Skote klap toe rowers op koeriervoertuig toeslaan

Die voorval het buite ’n winkelsentrum in KwaMashu plaasgevind. (Foto: Netcare 911)

Skote het Woensdagoggend buite ’n winkelsentrum in KwaMashu in KwaZulu-Natal geklap toe rowers op ’n koeriervoertuig toegeslaan het.

’n Insittende van die begeleidingsvoertuig is in die voorval skrams teen die kop getref. Skote is ook op die bestuurder van ’n nasporingsvoertuig afgevuur toe dié ondersoek gaan instel het.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê ’n koeriervoertuig het omstreeks 09:30 buite die Bridge City-winkelsentrum geparkeer gestaan terwyl die span besig was om ’n vrag af te laai.

Die koeriervoertuig se begeleidingsvoertuig was in dié stadium oorkant die pad geparkeer. Die bestuurder van dié voertuig het opgemerk hoe twee onbekende gewapende mans op die koeriervoertuig toeslaan, en het uit die begeleidingsvoertuig geklim.

Die verdagtes het skote op hom afgevuur, maar die koeëls het hom gemis en die agterste venster van die begeleidingsvoertuig getref het. ’n Sekuriteitswag wat ʼn passasier in die begeleidingsvoertuig was, is in die proses skrams teen die kop getref.

(Foto: Netcare 911)

Die rowers kon daarin slaag om vuurwapens en van die vrag soos medikasie en selfone te buit voordat hulle in ’n wegkommotor op die vlug geslaan het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is omstreeks 10:00 na die toneel ontbied om die gewonde veiligheidswag te behandel en na ’n hospitaal te neem.

Volgens Herbst het ’n nasporingsvoertuig wat ten tye van die voorval in die omgewing was, ook vanoggend onder skoot gekom. Die bestuurder van dié voertuig het skote gehoor en nader gery om ondersoek in te stel. Verskeie koeëls het die voertuig getref, maar die bestuurder is ongedeerd.

Mbele sê ’n saak van poging tot moord en roof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Persheks Adri ·

Onwettige wapens en nou nóg wapens in die hande van kriminele! Dit gaan net erger raak

Kokerboom ·

Wat was die funksie van die begeleidingsvoertuig wat boewe laat wegkom het???Klink vir my maar pateties

Louisepretorius ·

Vandat ons ‘ n demmokrasie geword het ‘ het ons land ontaard in robbers en crooks.moord en doodslag is aan Die orde van die dag.

Anoniem ·

Wil net weet waar die blikskottels hul inligting vandaan kry. Hul moet van iewers ingelig word oor die tyd, plek en inhoud van die vrag.

Tiny ·

Geen beheer in hierdie sirkus land nie. Kriminele maak soos hulle smaak, terwyl onskuldige mense die reg ontneem word om hulself te verdedig. Ongelukkig is die enigste ding wat hierdie useless regerig kan tel, geld. Hulle stel nie belang in ander syfers soos misdaad nie……

Nico ·

Kom Bheki Cele en verwyder die onwettige vuurwapens, ek wonder of hy dit ooit sal regkry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.