Skort aandklokreël voor Nuwejaar op – DA

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê die aandklokreël wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te help bekamp, moet opgeskort word – nog voor Oujaarsaand.

Steenhuisen sê die werklike krisis wat die land nou in die gesig staar, is die toestand van die ekonomie en die wydverspreide verlies aan mense se inkomste; nié hospitaliserings en die nuwe Omikron-variant nie.

“Die hospitalisasiegetalle is landwyd redelik laag en Omikron het bewys dat dit baie matiger as vorige variante is. Intussen is entstowwe teen Covid-19 uiters doeltreffend daarin om teen ernstige siekte en dood te beskerm,” sê Steenhuisen.

“Die DA het nog nooit die aandklokreël ondersteun nie, aangesien ons dit as irrasioneel en onregverdigbaar beskou, maar nou meer as ooit glo ons dat dit eens en vir altyd opgehef moet word, nog voor Oujaarsaand.”

Volgens Steenhuisen is die opskorting van die aandklokreël ʼn maklike en logiese manier om die ekonomie ʼn hupstoot te gee – veral vir bedrywe soos restaurante wat onder geweldige druk tydens die pandemie verkeer.

“Dit gaan nie eers net oor die ekonomie nie. Ons nasionale moraal het ook ʼn hupstoot nodig,” sê hy.

“Mense moet wettig saam met vriende en familie bymekaar kan kom om die begin van die Nuwejaar en die einde van ʼn ongelooflike moeilike een te vier.”

Die DA meen dat die meeste Suid-Afrikaners ieder geval nie die aandklokreël gehoorsaam nie.

“Gaan die polisie mense in hegtenis neem wat Oujaarsaand vier? Wetstoepassingsowerhede moet liefs daarop fokus om dronkbestuurders en werklike misdadigers vas te trek sodat wetsgehoorsame mense die Nuwejaar veilig kan binnegaan.

“Hierdie jaar was gevul met lyding wat te wyte aan sinnelose, irrasionele besluite en ʼn ondeurdagte beleid wat destyds met die strandverbod begin het, verduur moes word.

“Kom ons eindig 2021 en begin 2022 op ʼn slimmer en positiewer noot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.