Skorsing van Kaapse regter aanbeveel

(Foto: Unsplash)

Die regterlike dienskommissie (RDK) het by pres. Cyril Ramaphosa aanbeveel dat hy regter Mushtak Parker van die Wes-Kaapse hooggeregshof uit sy amp skors hangende ʼn ondersoek na twee gevalle van beweerde wangedrag deur ʼn tribunaal van die kommissie.

Die eerste aspek wat ondersoek word hang saam met die voortgesette drama rondom die gedrag van die Kaapse regterpresident, regter John Hlophe. Die tweede aspek het te doen met geld in ʼn trustrekening waarvoor Parker verantwoordelikheid gehad het.

Die versoek van die RDK kom ná ʼn aanvanklike ondersoek van die RDK teen Parker. Die versoek aan Ramaphosa is dat Parker wel die huidige verhore en uitsprake waarby hy betrokke is, moet afhandel, maar dat hy geen verdere verhore moet bykry nie.

Die eerste klag teen Parker is dat hy daaroor gelieg het dat Hlophe hom aangerand het. Die klag teen Parker is gelê deur regter Dennis Davis en onderskryf deur nog nege regters van die Kaapse hooggeregshof.

Waarop dit neerkom is dat Parker aan al tien regters beskryf het hoe Hlophe hom glo in sy kantoor aangerand het. Hiervan is ʼn skriftelike verklaring indertyd bewaar.

Toe die adjunk-regterpresident van Wes-Kaapland, regter Patricia Goliath, egter vroeër vanjaar die beweerde aanranding van Parker ophaal in haar omvattende klag teen Hlophe, het Parker skielik ontken dat dit ooit plaasgevind het.

Davis se klag teen Parker voor die RDK is dat Parker dus beslis gelieg het – óf toe hy die aanranding beweer het, óf toe hy die aanranding ontken het.

Die tweede klag oor Parker handel oor ʼn tekort van R8 miljoen in die trustrekening van ʼn regsfirma waarby Parker betrokke was. Parker het dit verswyg toe hy voor die RDK aansoek gedoen het om ʼn regterspos.

Dit het nou aan die lig gekom en die Kaapse balie, by monde van adv. Andrew Breitenbach, SC, het die tersaaklike klag by die RDK ingedien, wat die tweede deel vorm van die RDK se versoek aan Ramaphosa om Parker as regter te skors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adam Adriaan ·

En waar loop die skelmstreke spook rond. Nie gedink ek sal hom op daardie hoek raak loop nie.

JohanR ·

En hoofregter John Hlophe gaan hier ook op een of ander manier weer deur skuur!

Hennie J ·

Die ou sakie ploeter maar voort terwyl die groot vis rustig in sy dam baljaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.