Skote klap by Centurion Mall

(Foto: Facebook)

Inkopiegangers moes Saterdagoggend in winkels skuiling soek toe skote skielik begin klap het tydens ʼn rooftog by die Centurion Mall-winkelsentrum.

Volgens berigte het ʼn onbekende aantal verdagtes op ʼn juwelierswinkel by die winkelsentrum toegeslaan waarna ʼn skietgeveg tussen veiligheidswagte en die verdagtes uitgebreek het.

Die sentrum se bestuur het die rooftog bevestig en gesê ʼn verdagte is geskiet en gewond. “Die polisie is tans op die toneel en ondersoek die poging tot roof. Paramedici is ook op die toneel en behandel die beseerde verdagte.”

Kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het gesê beamptes en forensiese kundiges is steeds op die toneel. “Sodra ons die ondersoek afgehandel en alle bewysstukke versamel het, sal ons meer inligting kan gee.”

In dié stadium is dit nog nie duidelik hoeveel verdagtes betrokke was, of daar enigiets gebuit is en of nog verdagtes in hegtenis geneem is nie.

Die sentrum se bestuur het gesê hy gee sy samewerking aan die polisie. “Die veiligheid van ons klante, huurders en werknemers is ons prioriteit.”

Saterdag se rooftog volg ná ʼn voorval begin verlede maand waar die polisie en twee verdagtes in ʼn skietgeveg by die winkelsentrum betrokke was. Beamptes het ʼn verdagte voertuig in die winkelsentrum se onderdakparkeerterrein genader waarna die bestuurder weggejaag en ʼn skietgeveg uitgebreek het. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stefan ·

Hoekom is die gewonde verdagte onmiddelik behandel deur paramidici?
Wag eers ‘n hele ruk om baie seker te maak dat die ander rowers weg is sodat die paramedici veilig hul werk kan doen!

Cherokee ·

Dìt is uiters goeie veiligheids-bewuste advies, Stefan.

Cherokee ·

‘Skote klap by Centurian Mall’ (soos oor die res van die land).
Ek het inligting ontvang vanaf ‘n uiters betroubare bron, dat aansoek gedoen word om die volgende Western in Suid Afrika te verfilm.

JM ·

Cherokee, die Wilde Weste was mak in vergelyking met Suid-Afrika. Hoop die filmmakers oorleef tydens die verfilming!

Cherokee ·

Ek stem 100% saam met jou, JM. Nie werklik vergelykbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.