Skorsing van HK-lede by Puk opgehef

Hoofgebou-potchefstroomkampus

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Die nege huiskomiteelede van ’n manskoshuis op die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit is ná ʼn dissiplinêre verhoor weer in hulle posisies aangestel nadat hulle vroeër geskors is.

Maroela Media het vroeër berig die NWU het met stappe teen die nege studente begin ná bewerings dat die huiskomiteelede versuim het om hulle verantwoordelikhede na te kom op ’n manier wat aan die etos van die universiteit voldoen. Hoewel die universiteit nie meer inligting bekend wou maak oor presies wat die beweerde oortreding was waarvan die HK-lede beskuldig is nie, het die voorval blykbaar met ʼn onaanvaarbare ontgroeningspraktyk verband gehou.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, sê die studente se dissiplinêre verhoor het gister plaasgevind. “Op grond van getuienis dat die kampus-studenteraad na bewering ’n mondelinge waarskuwing aan lede van die huiskomitee uitgereik het, het die dissiplinêre komitee bevind dat die verrigtinge dubbele vervolging behels, en daar is beveel dat die studente met onmiddellike inwerkingtreding in hulle posisies herstel word,” sê Jacobs.

“Die universiteit win regsadvies in en sal mettertyd verder reageer.”

Die studente is aanvanklik geskors ná ʼn voorval op 12 Januarie toe eerstejaarstudente blykbaar “verwelkom” is op ʼn manier wat nie “aan die waardes van die NWU voldoen het nie”.

Daar is egter later aangekondig dat die studente se skorsing op 31 Januarie opgehef sou word. Jacobs het toe gesê die huiskomiteelede sal almal in hulle posisies heraangestel word op voorwaarde dat hulle deelneem aan ’n program wat op korrektiewe maatreëls fokus.

Enkele dae later het die universiteit egter weer ʼn ommeswaai gemaak en gesê in die lig van nuwe inligting wat na vore gekom het, kan die saak nie afgehandel word soos aanvanklik aangedui is nie. Daar is toe besluit om wel ʼn dissiplinêre proses teen die studente te volg.

Die universiteit het nie die koshuis se naam of die name van die nege HK-lede bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Die waarheid ·

Dis ongelooflik al die magte wat so saam werk om reg en geregtigheid te keer.

Cicero ·

O weë Pukke, julle vertoon erg onbeholpe. Wat gaan aan? Waarom die geheimhouding en gatomgooiery? Is julle heeltemaal in beheer van julle fakulteite??

Hans ·

Het NWU ooit teen die studente opgetree wat groot skade by Mahikengkampus opgetree? Nooit weer iets gelees van optrede-optrede sou seker nie polities korrek gewees het nie.

Spring oor die voor ·

Jaarliks sterf tientalle jong swart seuns en mans agv onveilige, maar toelaatbare “tradisionele” besnydenis inisiasies. Onskuldige koshuistradisies, waar niemand seerkry nie is egter menseregteskending? Dit klop nie.

Dalk moet manskoshuise eerder besnydenis tradisies begin.

Marché ·

Dis belaglik, en hulle laat dit klink asof daar iets vreesliks aan die 1ste jaars gedoen is! Het gehoor dat HK die kinders glo vir ‘n paar minute in ‘n vertrek toegemaak het en die verwarmers aangesit het.

Watookal ·

Ag regtig!!!! Omdat hulle heaters aangesit het? Lyk my party mammas hou net nooit op om hulle ou seuntjies op te piep nie, word groot man!
Watse waardes oorskry dit nou in elk geval? BELAGLIK!!!

Willie ·

Die HK lede was met hul dasse en baatjies saam die eerstejaars in die saal waar die verwarmers aan was. Maar hulle kon uithou. Dit was Kaput manskoshuis. Mammas julle maak klomp sussies groot (die vrou wat gekla het)

alwyn burger ·

Etos !?. ñ Edel woord wat nie pas in ons politieke leksikon nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.