Twee mense is vroeg Woensdagoggend geskiet en gewond buite die Kaapstad Internasionale Lughawe.
Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 05:15 buite die vertreksaal van die lughawe plaasgevind. “ʼn Man is geskiet en na die hospitaal geneem. Ons kan nog nie sy identiteit bekend maak nie omdat ons nog sy familie probeer opspoor,” het Naidoo gesê.
Volgens Naidoo is ʼn omstander ook raakgeskiet en na die hospitaal gehaas. Volgens berigte is die skietery bendeverwant, maar die polisie het dit nog nie bevestig nie.
Die polisie wou nie onmiddellik kommentaar lewer oor bewerings dat Jerome “Donkie” Booysen, vermeende leier van die 26-bende en Sexy Boys, tydens die voorval geskiet is nie.
Naidoo het wel gesê die polisie kan nie verklap waar die man behandel word nie omdat dit sy lewe in gevaar kan stel. “Ons kan dit nie bekend maak nie, daar is ʼn veiligheidsrisiko.”
Die lughawe het gesê die skietery het nie bedrywighede daar beïnvloed nie.
Paaie na die lughawe is steeds oop.
Bendeleier se lewe beskerm? Wat van die onskuldige mense wat al gesterf het agv bendegeweld?!
Hierdie land laat Colombia soos ‘n kleuterskool partytjie lyk.