Skote klap naby Montecasino

Foto: Twitter via @EMER_G_MED.

Vier verdagtes is in hegtenis geneem en twee gewond toe ʼn skietgeveg Dinsdagmiddag tussen polisiebeamptes en verdagtes uitgebreek het in Fourways, Johannesburg.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die voorval by Design Quarter op die hoek van William Nicolrylaan en Leslieweg naby Montecasino plaasgevind het.

Volgens hom het die polisie verdagtes wat glo vroeër vanoggend betrokke was in ʼn huisroof in Honeydew agternagesit tydens ʼn hoëspoed-jaagtog.

“Die verdagtes het gestop en die nommerplate van die voertuig probeer verwyder waarna ʼn skietgeveg tussen hulle en die polisie uitgebreek het,” het Makhubele gesê.

Vier verdagtes, van wie twee deur die polisie raakgeskiet is, is in hegtenis geneem.

Jurgen Kotze, woordvoerder van Emer-G-Med, het aan Maroela Media gesê ʼn veiligheidswag is ook kritiek gewond tydens die voorval en hulle het hom na die hospitaal vervoer. Makhubele kon dit nie dadelik bevestig nie.

Volgens Makhubele is die Kia Sorento waarin die verdagtes gevlug het vroeër vandeesmaand in Alexandra gekaap.

Sake van huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen word ondersoek.

Foto: Twitter via @EMER_G_MED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.