Skort brandstofheffing op – Agri SA

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne het reeds hemelhoë brandstofpryse tot gevolg gehad en kenners waarsku nog stygings is op hande.

Agri SA meen nou dat die Suid-Afrikaanse regering se bykomende brandstofheffing, wat die prys van brandstof selfs verder opjaag, geheel en al opgeskort moet word om ʼn mate van verligting aan verbruikers te bied.

“Brent-ruoliepryse het byna verdriedubbel tussen Februarie en Maart en met die onlangse en toekomstige verwagte brandstofstygings sal die koste om voedsel na Suid-Afrikaanse verbruikers te neem, aansienlik styg,” sê Kulani Siweya, ʼn landbou-ekonoom van Agri SA.

“Dít – en om voedselpryse in bedwang te hou – is die rede waarom Agri SA ʼn beroep op die regering doen om brandstofheffings op te skort terwyl die konflik tussen Oekraïne en Rusland voortduur.”

Enoch Godongwana, minister van finansies, het vroeër in sy begrotingsrede aangekondig dat die brandstofheffing minstens nie verhoog word nie.

Die Motorbedryf Personeelvereniging (Misa) is egter bekommerd dat die heffing verbruikers nietemin gaan knou.

“Stygings in die brandstofprys het ʼn regstreekse uitwerking op die lewenskoste van elke Suid-Afrikaanse huishouding,” sê Hermann Köstens, uitvoerende hoof van Misa.

“Die huidige situasie, wat moontlik kan vererger met selfs hoër brandstofpryse, vernietig enige hoop om grootskaalse armoede in die land te verlig.”

Impak op landbou

Siweya meen die uitwerking wat die heffing en die moontlikheid van verdere stygings op die landbousektor het, kan verwoestende gevolge hê – veral vir die land se voedselsekerheid en die voortbestaan van die plaaslike landbousektor.

“Met wêreldwye koringpryse en landbou-insetkoste wat die hoogte inskiet, moet die regering dringend optree en die brandstofheffings opskort om verligting aan boere, veral kleinskaalse boere, te bring en die styging in voedselpryse vir Suid-Afrikaners te beperk,” sê hy.

Suid-Afrika se landbouverhouding met Rusland en Oekraïne floreer al geruime tyd met miljoene rand se produkte wat jaarliks in- en uitgevoer word.

Oekraïne en Rusland is ook albei groot produsente van koring en is verantwoordelik vir ʼn kwart van die wêreld se koringuitvoere.

“Die ontwrigting van die voorsiening van hierdie stapelvoedsel sal voedselprysskokke wêreldwyd veroorsaak; ook in Suid-Afrika omdat 30% van ons koring vanuit hierdie lande ingevoer word,” sê Siweya.

“Terwyl verbruikers verligting in brandstof- en kospryse sal kry as die brandstofheffing laat vaar word, sal dit ook kwesbare kleinskaalse boere ondersteun teen die verhogings in insetkoste.”

Landboukommoditeite maak meer as die helfte van alle Suid-Afrikaanse uitvoere na Oekraïne uit, waarvan die grootste vrugte en neute is.

Dele van die sektor sal na verwagting ʼn beduidende impak op hul inkomste sien, veral vir diegene wat met sitrus boer omdat die meerderheid van die uitvoere na Oekraïne sitrusvrugte is. Meer as R130 miljoen se uitvoere is in 2020 na Oekraïne gedoen.

Bykomende hindernisse om produkte na Rusland uit te voer, knou boere ook. Suid-Afrika se uitvoere na Rusland is naastenby dubbel so veel as sy invoere. Landbou-invoere het tussen 2016 en 2020 op sowat R2 miljard gestaan, terwyl uitvoere van R2,1 miljard in 2016 tot sowat R4 miljard in 2020 toegeneem het.

“Die konflik tussen hierdie twee lande sal dus wesenlike gevolge vir Suid-Afrika se landbousektorprestasie hê, en die regering moet optree om die verwoestende impak van hierdie verlore inkomste op die land se boere te versag deur onder meer die brandstofheffing te laat vaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leana ·

Mens mis die goeie ou dae toe treine nog geloop het en goed daarmee vervoer was en SA nie alles uitgevoer het nie, maar eers na hulle mense om gesien het.

Yolandie ·

Jy bedoel toe alles nog gewerk het………so waar wat jy hier se.

JohanR ·

Het nie veel in SA trein gery maar baie in Rhodesia in my 23 jaar daar. Lekker as jy tussen die komberse inkruip, en aan die slaap raak met die clickety-clack, clikety-clack van die wiele veral op ‘n koue winters aand. Altyd ‘n blik toebroodjies en ander lekker goed saamgery.

Vonkprop ·

Skort die hele ANC op asseblief. Vat hulle voordele weg dat hulle soos ons alledaagse mense vir ons goed moet betaal. Hulle sal gou agterkom dit is nie so lekker soos om alles verniet te kry nie.

Mariana ·

Nee die regering sal nie toegee nie. Terwyl die mense van die land betaal sal hulle heffings hê. Hulle het geen idee hoe dit voel om als te moet betaal met karige salarisse nie. Hulself betaal vir niks……

Sarie ·

En een of ander tyd gaan die gans wat goue eiers lê, nie meer daar wees. Wat gaan die regering dan doen

Samuel ·

Ek hoop regtig die pleidooie van die landbousektor, die AA ens val nie op dowe ore nie.

Jaco ·

Afriforum, Agri-SA, VF-Plus, DA, Mulder doen almal beroepe op die regering. Wel, ek weet wat die anti-wit ANC-regering se antwoord gaan wees: “Ons ignoreer julle beroepe, want julle is rassistiese wit mense vol wit monopolie kapitaal en teen transformasie”. AL wat gaan werk om inperking en die ramptoestand te stop, is as swart organisasies en individue op groot skaal beroepe doen. Daars natuurlik ook die Muizenberg-opsie van einde Januarie 2021: toe almal op die toe strand gaan swem het en die polisie niks kon doen nie, is die strande maar 2 dae later oopgestel. Daars ook die taxi-opsie, waar taxidrywers eenvoudig gesê het “ons is 100% vol en ry met toe vensters”.

Niel ·

Dit sal nooit weggevat word nie. Ons praat hier van miljoene per dag wat hul sal verloor

Nic ·

Met BTW wat meer inkomste op die verhoogde brandstofpryse lewer, kan daar gerus weggedoen word met die brandstofheffing. Maar ek betwyfel dit dat die regering oor die nodig logika beskik om dit te doen, daar is immerse nog steeds die “skep terwyl dit pap reen” mentaliteit in die regering.

Akhenatha ·

Vervoer is die ruggraat van enige ekonomie. Alle besighede het vervoer nodig. Deur vervoer te belas, soos ons regering doen, word ekonomiese groei terug gehou. Die ANC kan dit net nie verstaan nie.

christo ·

Skaf die brandstofheffing op landbou diesel af. Dis al hoe die koste van basiese voedsel laag gehou kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.