Skot herenig dekades later met ma in SA

Ewan Arnott (Foto: Verskaf)

“Ek het net gesê: ‘Hallo, dis Ewan’ en toe begin sy verskriklik huil. Ek kon oor die foon vóél hoe verlig sy was.”

Só vertel Ewan Arnott (40) vanuit Skotland oor daardie eerste oproep met sy ma in Suid-Afrika nadat hulle 30 jaar lank vervreem van mekaar was. Ma en seun is vroeër vandeesmaand ná ’n soektog deur ʼn Suid-Afrikaanse vrou met mekaar herenig.

Arnott vertel hy was 11 jaar oud toe hy vir die laaste keer met sy ma, Janis Stevenson, gepraat het.

Arnott se ouers is albei van Skotland. Hy is egter in 1980 in Klerksdorp gebore waar sy pa in daardie stadium as elektrisiën by die myne gewerk het.

Arnott se ouers is later geskei en hy is in 1990 op negejarige ouderdom saam met sy pa en sussie terug na Edinburgh in Skotland, nadat sy pa toesig oor hulle gekry het. Stevenson het in Suid-Afrika agterbly.

Ma en seun het vir byna twee jaar kontak behou voordat Arnott se pa vermoedelik alle kontak tussen hulle verbreek het. “Ek het nog ’n verjaarsdagkaartjie wat ek by haar gekry het en ek het dit al die jare gehou,” vertel Arnott nou as volwasse man aan Maroela Media.

Hy sê hy het in die verlede al probeer om sy ma op te spoor, maar kon nooit daarin slaag nie. Toe tref die Covid-19-pandemie.

“Ek was bekommerd oor haar. Ek het nie eers geweet of sy meer leef nie en het gedink indien sy leef, gaan dit sekerlik swaar met haar.”

Arnott het hom toe vir die eerste keer tot sosiale media gewend in ’n poging om sy ma op te spoor. ’n Radiostasie het Arnott se plasing verlede maand gesien en hom genooi om op die lug oor sy soektog na sy ma te gesels. Verslaggewers in Glasgow en Edinburgh het só van sy verhaal te hore gekom voordat die Suid-Afrikaanse media eindelik die storie opgetel het.

Dit is toe dat die soektog na Stevenson momentum gekry het.

Arnott vertel dat hy ou selfoonnommers en ’n woonadres in Berea, Johannesburg, ontvang het waar sy ma in 2019 gewoon het. Sy pad het daarna met die van die opspoorder Naomi Dames van Bela-Bela in Limpopo gekruis, wat genealogiese navorsing doen.

Dames kon met behulp van nog ’n opspoorder, Esmarie du Toit, vasstel dat Stevenson intussen weer getrou het – vandaar die van Stevenson – hoewel haar tweede man in 2014 oorlede is.

Ewan Arnott en sy jongste seun. Die vyfjarige het onlangs vir die eerste keer met sy ouma oor die foon gepraat. (Foto: Verskaf)

’n Familielid van Stevenson se oorlede man kon opgespoor word. Die familielid het egter self jare laas met Arnott se ma kontak gehad, maar kon dieselfde adres as dié wat Arnott ontvang het, verskaf.

Dames was dae later op pad na haar suster in Johannesburg en het toe besluit om by die adres in Berea te gaan aanklop. Dit is hier waar Stevenson (68) in ’n uiters gevaarlike woonbuurt opgespoor is.

“Sy het verskriklik gehuil. Ek het gehuil,” vertel Dames aan Maroela Media.

Arnott kon toe vir die eerste keer in 30 jaar weer met sy ma oor die foon praat. “Sy was so emosioneel en het baie gehuil. Ek het haar stem dadelik oor die foon herken. Sy het steeds ’n Skotse aksent.

“Sy het ouer geklink,” vertel hy.

Volgens Dames het ma en seun maklik drie uur lank oor die foon in haar motor in Berea gepraat. Stevenson het selfs ou kinderliedjies vir haar seun oor die foon gesing. “Ek kan vir geen mens beskryf hoe emosioneel hierdie ding was nie,” vertel Dames.

Arnott en sy ma gesels sedertdien elke dag.

Daar is nou sprake daarvan om Stevenson in Skotland by haar seun en twee kleinseuns, onderskeidelik vier en 15 jaar oud, te kry.

“Dit was ’n wonderlike ding om haar te vind en ek voel in ’n mate dat dit my plig is om haar lewe beter te maak,” vertel Arnott.

’n Fondsinsameling is intussen op die been gebring om Arnott en sy ma in lewende lywe te herenig. Klik hier om ’n bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Ja dit raak n mense se hart waar kinders en ouers van mekaar verwyderd raak…soveel verlore jare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.