Skote klap ná wilde jaagtog in Pta

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Twee beamptes van die Tshwane-metropolisie is in ʼn hospitaal opgeneem nadat ʼn beweerde dwelmtransaksie Maandagaand tot ʼn wilde jaagtog van Sunnyside tot in die ooste van Pretoria gelei het.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê beamptes van die dwelmeenheid het ʼn bordeel in Sunnyside dopgehou toe ʼn motor met vier mans daarin by die gebou stilgehou het. Die insittendes het glo iets aan ʼn ander man gegee waarna die beamptes die motor genader het.

“Die bestuurder van die voertuig het onmiddellik weggejaag en die metropolisie het dit van Sunnyside tot in Elarduspark agternagesit. Die beamptes het met hul motor om ʼn skerp draai in Pirokseenstraat gegaan toe ʼn man, tussen 45 en 50 jaar oud, met ʼn pomp-aksie-vuurwapen op hulle losgebrand het.”

Volgens Mahamba het die beamptes bystand ontbied en is die man in hegtenis geneem. “Hy het erken dat hy die vuurwapen sowel as ʼn 9mm-pistool besit maar het ontken dat hy op die polisie geskiet het.” Die man het die vuurwapens aan die polisie oorhandig vir ballistiese toetse. Hy word by die Garsfontein-polisiestasie aangehou en gaan van poging tot moord aangekla word.

“Twee van ons beamptes is in ʼn hospitaal opgeneem. ʼn Vrouebeampte word vir trauma behandel terwyl die ander beampte vir skietwonde behandel word.” Die motor is intussen by ʼn huis in Polarisstraat in Waterkloof gevind. “Beamptes het die huis binnegegaan en die vier insittendes van die motor, tussen 20 en 30 jaar oud, is in hegtenis geneem. Daar is dwelms in die huis en motor gevind. Daar is ook dwelms in nog ʼn motor op die perseel gevind.”

Die vier verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van die besit van dwelms, versuim om stil te hou vir polisiebeamptes en vlug van ʼn toneel.

Volgens Mahamba is nog ʼn persoon in hegtenis geneem in verband met die dwelms wat in die ander motor gevind is. Die verdagte sal ook binnekort in die hof verskyn op aanklag van die besit van dwelms.

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy op die polisiebeamptes losgebrand het, is na wat verneem word ʼn familielid van een van die ander verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stella ·

Net om die draai van my huis. Dit het soos wilde weste geklink. Welgedaan aan Bulls Sekuriteit en die SAPS. Hoop boewe gaan sit.

Andre K ·

Baie dankie Metrobeamptes dat julle julle nie laat afskrik het met die geskietery nie en volhard het totdat julle die gemors vir tyd en wyl van die strate af verwyder het .

Jolanda Louwrens ·

Dankie aan elke inwoner in die nabye omgewing vir hul hulp op fb gisteraand. Dankie aan ons Pappa God dat hy hierdie twee hardwerkende beamptes wat deel is van n eenheid wat daagliks n verskil maak in ons stad beskerm het. Meer as 17 haelgeweer rondtes en hul leef.
Hul bloed is blou en dwelms sal hul aanhou verwyder. Trots op jul S.P.T Special Projects Team

Lindi ·

Dank die Vader dat hul nie meer ernstig seer gekry het nie!!!! Hulle en die werk wat hul doen is goud werd. Tots op julle

Lindi ·

Dank die Vader dat hul nie meer ernstig seer gekry het nie!!!! Hulle en die werk wat hul doen is goud werd. Tots op julle!!!!!!!! Hou so aan

lorayne ·

Toe ek die opskrif van hierdie arikel sien, was jou Kosie en sy span, eerste in my gebede Jolanda! Mag God hulle behoed en bewaar. . . SALUUT! julle is manne van staal!

snoefie ·

die sapd het n bordeel dopgehou. wat van die dames wie hulle ware sommer buite die skool on pta onder n seil smous? of die dames op die t37 (ou lydenburg pad) tussen nelspruit en Sabie met oopbene sonder onder klere adverteer? dit is eenvoudig skandalig.

Varkie ·

Haha nogal vasgetrek in n huis in Waterkloof, en ek dag al die mense daar is oordentlik

Tillie ·

Polaris str is eintlik in Elarduspark, nie Waterkloof nie.

Clinton ·

Polaris is eintlik in Waterkloof…. en nie in Elarduspark nie. Piroksteen is in Elarduspark

Suzie ·

Hulle is nie SAPD nie, hulle is Metro. Hulle het die dwelm smouse gesoek nie die girl wat in die bordeel werk nie. As die aanvraag daar is word die dienste gelewer dit is hoekom daar sulke plekke soos bordele en prostitute is.

GERRIT ·

Laat ek net ‘n regstelling maak op al die komentaar soos bo uigesit.
1. Dit was nie boewe betrokke in die jaagtog nie maar skool kinders wat deur metro beamptes betrap is terwyl die metro polisie ‘n perseel dopgehou het.
2. Verder was dit ‘n ongemerkte voertuig, sonder nommerplate , sonder blouligte, sonder sirenes en lede wat nie in unuform was nie. Die Metro voertuig het nie eers ‘n radio ingehad om bystand te kon roep nie.
3. Die kinders het weg gejaag en 10111 op hul selfoon gebel(sonder enige verder hulp), hul ma probeer bel(die se selfoon was pap), en toe hul oom wat met die skietery bertokke was gebel aangesien hulle gedink het hulle word gehijack.

Willie ·

Gerrit, as jy meer as een berig lees, sal jy sien daar word berig dat:
1. Die “skool kinders” tussen 20 en 30 jaar oud is.
2. Hulle was by ‘n dwelmtransaksie betrokke. Dit is ‘n misdaad wat tot ander misdade lei. Ook ‘n groot probleem in ons gemeenskap.
3. Die TMPD beamptes het hulle genader, en hulself geidentifiseer as polisiebeamptes.
Dit is ook ‘n feit dat die taakspanne wat dwelmhandel beveg in siviele klere is, en ongemerkte voertuie ry. Dit is logies dat hulle dit so moet doen.

KarooKlong ·

Gerrit, enige rede vir jou stilswye aangaande die dwelms?

GERRIT ·

Korooklong ek sit nie heeldag voor die internet en wag vir hetsy negatiewe of positiewe komentaar oor ‘n berig wat ek my insette gelewer het nie.

Willie. Dit is so ja dat die berig se hulle is tussen 20-30 jaar oud maar die een seun is in matriek en nog op skool en die koerante het nie name met ouderdomme gegeen nie hulle het tussen ouderdoms groep gegee. Die ander voertuig wat by die huis gevind was is die ouer broer se voertuig.
Die feit aangaande die TMPD wat hulle genader het met identifikasie is hulle weergawe van die storie want hulle het baie dinge in die verband verkeerd gedoen en moet hulself beskerm. Weet jy dat die bertokke beamptes op die kinders se voertuig geskiet het toe hulle wegjaag??? Soos ek reeds bo genoem het, het die betrokke beamptes van agter af gekom met vuurwapens wat almal kon sien en die kinders het geskrik en gedink hulle gaan gehijack word en toe weggejaag. Verder as hulle dwelm beveg en so ‘n operasie uitvoer moet daar tog ander voertuie weggesteek word sodat hulle uitgang roetes kan blok met sigbare polisie voertuie of voertuie met blou ligte en sirenes. Die TMPD voertuig het nie eers ‘n twee rigting radio in gehad nie of sirenes nie en die beamptes nie eers hand radios nie. Wat sou gebeur het as hulle “backup” nodig gehad het want hulle het die bordeel vir ‘n ander transaksie dopgehou toe die kinders daar aangekom het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.