Skote klap by casino

Die Emerald Resort & Casino. Foto: Facebook

Een mens is dood en nog twee beseer nadat ʼn skietery Maandagaand tydens ʼn rooftog by ʼn casino in Vanderbijlpark uitgebreek het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn groep van meer as tien rowers het omstreeks 22:00 op die Emerald Resort & Casino toegeslaan. Hulle het personeel en lede van die publiek met vuurwapens aangehou.

“Die polisie is in kennis gestel van die rooftog en het vinnig gereageer. By polisiebeamptes se aankoms op die toneel het die verdagtes op die polisie losgebrand en ʼn skietgeveg het ontstaan,” het Masondo gesê.

Een van die verdagtes is doodgeskiet, terwyl twee veiligheidswagte gewond is. Die verdagtes het daarna met ʼn aansienlike bedrag kontant in verskillende voertuie van die toneel gevlug.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het die twee gewonde veiligheidswagte op die toneel behandel, asook drie ander mense wat geringe beserings opgedoen het nadat hulle aangerand is. Die beseerdes is na nabygeleë hospitale geneem.

Volgens Masondo is een van die rowers se wegkommotors later verlate by die hek van die casino gevind en nog twee voertuie nie ver van die toneel af nie. Daar is ook op ʼn pistool op die toneel beslag gelê.

Die Emerald Resort & Casino het Dinsdagoggend die rooftog op sy amptelike Facebook-blad bevestig en die polisie bedank vir hul vinnige optrede.

Intussen het lt.genl. Deliwe de Lange, die provinsiale polisiekommissaris, gesê ʼn span speurders is aangewys om die saak te ondersoek en die rowers vas te trek. Sy het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om enige inligting oor die voorval by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ramkat ·

Nou goed hier het n rooftop plaasgevind.

Een van die rowers is in die proses doodgeskiet. Die feit dat n rower agtergeblyyy het – lewendige of dood.stel die polisie in staat om sy makers te identifiseer, op te spoor en te arresteer.

Gedissiplineerde opvolg Ing gaan waarskynlik tot vroee arrestasies lei.

cor ·

So dit was alweer ‘n geval van poging tot herverdeeling van rykdom ongeag kleur, geslag en ouderdom. Sekerlik net weer met behulp van binne en die samewerking van die deurwag want hoe anders kom een verby toegangs beheer met ‘n vuurwapen. Ek moes al my kar sleutels en belt in die mandtjie gooi want daar was n metaal sein .

bubbel ·

Cor as jy mooi lees was daar 10 + van hulle.. oor die radio praat hulle van nader aan 20… Da is max 2 wagte by die ingange… Ek wil sien hoe 20 van hulle gestop gaan word as hulle da in storm…

Donovan ·

Ek bly baie naby aan die resort en moet se ek kan nie glo dat daar soveel skote af gevuur was nie… en die geveg het redelik lank aan gehou… kan ook nie glo dat daar so min mense beseer is nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.