Skote klap tydens transitorooftog

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Die polisie in Mpumalanga is op soek na ʼn groep gewapende rowers wat Maandag ʼn transitovoertuig by ʼn pensioen-uitbetalingspunt naby Standerton beroof het.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het by die Sakhile-gemeenskapsaal gebeur terwyl beamptes en veiligheidswagte besig was om vir die dag se uitbetalings voor te berei. “Die beamptes het gehoor hoe ʼn vuurwapen oorgehaal word en toe besef hulle word aangeval,” het Sedibe gesê.

Gewapende rowers het die beamptes opdrag gegee om op die grond te lê en die kluis se sleutels te oorhandig. Die rowers kon daarin slaag om van die veiligheidswagte se vuurwapens af te neem en hulle het twee sakke kontant en vier leë geldhouers uit die transitovoertuig geroof.

“Voor hulle kon vlug, het daar ʼn skietgeveg tussen die wagte en die verdagtes ontstaan. Ons vermoed een van die verdagtes is gewond, maar sy makkers kon daarin slaag om hom saam te neem toe hulle gevlug het,” het Sedibe gesê.

Twee van die verdagtes se vuurwapens is later naby die toneel gevind. Een van die drie voertuie wat die verdagtes gebruik het om te vlug, is later ook verlate in Cosmos Park in Sakhile gevind. Volgens Sedibe was drie van die leë geldhouers en een sak kontant, wat nog nie oopgemaak was nie, in die voertuig gevind.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. “Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, om konst. Linah Cornelius by 017 714 7149 te bel,” het Sedibe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ashlee ·

Regtig!!! Die polisie vra nie net aldag hulp nie, maar die kontak is n konstabel?? In ander Lande word so n versoek behartig deur top bestuur.

Amelia ·

Ja, die ANC het alle beheer oor hul aanteel kuddes verloor.

Cherokee ·

Ek lei af die jare-oue-vertelling dat fassiliteite bestaan wat geld vlek en onbruikbaar maak wanneer geldtrommels oopgeforseer word, is bloot ‘n village-rumour (lees wolhaarstorie). Indien daar werklik so iets sou wees sou transitorooftogte nie bestaan het nie. Dit sou egter ‘n kleinigheid wees om so iets te ontwikkel maar niemand is werklik bekommerd nie. Betaal liewer ‘veiligheidswagte’ se salarisse terwyl hulle gewoonlik maklik orrompel word.

Alida ·

Hoe flippen dom is die mense nie. Hoe op aarde kan hulle nog pensioene kontant uitbetaal!!!! As jy nie ‘n bankrekening het nie kry jy nie geld nie. So maklik soos dit. Hulle behoort mos te weet dat die rowers die betaalpunte gaan teiken. Liewe hemel gee krag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.