Skote klap toe Valke op ‘transitobende’ toeslaan

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Vier verdagtes, wat moontlik met transitorooftogte verbind kan word, is Donderdagaand in Pretoria aangekeer ná ʼn skietgeveg in ʼn rustige woonbuurt.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke in Gauteng, het Vrydag aan Maroela Media gesê die polisie se multidissiplinêre taakspan het inligting ontvang dat ʼn transitorooftog Donderdagaand op die N4-snelweg gaan plaasvind.

Daar was sedert die begin van Mei reeds twee transitorooftogte in die Silverton-omgewing, naby en op die N4-snelweg, waartydens G4S-geldwaens, wie se depot in die omgewing is, aangeval en opgeblaas is. Een voorval was op 2 Mei en die ander op 18 Mei.

“Die Valke het inligting oor die beplande transitorooftog opgevolg en dit het hulle omstreeks 18:00 tot in Queenswood [wat naby die N4 en Silverton geleë is] gelei waar beamptes drie verdagtes opgespoor het wat met ʼn gesteelde bakkie gery het,” het Mulamu gesê.

ʼn Jaagtog het ontstaan waartydens skote oor en weer in dié woonbuurt geskiet is. Die bakkie het op die hoek van Grant- en Barretstraat teen ʼn ander voertuig gebots, waarna die drie verdagtes in hegtenis geneem is. Twee van die verdagtes is tydens die voorval gewond en onder polisiebewaking na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

“ʼn Vierde verdagte is ook in hegtenis geneem wat na bewering die drie verdagtes toegang tot sy huis gegee het. Die verdagtes het na bewering daar die rooftog beplan.”

Mulamu het berigte op Times Live as “pure nonsens” afgemaak wat beweer ʼn “huiseienaar” is tydens die voorval doodgeskiet nadat ʼn klopjag glo op die verkeerde huis uitgevoer is en dat twee drawwers ook tydens die voorval gewond is.

“Net die twee verdagtes is geskiet en gewond. Die enigste ander beserings wat aangemeld is, is ʼn lid van die publiek wat met die voertuig gery het waarteen die verdagtes met hul bakkie gebots het,” het sy gesê. Die motoris is vermoedelik ʼn vrou.

Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, het ook bespiegelinge in die artikel verwerp en dit as “ʼn hele vervaardiging van leuens” afgemaak.

Kapt. Ilze Jones, die gebied se polisiewoordvoerder, kon nie oor die voorval kommentaar lewer nie aangesien die ondersoek deur die Valke behartig word.

Ancelize van der Kooi, woordvoerder van Kilnerpark Sekuriteit, wat op die toneel was, het bevestig dat die botsing plaasgevind het waarin die bakkie, ʼn Ford Ranger, en ʼn ander voertuig betrokke was en dat twee verdagtes tydens die voorval geskiet is. “Een van die verdagtes was in ʼn kritieke toestand toe hy na die hospitaal geneem is,” het sy gesê.

Mulamu het gesê die verdagtes sal aangekla word van sameswering om ʼn misdryf te pleeg en die besit van ʼn gesteelde voertuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leeu ·

Mense wat TimesLive lees en glo moet hul koppe laat lees, die mees onbetroubaarse bron vir nuus.

Tania ·

Daar moet dalk beter info gegee word en nie kommentaar aanvaar wat daar seker mense nie eers op toneel was nie. Ons wat op toneel gewerk het, en direk met die hawks geprt het weet meer as die wat voorgee hulle doen. So asb al die koerante wat duim storie skryf maak seker v julle feite.

Info ·

Nou gooi julle feite dat die MEDIA Die regte feite kan publiseer. Moet dan nie terughou nie .. LAAT WAAI!

Meraai ·

Mens skrik nogal as daar skielik ‘n klomp skote baie naby aan jou huis geskiet word. Ek het eers gedink dis dalk weer ‘n transito rooftog, want jy wag vir die ontploffing. Kilnerpark het toe vir ons gese dis ‘n jaagtog, want daar is vreeslik baie polisie verby ons huis. Na die 2de lot skote het ons besluit om maar vir liefs die sitkamer verlaat en in n ander deel van die huis weg van die straat te gaan sit.

Michael ·

Mense Iets wat ek nie so lekker verstaan nie. Ek sit nou by n diens stasie en een van die geld waens stop hier om n kits bank te diens. 2 min later gaan die deur aan die kant oop en 2 swaar gewapende wagte klim uit neem stelling in en n derde ou klim uit en doen die werk .Nou my vraag is as hulle die geld wa op blaas wanneer kom die twee wagte uit die wa ek het nog nie gehoor die wagte word ook op geblaas nie. As die wagte nooit seer kry nie of word die deure vir die rowers dan oop gesluit.Hoekom moet daar dan plofstof tussen mense gebruik word kan iemand dit verduideli ASB.

Koos1 ·

Daar is ‘n kluis of kluise (“dropboxes”) binne in die voertuig, waartoe die wagte nie toegang het nie. Daar is nog ‘n klomp ander dinge ook, maar elke voertuig verskil, juis omdat dit so ‘n hoë risiko is.

Dye Pack ·

Daar is nerens in SA meer ‘n RUSTIGE buurt nie. Vandat mense toegelaat word om te loiter sonder enige vervolging of straf, vandat mense toegelaat word om geldwaens te beroof en onskuldige mense in hulle huise aan te val of terwyl hulle langs ‘n vuurtjie sit en braai is daar GEEN rustige woonbuurtes erens meer nie …

Pieter ·

Geluk aan die mense wat die spul misdadigers gevang het en so die rooftog verhoed het. Misdadigers moet geweldadig behandel word, meer as wat die misdadigers gebruik. Miskien kry hulle dan die boodskap

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.