Vier vermeende transitorowers sal Donderdag in verskillende Wes-Kaapse howe verskyn nadat hulle vroeër vandeesweek deur lede van die Valke vasgetrek is.
Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê verdagtes in drie voertuie het Maandagaand ʼn transitovoertuig op die R44 tussen Wellington en Klapmuts gedwing om stil te hou deur op die geldwa los te brand.
Die veiligheidswagte is ontwapen en die verdagtes het met een van die wagte se vuurwapen en ʼn onbevestigde bedrag kontant op die vlug geslaan.
“ʼn Multidissiplinêre span het onmiddellik ʼn ondersoek van stapel gestuur wat tot die inhegtenisneming van ʼn 50-jarige verdagte in die Paarl gelei het. Daar is beslag gelê op een aanvalsgeweer, ʼn pistool, ʼn onbevestigde bedrag geld en ʼn voertuig wat na bewering tydens die rooftog gebruik is,” het hy gesê.
Die ondersoekspan is daarna na Embekweni waar hulle, ná ʼn skietgeveg met die verdagtes, nog drie verdagtes, tussen 31 en 52 jaar oud, in hegtenis geneem het. “Daar is beslag gelê op ʼn koeëlvaste baadjie, nog ʼn voertuig en nog ʼn onbevestigde bedrag kontant,” het Nkwalase gesê.
Hy het bygevoeg die polisie verwag dat nog inhegtenisnemings kan volg.
Dit behoort voornemende beleggers in die wyn en vrugte bedryf baie optimisties te laat.
Mooi man mooi kom wys hul hier in Pretoria hoe word dit gedoen
Wat is ‘n aanvalsgeweer? ‘n Geweer wat iemand aanval?
Hahahaha nee sakkie is n weermag geweer soos n R 1 of R 5 of n AK 47.