Skrap e-tol, hoor ondersoekpaneel

Argieffoto

Argieffoto

Die vakverbond Fedusa het Woensdag tydens die eerste openbare verhore oor die sosio-ekonomiese impak van die e-tolstelsel op Gauteng, gesê die stelsel moet geskrap word en dat diegene wat reeds vir e-tol betaal het hul geld moet terugkry.

Junior Gys, woordvoerder van Fedusa, het tydens die verhoor gesê die e-tolstelsel moes nooit geïmplementeer geword het nie. Hy sê daar was ‘n gebrek aan konsultasie met padgebruikers en dat die invordering van e-tol baie duur en ‘n las is.

Die openbare verhore vorm deel van David Makhura, die premier van Gauteng, se paneel wat ondersoek moet instel na die sosio-ekonomiese impak van die e-tolstelsel op Gauteng.

Gys meen die brandstofheffing is ‘n meer regverdige manier om die nodige fondse in te samel om Gauteng se padnetwerk uit te brei en in stand te hou.

Die vakverbond Cosatu het op sy beurt gesê indien die brandstofheffing gebruik word om Gauteng se hoofweë te befonds beteken dit dat niemand aangestel hoef te word vir die invordering van e-tolgelde nie.

Dumisani Dakile, Cosatu se sekretaris in Gauteng, het aan die paneel gesê ‘n bykomende 14c per liter op die brandstofheffing sal voldoende wees om aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se befondsingsbehoeftes te voldoen.

Die vakverbond Nactu het op sy beurt aangevoer dat die brandstofheffing die afgelope paar jaar R40 miljard tot die nasionale begroting bygedra het.

Thulani Khumalo, Nactu se projekbestuurder, het voorgestel dat Nedlac as ‘n forum gebruik word waar die regering, sakelui en arbeidsorganisasies e-tol en alternatiewe befondsingsmeganismes kan bespreek.

Sake-groepe se voorleggings sal op 28 en 29 Augustus aangehoor word, burgerlike instellings van 1 tot 3 September, inligting- en kennisinstellings op 4 September, en vervoerorganisasies se voorleggings sal op 8 en 9 September aangehoor word.

Die paneel sal ook in September openbare vergaderings in Pretoria, Johannesburg, Ekurhuleni, Sedibeng en aan die Wes-Rand hou.

Die paneel sal maandelikse verslae indien en moet teen 30 November ’n finale verslag en voorstelle aan Makhura verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SNEL ·

Maak nie eers saak of geld terug betaal word of nie, stop dit net. Ja, skarp dit, want geen mens kan meer met n lekker gevoel op daai paaie ry nie. Dit was van die begin af n ondeurdenkde gedagte wat tot aksie oor gegaan het.

Riaan ·

Dink net hoe mooi gaan ons paaie hier in die PWV lyk as elke e-tjol hek met rankrosies toegegroei is? Dit is n baie beter gebruik van die hoenderstellasies as om kameras en ligte daaraan op te hang…

Anita ·

Dat dit geskrap moet word is ‘n voldonge feit, maar die ondersoek na Wie almal ontvang inkomste uit die projek moet ontblooyt word en die inkomste gekonfiskeer word.
en waar gaan die inkomste heen na aanleiding van gerugte dat ‘n Oostenryk se maatskappy betrokke is. Van waar/uit welke bron het die SA fondse ontstaan? wie? name van persone was by die finale besluite betrokke? en was daar enige onder die tafel geld verwisseling.?

Die terug betaling van heffings aan persone moet definitief terug betaal word.

Dit moet nie net bly eensydig by hierdie spesifieke toll nie maar daar moet ondersoek gelas word na enige toekomstige desgelyke toll oprigtings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.