op ander maniere.”

Singleton sê behalwe dat maatskaplike werkers permanent by skole aangestel moet word, moet skole ook programme inkorporeer waar leerders leer om hul seer en woede te hanteer.

Singleton gee raad oor wat ouers en skole kan doen indien hul kinders by die skool afgeknou of geboelie word:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.