‘Skrap gesondheidsregulasies’, vra VF Plus

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die VF Plus het Saterdag sy kommentaar teen die voorgestelde gesondheidsregulasies ingedien waarin hy vra dat dié regulasies, wat die regering in werking wil stel wanneer die ramptoestand einde ten laaste opgehef word, in geheel geskrap moet word.

Die party het ook reeds verlede week tydens ʼn vergadering met die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, gevra dat die regering wegdoen met die voorgestelde regulasies.

Philip van Staden, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, sê kommentaar van lede van die publiek en ander belanghebbendes gee ʼn duidelike boodskap weer dat daar wye teenstand teen die regulasies bestaan.

Hy voorsien boonop dat beswaar teen die voorgestelde gesondheidsregulasies in die komende week nog sterk sal uitkring nadat die sperdatum vir openbare deelname tot Sondag (24 April) verleng is.

“Die VF Plus meen dat die wysigings niks anders is as ʼn verskuiwing van politieke mag vanaf die een minister na ʼn ander nie. Die ANC wil op hierdie wyse sy magsmisbruik van die ramptoestand voortsit nadat pres. Cyril Ramaphosa dit ná 750 dae op 4 April opgehef het.

“Die doel van die voorgestelde regulasies is bloot om die regulasies van die Covid-19-ramptoestand te vervang.”

Die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies kry die afgelope maand toenemend die wind van voor.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig die organisasie Freedom of Religion SA (FOR SA) het die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe gevra om in te gryp by die minister se regulasies, terwyl die DA in ʼn ope brief aan Phaahla sy ontevredenheid te kenne gegee het.

Van Staden wys nou daarop dat die departement van gesondheid reeds in ʼn finansiële penarie verkeer weens korrupsie, wanadministrasie, wanbestuur en groot regskoste weens mediese nalatigheid. Die departement kan dus nie verdere hofsake bekostig nie.

“Dit is belangrik om ʼn verenigde front te vorm teen hierdie jongste poging tot magsmisbruik van die ANC-regering en om saam toe te sien dat die voorgestelde regulasies in die kiem gesmoor word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.