Skote klap buite Durbanse hof

Wetstoepassingsowerhede Woensdag buite die Durbanse landdroshof. (Foto: Marshall Security)

Twee jong mans is Woensdagoggend voor die landdroshof in Durban geskiet toe die insittendes van ’n verbygaande motor skote op hulle afgevuur het. ’n Amptenaar van die hof is ook in die proses gewond.

Konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes van die Durban-Sentraal-polisiestasie is omstreeks 10:00 na die hof ontbied.

“Dit word beweer dat twee mans, albei 21 jaar oud, na die hof gestap het toe onbekende mans in ’n voertuig op hulle losgebrand het. Albei het beserings opgedoen en is vir mediese behandeling hospitaal toe gehaas.”

’n Hofbeampte is ook tydens die skietery gewond toe ’n dwaalkoeël hom in die bobeen getref het.

Ngcobo sê die motief vir die voorval is in die stadium nog onbekend.

Andreas Mathios, woordvoerder van Marshall Security, sê ’n wetstoepasser op die toneel het aan hom gesê die voorval is moontlik bendeverwant.

Volgens Mathios is die polisie tans op soek na ’n Kia Sportage.

Aanklagte van poging tot moord is reeds aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faraway ·

Die fondse vir nuwe rybewyskaarte kan eerder aangewend word om soveel moontlik 24uur kameras in gebiede op te rig!!!

Jacobus ·

In hierdie land is jy nie seker om te gaan werk en weer lewendig huistoe te ry nie.

Danie ·

Skurke is nie bang vir kameras of sapd nie.Daar is te veel geld op die spel.

Jr ·

Hierdie moet ent kry want dit word gewoonte soos hier in Carletonville hof. My vrou was in die gebou. SA is in n staat van anarchy

Willem Hendrik ·

Die afgelope paar jaar het genoeg bewys gelewer dat SA reeds die drempel vir anargie oorsteek het. Slegs enkelles hou hierdie dun weefsel wat ons beskawing noem steeds bymekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.