Skote klap tydens Pta-transitoroof

Foto: Verskaf.

Die Gautengse polisie ondersoek ʼn saak van transitoroof ná ʼn Fidelity-transitovoertuig Woensdag opgeblaas is.

Sers. Sam Shibambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 19:00 in Eersterust in die ooste van Pretoria plaasgevind.

“Die voertuig was na bewering op pad na die Pick n Pay-winkelsentrum op Hans Coverdale-weg toe dit skielik deur ʼn groep swaar gewapende verdagtes aangeval is. Die voertuig is glo oopgeblaas en die verdagtes het op die vlug geslaan met ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant,” het Shibambo gesê.

Niemand is tydens die voorval beseer nie. Volgens Shibambo het die verdagtes in ʼn wit Audi A3 en ʼn wit Hyundai I20 van die toneel gevlug.

“Die polisie is in kennis gestel van die motors en die polisie het hulle gevolglik in die Derdepoort-omgewing gewaar. Die verdagtes het glo op die polisie losgebrand en een beampte is gewond,” het Shibambo gesê.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Shibambo het die publiek gevra om te help om bedrog, korrupsie en onetiese en verdagte gedrag by die polisie se provinsiale bystandnommers op 082 313 8299 en 082 444 4354 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.