Skrap brandstofheffing nóú – DA

DA-leier John Steenhuisen tydens Donderdag se vergadering. (Foto: DA)

Die brandstofprys sal volgende week na verwagting met amper R4 styg en toeneem tot naastenby R25 per liter.

Die DA waarsku dit gaan voedselpryse selfs verder opjaag en ʼn verwoestende slag wees vir miljoene arm huishoudings wat reeds sukkel om kos op die tafel te sit.

DA-leier John Steenhuisen sê indien die styging nie gestuit word nie, gaan miljoene meer mense in armoede gedompel word, sakeondernemings kan gedwing word om hul deure te sluit en massabetogings kan op hande wees.

Die Reserwebank het die afgelope week in ʼn verslag oor die land se finansiële stabiliteit ook hieroor gewaarsku. “Die voortsetting van stadige en ongelyke ekonomiese groei, tesame met die disproporsioneel groter uitwerking van stygende voedsel- en vervoerkoste op laerinkomsteverdieners – wat gewoonlik tussen 40% en 45% van hul inkomste hieraan bestee – verhoog die moontlikheid van verdere voorvalle van maatskaplike oproer,” lui die verslag.

Die tydsberekening van die styging kan ook nie op ʼn slegter tyd kom nie. Suid-Afrikaners steier reeds onder ʼn werkloosheidskoers van 46%, voortslepende beurtkrag, irrasionele Covid-19-regulasies, oorstromings, droogte en dienslewering wat al hoe meer in duie stort.

Pak hierop die uitwerking van wêreldwye inflasie, ontwrigtings aan die verskaffingskettings en verbodsbepalings op uitvoere vanuit Rusland weens sy inval van Oekraïne.

“Dit is duidelik ons is op pad na die perfekte storm,” sê Steenhuisen.

Hy sê ook dit is ondenkbaar dat die regering Suid-Afrikaners wil bykom met ʼn enorme styging in die brandstofprys en bestempel dit as die skop van mense wat reeds op hul knieë is.

https://twitter.com/jsteenhuisen/status/1529403960737648643/photo/1

“Suid-Afrikaners kan bloot nie bekostig om R25 per liter vir brandstof te betaal nie – en hulle moet ook nie,” sê Steenhuisen.

Die brandstofheffing is vroeër met R1,50 verminder, maar dié toegewing verval binnekort. Dit beteken ʼn prysskok soos min op verbruikers by vulstasies.

Die brandstofprys is een van die laaste oorblywende gereguleerde en sentraal beheerde verbruikerspryse. Steenhuisen sê egter dit word hopeloos oorbelas, met 33% van die koste per liter wat in die regerings se koffers gestort word. Hieraan moet ʼn einde gemaak word.

Die DA sê brandstof in Swaziland, Mosambiek, Botswana, Tanzanië, Namibië en Kenia is gemiddeld R5/liter goedkoper as hier – omdat hul regerings dit nie so swaar belas nie.

“Die Suid-Afrikaanse regering kan iets doen om die brandstofprys in Suid-Afrika te verlaag, maar hy kies om dit nie te doen nie.”

Die speaker van die parlement het reeds ingestem tot die DA se versoek vir ʼn dringende debat oor stygings in die brandstofprys, asook maniere om die prys te verlaag.

Die DA maak ook verskeie voorstelle oor hoe daar ingegryp kan word. Dit sluit in:

  • Die skrap van die algemene brandstofheffing
  • Kwytskelding van die padongelukkefondsheffing
  • Deregulering van die brandstofprys

Steenhuisen het ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om saam te werk om ʼn daling in die brandstofprys te help bewerkstellig sodat massahongersnood en -lyding afgeweer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Roebs ·

Kan hulle asb die geld wat hulle vir Kuba wou gee dit gebruik om die petrol prys te bestry ooo ja en ook die R22 miljoen se vlag se geld terug sit in ons land.

Burgermeester ·

Dit is belaglik. Die brandstofpryse gaan op, maar die toestand van ons paaie verswak. So … waarheen gaan die geld? Die geld word nie gebruik vir wat dit bestem is nie.
Ek sukkel om inligting te kry wat wys hoeveel persentasie punte van die brandstofprys gaan aan die padfonds, ens. Kan iemand vir my ‘n ekonomiese ekstra klasse aanbied asseblief?

Manie ·

48% van die brandstofprys is die basiese brandstof koste, 33% is brandstof belastings en heffings, 14% daarvan is winsmarges en 5% aan berging en verspreidings kostes.

Jean ·

Die regering sal nooit die prys minder maak nie, meeste van daai geld gaan in iemand se sak.

marius ·

Korrek. Die miljoene per maand om soos konings te leef moet steeds inkom.

Jacobus ·

Jy is reg en om taxi subsidies te betaal. Het jy al ooit die taxis sien betoog oor brandstof verhogings?

TRP ·

As die reservebank praat sal ek liefs luister maar alas, dit is net ‘n droom. Ek vrees elke dag vir die dag wat die kameel se rug breek en wat ons nou as gaos sien, ‘n vulletjie sal wees van wat gaan kom.

domheks ·

Wat gee CR en die kaders om? CR kry R3,000,000 per jaar en ons betaal vir hulle onthaal, voertuie, brandstof ens. ens. ensovoorts. Wat weet hulle van sente omdraai?

JohanR ·

Hoe verwag jy dan John Steenhuizen dat die kaders hulle splinternuwe karre moet kan bekosting?

May10 ·

Hulle voel n F ,want hulle betaal nie daai geld nie. Ons belasting betaal lekker hulle lewe.

domheks ·

Ek het ‘n voorstel – kom ons gaan plak by die kaders se huise tot ons antwoorde kry!

Jack ·

Dit is nou al bietjie te laat om iets aan die petrol prys te doen.Solidariteit het al briewe geskryf einde laasjaar en petisies maar verniet.Die regering steur hom aan niemand.As die nuwe prys in werking tree kan ons maar regmaak vir chaos.Armoede,misdaad,werkloosheid en betogings.Wie gaan eet en wie gaan kyk ? Dit vir sommige net nie meer lonend wees om te gaan werk nie.Ander sal nie basiese voedsel kan aankoop nie.Kom ons kyk of die DA die storm kan draai.

Lourens ·

Vra eerder watter deel van ons brandstof kom uit steenkool en watter deel uit olie? Want die hele prys – selfs die steenkoolpetrol en -diesel -word op die ru-olieprys gebaseer. (Kyk maar na jou prys van SASOL petrol) Dis ‘n ingevoerde verhoging omdat die onbevoegde regering veroorsaak dat die wisselkoers deurentyd verswak.
Wat my betref kan hulle R2 per liter hef en BTW na 20% toe stoot, en in ruil daarvoor persoonlike inkomstebelasting afskaf. Dit sal maak dat diegene wat die meeste verbruik ook die meeste bydra. En voordat almal nou weer kom sê die verhoogde BTW sal die armes armer maak: basiese voedselsoorte is reeds vrygestel van BTW. So as jy luukser goedere wil koop, betaal maar.

Skuilnaam ·

Arme, patetiese, ou DA. Blaf soos ‘n klein hondjie, maar het geen byt nie…

marisa ·

Ten minste probeer hulle – hulle is nie rekenaar warriors soos meeste van ons wat nie eers sy naam kan gee nie!!!

andre ·

Watter byt het die ander partye? Hulle blaf nie eers nie. Hoekom neem JY nie leiding nie, en wys ons watter byt het JY.

Carel ·

Wat my die josie in maak is dat SASOL oorspronklik gestig/gebou is om die SA publiek te BESKERM.

SASOL hou aan om brandstof prys verhogings aan te pas, saam met olie pryse . . . terwyl hulle inset rou materiaal is nie olie nie, maar skalie gas.

HOEKOM KAN SASOL NIE DIE HEMEL HOË PRYSE SUBSIDIEER NIE ?!?!?

Skuus; het vergeet. Kaders vreet te lekker aan die privatisering aandele wat hulle gekry het, net nadat die ANC sy BEE-kloue in SASOL ingeslaan het.

Petrol heffing betaal vir SASSA subsidies . . . . daar is GEEN EINDE aan ons probleme nie

Anel ·

En wat maak hulle met die “admin koste” van R70.00 wat hulle jaarliks op ons voertuiglisensies hef? Dit sou ook ‘n eenmalige bedrag van R15.00 wees en kyk nou!Die ANC verarm net die land. Hoogtyd dat ons van hulle ontslae raak!!

Harley Davidson ·

As die regte mense net in beheer was kon hiérdie ‘n voorspoedige land gewees het .

Impartial ·

Mense, hier is groot dinge op ons voorstoep. Nie meer lank nou nie.

annie ·

Die regering laai die petrolprys en dan gee hulle weer liefies die winste terug vir die verwoede stakers met salarisverhogings. En dan is daar nog Eskom en Denel en…

Papsak ·

Dankie vir DA hulle probeer om ons te help met hierdie hemel hoe petrolpryse baklei vie dit DA baie dankie

Manie ·

Die regering se verduideliking oor hoe hulle die brandstofprys bereken is ‘n infame leuen. Enige persoon wat basiese wiskunde verstaan kan die som maak. Daar is absoluut GEEN rede waarom ons meer as R13.00 -R14.00 per liter brandstof hoef te betaal nie, dalk selfs ‘n raps minder, afhangende van die olieprys en wisselkoers. Koop eenvoudig ruolie aan waar dit ookal die goedkoopste is. Dit kos gemiddeld niks meer as R10.25 om ‘n liter brandstof vanaf ruolie te vervaardig nie. Die spilpunt van die land se ekonomie draai om die brandstofprys, want dit beiinvloed alles. Reguleer dus die prys en hou dit so laag as moontlik, dan kan die ekonomie kop optel en groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.