Skote klap naby skoolkoshuis

Hoërskool Middelburg. (Foto: Hoërskool Middelburg)

Skote het Dinsdagaand naby die Hoërskool Middelburg se seunskoshuis geklap nadat ʼn groep munisipale werkers glo by die dorp se munisipaliteitsgebou betoog het.

Werknemers van die Steve Tshwete‑ plaaslike munisipaliteit in Middelburg staak weer vanaf verlede week in ʼn oënskynlike voortsetting van verlede jaar se stakings.

Johan Stronkhorst, skoolhoof van die hoërskool, het aan Maroela Media bevestig dat daar sowat 15 skote tussen 19:00 en 21:00 by die munisipaliteitsgebou naby die skool se Excelda-koshuis afgevuur is.

Die inwoners van die koshuis is byeengeroep en beveel om nie na buite te gaan nie en van die vensters af weg te bly.

“As skoolhoof moet ek heel eerste aan die veiligheid en welsyn van die leerders in die koshuis dink,” sê Stronkhorst.

Hoewel die skool nie pertinent deur die betogers geteiken is nie, is die polisie en veiligheidsmaatskappye ontbied om te verseker dat ʼn kind nie deur ʼn dwaalkoeël getref word nie.

“Die polisie is ontbied en hulle het opgetree. ʼn Aantal betogers is glo ook in hegtenis geneem.”

Stronkhorst sê ná die chaos Dinsdagaand het die betogers nog nie weer amok gemaak naby die skool of die koshuise nie.

“Dit is tans redelik rustig [by die skool]. Daar is wel nog geïsoleerde protesoptrede by die munisipale gebou.”

Staking duur voort

Klein groepe munisipale werkers vergader daagliks voor die munisipaliteitsgebou. (Foto: Hennie Niemann)

Hennie Niemann, plaaslike DA-raadslid aan die dorp, sê die werkers staak sedert verlede week en alle munisipale dienste is gevolglik opgeskort.

Verlede jaar het stakende werkers ʼn hoër gradering van die munisipaliteit geëis, salarisverhogings en dat die munisipale bestuurder se kop rol weens beweerde korrupsie en binnegevegte.

ʼn Week nadat talle werkers afgelê is weens die gebrekkige dienslewering op die dorp en hul deelname aan die onwettige staking is ʼn ooreenkoms bereik om onder meer die munisipaliteit na ʼn vlak 5-munisipaliteit op te gradeer en terugbetalende salarisse in fases uit te betaal.

Die eerste fase van die terugbetalende salarisse is in Januarie uitbetaal, maar volgens Niemann was dit uiters klein bedrae wat in party gevalle skaars meer as R150 beloop het.

Dít het volgens hom groot ongelukkigheid onder die munisipale werkers veroorsaak.

“Ons het Woensdag met die stakers vergader, maar hulle skop vas teen ons voorstelle en eis steeds dat die munisipale bestuurder afgedank word,” sê hy.

Niemann bieg dat daar egter nie gehoor gegee kan word aan die betogers se eis om die bestuurder te ontslaan nie, aangesien daar nog nie bewyse van sy beweerde korrupte optrede voorgelê is nie.

“Die betogers gaan glo vandag [Donderdag] ʼn brief indien sodat ʼn formele ondersoek na die bestuurder se beweerde optrede van stapel gestuur word,” sê hy.

“Hulle sal dan by ʼn raadsvergadering die nodige bewyse van die korrupte optrede inhandig.”

Middelburg-inwoners trek swaar

Niemann sê die staking het opnuut grootskaalse ontwrigting in die dorp veroorsaak met vullis wat die strate rondlê, kragonderbrekings en dele van die dorp wat geheel en al sonder water sit.

“Party gebiede sit reeds vir ses of sewe dae sonder krag en daar is niemand om hierdie elektrisiteitsprobleme aan te pak nie,” sê hy.

Boonop word die munisipaliteit se kontrakteurs glo geteister en geïntimideer wanneer hulle wel krag- of waterprobleme wil aanpak.

“Vanaf verlede week word ons dorp vir die hoeveelste keer gyselaar gehou deur stakende werkers wat dit onwettig doen,” sê Marius Potgieter, inwoner van Middelburg en omroeper by die plaaslike radiostasie Kosmos FM.

Ondanks die riool wat deur die strate loop en die kragonderbrekings wat sakeondernemings lamlê, meen Potgieter dat daar niks gedoen word om die situasie te beredder nie.

“Dit is heeltyd ʼn oor-en-weer-stryery tussen politieke partye en die betogers en niks word daadwerklik gedoen nie,” sê hy.

“Intussen is die dorp besig om net nog verder inmekaar te val.

“Hierdie kwessie is ʼn belaglikheid wat net nie end kry nie.”

Terwyl dienslewering in die dorp summier tot ʼn stilstand gekom het, kuier en braai die stakende werkers glo voor die munisipale gebou.

“Hulle hou deurnag partytjies en kinders moet leer,” sê Stronkhorst.

“Dit raak nou ʼn veiligheidskwessie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tikkel Tokkel Jimpels Gogga

Regering het ñ verskriklike hoë toleransie vlak vir BS! Dit is een van SA se groot probleme – die regering se gebrek aan optrede. In die ou SA, was hierdie tipe probleem non-existant en sou so iets gebeur in die verband, sou dit ferm tot fel hanteer gewees het.

Misky

As hulle ‘n vlak 5 munisipaliteit wil wees en daarvolgens salaris kry, moet die omgewing darem so lyk en dis duidelik nie die geval nie. Mens verdien so 5 ster-status, jy “demand” dit nie!!!!

Swerwer

Niks nuuts nie. Raak ontslae van die wat staak en stel mense aan wat wil werk. Hou op om soos ‘n skoot hondjie agter die ANC se geblaf aan te hardloop. Wys ‘n slag die ANC kader dat hul stakings nie langer geduld gaan word nie, en neem die lysels vas en tree op teen die wat staak.

Magda

Ja enige iets om ni te werk ni, gemors. Wees dankbaar vir n werk julle gemors.

Colin

Waar is die DA raadslede en hul kaders nou? Verledejaar toe dit verkiesingstyd was het julle die strate ingevaar en skoon gemaak. Dit was net DA t-hemde waar jy kyk. Handskoene en maskers gedra vir ‘n vale.vNou dat almal hulle kruisies getrek het blaf julle maar net weer soos skoothondjies vir die big bad wolf!